PASOP WAARNA JY LUISTER!

WAT SÊ DIE WOORD VAN GOD OOR MUSIEK?

Wie het die eerste musieknote voortgebring? In Job 38:7 sien ons toe God die aarde gegrond het, sy afmetinge bepaal en sy fondamente ingesink het, die môresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig het. Die klank van musiek was dus by die skepping reeds hoorbaar.

In die begin het God 'n engel geskape en aan hom die vermoë gegee om musiek te maak om die lof van God te besing. Dié engel is inderdaad met musiekinstrumente in sy liggaam geskape (Eseg 28:13-14). Dit was Lucifer wie se naam beteken ligdraer of môrester. In Jes 14:12 word hy "seun van die dageraad" genoem.  Esegiël verwys na hom as gérub en gesalfde. God het Lucifer geseën met 'n spesifieke salwing vir die bediening van musiek.

Dit is duidelik dat Lucifer in die hemel gewoon het – hy was die gérub met uitgespreide vlerke wat beskut. In die hemel was dit Lucifer se taak om die troon van God te oordek en beskut.

Daar is baie voorbeelde in die Bybel van 'n engelekoor wat God se lof besing. Lucifer was die koorleier en het die koor in lofsang en aanbidding tot God gelei. Musiek was 'n Godgegewe opdrag en iets waarin die Here behae geskep het.

Hoogmoed het egter in Lucifer se hart ontkiem by aanskoue van sy eie skoonheid en voortreflikheid. Hy het rebels geword by die aanname dat hy self kwalifiseer vir lofprysing en aanbidding. Hy het een derde van die engele oortuig om in aanbidding voor hom te buig. Daarop het God hom uit die hemel verban. In Lukas 10:18 sê Jesus dat Hy hom soos 'n bliksem uit die hemel sien val het. Ons lees egter nêrens dat God die gawe vir musiek van hom weggeneem het nie. Die dag waarop Lucifer tot 'n val gekom het, het musiek saam met hom geval. Musiek, wat bestem was as lofprysing aan God, het nou ook wêrelds geraak.

Die musiek wat Satan met hom saamgeneem het, word nou musiek van die graf. Hierdie musiek maak aanspraak op ons laer, gevalle natuur. Die lofoffer aan God is van sy waarheid ontneem en die verdorwe offer, Satan se musiek, is op die aarde neergewerp.

Musiek oefen 'n diepgaande invloed op ons uit. Ons kan kies of ons na musiek wil luister wat immoraliteit, rebellie, okkultisme, owerspel, dwelmmiddels en groot verval aanmoedig, en of ons wil luister na die 'hemel' se musiek wat opbouend en bevorderlik is. Want met die verkeerde musiek kan jy al die krag van die Woord van God in jou onderbewussyn uitkanselleer. Wees versigtig waarna jy luister!