AKTUELE VRAE
(Lees reeks by Aktuele vrae )
Word mense wat nie aan die “regte kerk” behoort nie, ook salig, al verskil hulle leer radikaal van die “regte” kerk s’n?
Voordat ons hierdie vrae kan antwoord, moet ons eers bepaal wat ons bedoel as ons van ‘n kerk praat. In Grieks praat ons van ‘n kuriakon, dit wil sê iets wat aan die Here behoort. As ons na die Latynse woordeboek gaan, kry ons te doen met ’n woord wat afgelei is van die stam circ, dit is ‘n begrensde ruimte, of nog beter, ‘n sirkel. As ons dan van ‘n kerk praat, verwys ons daarmee na “’n sirkel waarvan die inhoud aan die Here behoort.”
’n Gesaghebbende op hierdie gebied het na diegene wat aan die “sirkel wat aan die Here behoort”, verwys as ‘n “uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot die wonderbare lig...” Hierdie gesaghebbende was die apostel Petrus. (1 Pet 2 : 9).
Die Here Jesus het in Joh 1 die kerk ‘n “stal” genoem. In Joh 10:1 lees ons dat Hy praat van ‘n stal met net een deur. Hierdie deur is dan niemand anders as Hy self nie. (Joh 10:7).
Watter kerk is dan die regte kerk? Die regte kerk is dié kerk wat vir Jesus Christus as enigste deur het.
Hoe kan ons van ‘n persoon praat as die deur van die skaapstal? Die skaapstal en -kraal van die Bybelse tyd was dikwels ‘n begrensde ruimte van óf klippe óf doringtakke. Die goeie herder jaag sy skape die stal binne en dan gaan sit hy in die enigste opening in daardie 'muur.' Dáár sal hy in die loop van die nag sit en kos maak en dáár sal hy later lê en slaap. Die skape kan nie uitgaan nie, tensy hulle bo-oor die herder klim. So kan niks of niemand die stal ook binnekom, behalwe bo-oor die herder nie. Daarom lees ons in Joh 10:11: “Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.”
Die regte kerk is dus dié kerk wat Jesus Christus as die deur en die enigste goeie Herder aangeneem het en Hom as sodanig verkondig.
Ons tweede vraag was of lidmate van ander kerke wat van die regte kerk verskil, ook salig word?
Daar bestaan vandag heelwat verskille tussen die verskillende kerke. Die een vra baie water as hy gedoop word, die ander sê die hoeveelheid water het niks met jou saligheid te doen nie. Die een glo in die wonder van die sogenaamde “second blessing”, die ander glo in die wonder van ‘n derde, vierde en vyfde seën van Bo. Die een wil graag in tale spreek, die ander stel sy visier op ‘n ander doelwit, die liefde.
Die verskille is daar omdat ons nog nie in die hemel is nie. Ons moet mekaar maar voortdurend vermaan en leer om die klitsgras uit die kudde te verwyder. Waar die verskille van so ‘n aard is dat Jesus nie as die enigste deur aanvaar word nie, kan ons verseker wees dat daardie persone nie toegang tot die stal gevind het nie. Hulle staan buitekant God se sirkel. Jesus verklaar in Joh 14:6 dat Hy die enigste ware lewende weg tot die Vader is en dat niemand by die Vader kan kom as deur Hom nie.
Die ware kerk? Hulle wat Jesus Christus as hulle Verlosser aangeneem het!