WAAROM IS DIE HEIDELBERGS KATEGISMUS VIR CHRISTENE VAN BELANG?
Januarie is 'n baie spesiale maand vir gereformeerde kerke omdat ons op 19 Januarie die verskyning van die eerste uitgawe van die Heidelbergse Kategismus van 1563 kon herdenk.
Die Kategismus het sy amptelike vorm gekry toe dit in die Kerkorde vir die Palts, wat die Keurvors op 15 November 1563 uitgevaardig het, opgeneem is. Die vrae wat daarin voorkom is die eerste keer in die Latynse vertaling, wat reeds voor 3 April 1563 verskyn het, genommer. 'n Kortbegrip is ter wille van skoolkinders in 1576 uitgegee.
Die Heidelbergse Kategismus vorm saam die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Leerreëls die Drie Formuliere van Eenheid wat steeds die belydenisskrifte van die vernaamste Afrikaanse Protestantse kerke in Suid-Afrika is.
In die kerk is die Kategismus van groot belang en word van predikante verwag om 'n voorgeskrewe getal preke in volgorde daaroor te lewer. Op hierdie wyse het hierdie belydenisskrif tot op die huidige dag nie alleen vir die kategese nie, maar ook vir die hele gemeente as formulering van sy geloof van groot betekenis gebly.
Hierdie Belydenisskrif het in 1563 te Heidelberg, Duitsland ontstaan. Op versoek van keurvors Frederik III van die Palts, een van die invloedrykste state binne die Heilige Romeinse Ryk, is dit as leerboek vir die skole opgestel. Zacharias Ursinus en Kaspar Olevianus is met hierdie belangrike werk getaak deur hierdie vrome prins. Zacharius Ursinus was 28 jaar oud en alreeds ‘n professor in teologie aan die Universiteit van Heidelberg. Casper Olivianus was 26 jaar oud en ‘n hofprediker.
Kategismus beteken leerboek en is gebruik om die jeug te onderrig en leiding aan predikers en onderwysers te gee. Keurvors Frederik III van die Palts het die advies en samewerking van die hele teologiese fakulteit bekom in die voorbereiding van die Kategismus.
Die Heidelbergse Kategismus is eerste op die Sinode van Heidelberg aanvaar en in Duits gepubliseer met ‘n voorwoord deur keurvors Frederik III gedateer 19 Januarie 1563. In dieselfde jaar is daar ‘n tweede en derde Duitse uitgawe uitgebring en ook ‘n Latynse weergawe, elkeen met klein veranderinkies. Verskeie ander sinodes van die 16de eeu en ook die Nasionale Sinode van Dordrecht (1618-1619) het dit as een van die belydenisskrifte van die Gereformeerde Kerke aanvaar en as deel van die Formuliere van Eenheid verklaar.