ISLAM SE AANSLAG OP DIE CHRISTENDOM
Woorde soos “Moslem” of “ISIS” lok waarskynlik baie verskillende reaksies uit. Sommige sal iets van “Mohammedane” mompel, terwyl ander dalk ‘n beklemming om die hart kry omdat ‘n mens aan die gruwels uit die Nabye Ooste dink waarvan ons onlangs in Suid-Afrika begin hoor het. En omdat dit iets is wat “daar vêr” gebeur kan nog ‘n persoon onaangeraak die skouers ophaal en aangaan met die dagtaak.
As ‘n Christusgelowige kan ‘n mens egter nie geheel en al hierdie saak uit die oog verloor nie want vroeër of later sal elke persoon daarmee gekonfronteer word. As voorbeeld kan ‘n mens na die geloofstoestand in Frankryk kyk: ongeveer tien jaar gelede was daar sprake dat die Islam alreeds die grootste belydende godsdiens in Frankryk is. Dit is dus nie uitgesluit dat Islamitiese politieke partye binnekort in Europa vorendag sal tree nie, en dan? Die Islam is in aanmars, of ons dit waar wil hê of nie, en êrens langs die pad moet ‘n mens ten minste verstaan hoe hierdie godsdiens se argumente werk. Selfs al sou ‘n mens geensins belangstel in Europese of Nabye-Oosterse wêreldgebeure nie, kan dit net sinvol wees om ‘n slag die basiese lyne van die Islam onder die knie te kry om daardeur die waarde van ons eie protestantse geloof in die Here Jesus Christus van nuuts af te waardeer.
Islam – “die weg van vrede”
Volgens Moslems lê daar ‘n godsdienstige ontwikkeling agter die Islam. Islam-aanhangers verduidelik dit soos volg: Allah het probeer om vir die mensdom ‘n godsdiens te gee waarvolgens hy aanbid moet word, en wat vir vrede op aarde sou sorg. Eers het Allah die Jodendom geskep, maar dit het nie gewerk nie – daar was te veel probleme omdat die Jode nie die gebooie gehoorsaam het nie. Daarna het Allah die Christendom probeer, maar dié het ook nie gewerk nie. Maar met die derde probeerslag het Allah die Islam geskep, en dit is die perfekte godsdiens vir die wêreld omdat dit vrede op aarde bring. Die bewys daarvoor is kwansuis dat Moslems nie met mekaar oorlog maak nie.
Om hierdie standpunt verder te verduidelik hoef ‘n mens slegs na die naam en die gewoontes van die Islam te kyk: “Salaam” is die Arabiese woord vir vrede. Daarom groet Moslems mekaar met die woorde “Salaam!” of “Salaam Aleikoem!” Dit beteken “Vrede!” of “Vrede met jou!” Die passende teenantwoord is dan “Aleikoem Salaam!” – “Mag vrede met jou wees.” Die woordjie “Islam” kan vertaal word met “Die weg van vrede” of “Die manier van vrede” maar dit word verstaan as “Onderwerping” of “Knegskap” terwyl “Moslem” weer iets soos “volgeling van die weg van vrede” of “Aanhanger van die onderwerping” beteken. Teoreties verstaan die Moslem die saak so dat, waar die Islam die heersende godsdiens is, daar outomaties ‘n toestand van vrede is, of dat vrede ten minste geskep word wanneer die reëls van Islam gevolg word. Ons wat nie Moslems is nie, word as slawe van ons “onsuksesvolle godsdiens” beskou en daarom moet ‘n mens ‘n nuwe naam ontvang sodra jy in die Islam ingelyf word.
Die Islamitiese “teologie”
Wanneer ‘n mens na die “teologie” van die Islam kyk, is daar enkele sake wat baie gou uitstaan: ‘n Moslem is vas aan sy of haar geloof, en dit is genade wanneer iemand daaruit tree. Streng gesproke moet enige persoon wat die Islam verlaat, doodgemaak word. In die westerse wêreld is hierdie praktyk onwettig en onbekend en word ‘n “afvallige” gewoonlik slegs geheel en al uit die betrokke samelewing uitgeskuif. Hierdie sensuur deur die Islamitiese gemeenskap, familie en gesin maak dit bitter moeilik vir Christusgelowiges binne die Islamitiese gemeenskappe om openlik hulle geloof in Christus te bely.
‘n Tweede belangrike saak is dat die Islam soos enige ander afgodsdiens ‘n verdienste-godsdiens is. Volgens Rom 1:17 word ons gered omdat ons glo, en selfs die geloof waarmee ons gered word is ‘n gawe van ons almagtige hemelse Vader. In die Islam werk die saak egter anders: ‘n mens kom tot die oortuiging dat die Islam die weg na die saligheid is, en neem dan ook die besluit om Moslem te word, dit wil sê om jouself aan Allah te onderwerp. Van daar af moet ‘n mens voortdurend die guns van Allah verdien of afkoop of behou deurdat ‘n mens so nougeset moontlik die reëls van die Islam volg. En wanneer ‘n mens dan genoeg gedoen het, sal ‘n mens gered word tot die ewige saligheid, riviere van heuning en 72 maagde. Die optrede en verdienstelikheid van ‘n Moslem bepaal dus redding, en Allah bewys sy liefde en genade deurdat hy diegene red wat dit verdien het.
‘n Derde aandagpunt is die Moslem se verstaan van die Koran. Binne ons protestantse Skrifverstaan is daar ruimte om te praat oor die agtergrond en doel van ‘n gegewe Bybelteks, maar daardie gesprek is geheel en al onaanvaarbaar vir ‘n Moslem. Die Moslem glo dat die oorspronklike Koran in die hemel is, en dat die Koran deur die engel Gabriël aan die profeet Mohammed in ‘n sekere aantal verskynings geresiteer is. Die Islam ontken dus geheel en al enige menslike betrokkenheid of invloed in die ontstaan van die Koran, behalwe die afskryfwerk wat Mohammed se sekretaris gedoen het. ‘n Teks soos Luk 1:3 waar Lukas self sy skryfwerk erken is geheel en al ondenkbaar vir ‘n Moslem omdat dit afbreuk doen aan die eer en waardigheid van Allah. Enkele jare gelede is ‘n Islamitiese geleerde in Egipte uit die derde verdieping van 'n lesinggebou gegooi omdat hy tekskrities na die Koran gekyk het.
Vierdens: een van die doodsteke in die gesprek tussen ‘n Protestant en ‘n Moslem is die Here Jesus Christus. Ons glo dat die Here Jesus werklik uit ‘n maagd gebore is, dat Hy waarlik God en mens was, en dat Hy deur Romeinse soldate op Golgota tot vergifnis van ons sonde gekruisig is. Die blote idee van ‘n god wat mens word is vir die Moslem selfs weersinwekkend. “Allah is te groot en te magtig om homself so te verneder om ‘n mens te word. ‘n God doen dit nie.” Dit is die antwoord wat Moslems op die verduideliking van die Christelike geloof gee. Verder leer die Koran ook dat Jesus slegs ‘n uitsonderlike profeet maar steeds ‘n blote mens was wat nie aan die einde van sy lewe gekruisig is nie. Hy sou volgens die Koran wel ter dood veroordeel gewees het, maar kort voor sy kruisiging is Hy met ‘n gevangene omgeruil wat baie soos Hy gelyk het, en is dié in sy plek gekruisig. Dit is dus in beginsel alreeds vir die Moslem onmoontlik om te glo dat Christus vir Hom gesterf het.
Gesprek met ‘n Moslem
Wanneer ‘n Moslem ‘n geloofsgeselsie aanknoop (en dit gebeur om een of ander rede baie dikwels!) volg die Moslem gewoonlik een van ‘n paar argumente. Een van die heel gewildste aanknopingspunte is “dat die God van die Christene en Allah dieselfde is”. Ons weet dat dit nie waar is nie, maar hoe sê ‘n mens dit vir ‘n Moslem? Die heel belangrikste is om duidelik te maak dat ‘n mens jouself op die Bybel as Woord van God beroep. Daarvoor moet die Moslem instem want die Koran sê duidelik dat Jode en Christene volgens hulle eie reëls beoordeel sal word in die eindtyd omdat hulle tog ook van die vroeëre godsdienstige pogings van Allah is. Die Bybel staan dus vir die Moslem ten minste gedeeltelik langs die Koran wanneer dit om teologiese gesprekke gaan. Andersom is dit natuurlik nie moontlik nie. Dit maak die gespreksveld alreeds klipperig omdat die Moslem homself nou in die knyp bevind – is die Koran die enigste waarheid, of geld die Bybel ook? Hy het dus nie meer net die Koran se versies om aan te haal nie, maar boonop nog die uitsprake van die Bybel.
Die diplomatiese en tog ferm antwoord is om voorts duidelik daarop te wys dat God volgens die Bybel nie verskillende gesigte het nie, maar altyd en ewig dieselfde is. Hy stel nie nou een stel eise, en ‘n volgende keer ‘n ander stel eise nie. Hy stel dieselfde reëls dalk op verskillende maniere, maar dit bly altyd een en dieselfde stel reëls. Die Koran laat dus ruimte vir altwee antwoorde wat mekaar weerspreek, terwyl die Bybel duidelik slegs een antwoord gee.
Die volgende saak wat ‘n mens moet aanraak is die leerverskille tussen die Koran en die Bybel.want daarmee word dit duidelik dat die twee boeke verskillend is, en dat hulle dus noodwendig teenoorstaande is, en nie komplementerend nie. Die maklikste is om oor die manier van redding te praat – Christus, en Hy alleen, of prestasie soos die Koran sê? Solank ‘n mens altyd op die argument staan van “redding uit genade, slegs deur geloof in Christus” word die prestasiekarakter van die Islam al duideliker gestel.
‘n Ander saak wat vinnig die onaanpasbaarheid van die twee godsdienste uitwys is die Islam se verstaan van die Christendom – die Islam aanvaar nie die Drie-eenheid soos in die Protestantisme nie, en ook nie die vergifnis van sonde uit louter genade nie.
Ten slotte
Die aanslag van die Islam klink maklik na ‘n nuwe bedreiging maar dit is nie die geval nie. Dit is dieselfde aanslag wat van die vroegste tye af teen die Christusgelowiges woed, al is dit slegs met ‘n ander gesig. Of ons teen Marxisme, Islam, ongeloof of moderne Skrifverdraaiings stry maak geen verskil nie – solank as ons vir Christus kies moet ons verseker weet dat die wêreld teen ons sal wees. Die Islam is net nog ‘n manier van Satan om die wêreld te beheer.