WAAROM VIER ONS MORE HEMELVAART?

HEMELVAART

Ascensionis Domini (Latyn vir Hemelvaart)

Hand.1:11: “Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar ..."

Op Hemelvaartsdag  vier Christene dat Christus ná die kruisiging en opstanding in die hemel opgevaar het en woon talle van hulle 'n herdenkingsdiens by.

Hemelvaart beteken in die Christendom  die terugkeer van Jesus van Nasaret na sy Vader in die hemel. Die Lukas-evangelie  en Handelinge van die Apostels vertel die verhaal van hoe Jesus ná die Opstanding verskeie kere aan sy apostels en volgelinge verskyn het. Ná veertig dae styg Hy op na die hemel en word sig van Hom deur 'n wolk belemmer  terwyl sy volgelinge toekyk.

Hemelvaartsdag val altyd op die veertigste dag gereken vanaf Eerste Paasdag, vandaar dat die datum elke jaar verskil. Hemelvaartsdag val wél altyd op 'n Donderdag. Hemelvaartsdag val tien dae vóór Pinkster.

Reeds uit die geskrifte van die Apostoliese Vaders blyk die gebruik om Hemelvaart te herdenk (Polycarpus van Smirna, Justinus die Martelaar en Irenaeus van Lyon). Die hemelvaart van Jesus word ook gemeld in die geloofsbelydenisse van Nicea en dié van Konstantinopel.

In baie lande, waaronder België, Colombia, Denemarke, Duitsland, Finland, Frankryk, Groenland, Haïti, Ysland, Indonesië, Liechtenstein, Luxemburg, Madagaskar, Namibië, Nederland, Noorweë, Oostenryk en Switserland, is Hemelvaartsdag 'n vakansiedag in die middel van die week. Daarom word die Vrydag daarna ook "Vaak Vry" genoem. Baie Christene in ander lande sal ook 'n kerkdiens of mis besoek op hierdie dag. In ander lande, byvoorbeeld Hongarye, Italië, Pole, Portugal en Spanje, gaan mense kerk toe op die Sondag ná Hemelvaart.

In Suid-Afrika begin ware Christene nou weer meer bewus raak van die belangrikheid van Hemelvaart ná 'n tydperk waarin daar nie genoeg aandag aan geskenk was nie.  Predikante van behoudende kerke hou op Hemelvaart 'n diens waar Christene hulle in dankbaarheid kan gaan verootmoedig vir die groot geskenk van Jesus toe Hy ons sonde aan die kruis gestraf het deur te sterf, op te staan en lewendig na die hemel te vaar waar Hy aan die regterhand van sy Vader wag vir die Wederkoms om sy kinders te kom haal.  Luister wat sê die twee engele vir die dissipels na afloop van die hemelvaart in Hand.1:11: “Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar ..."