GEESTESGAWES EN NATUURLIKE TALENTE

Elmer L Towns

AKTUELE GELOOFSVRAE

Lees reeks by Aktuele vrae

Wat is 'n geestesgawe?

'n Geestesgawe is 'n vermoë wat die Heilige Gees aan die gelowige gee om die Here op 'n geestelike manier te dien. 'n Mens se geestesgawe behoort tot eer van God beoefen te word.

Hoeveel geestegawes kan 'n mens hê?

Daar is baie gawes in die liggaam van Christus (1 Kor 12:4). Sommige mense skyn minder begaafd as ander te wees en sommige lyk asof hulle geen gawes ontvang het nie (miskien het hulle die gawes gehad maar dit nie gebruik nie en en het dit dus verlore gegaan), maar aan elke gelowige is 'n gawe gegee (1 Kor 7:7). Daar word van alle mense verwag om hulle gawes tot eer van God te gebruik. As jy nie spesifieke gawes het nie kan jy na hulle soek (1 Kor 12:31).

Wat is die verhouding tussen 'n geestesgawe en natuurlike vermoë?

'n Geestesgawe word gebruik vir die opbou van die heiliges van God, of om iets geesteliks of bonatuurliks in die bediening van God te doen. Natuurlike talente of vermoë leer, inspireer en vermaak op 'n natuurlike vlak. Niks bonatuurlik gebeur wanneer 'n talent vertoon word nie. Mense kan hulle egter aan God oorgee sodat Hy hul natuurlike talente kan gebruik om die uitdrukking van hul geestesgawes te word.

Wanneer ontvang 'n mens sy geestesgawe?

Histories is geestesgawes by Jesus se Hemelvaart geskenk (Ef 4:8,11). Embrionies is geestegawes by 'n mens se bekering in hom geplaas (Rom 8:9; 1 Kor 7:7). Maar in werklikheid kom geestesgawes eers later in 'n mens se lewe te voorskyn namate die mens in geestelike volwassenheid groei (Rom 1:11, 1 Kor 12:31).

Kan 'n geestesgawe in een gelowige groter wees as in 'n ander? 

Soms is dit moeilik om te sê omdat sommige wat minder begaafd is, meer getrou is in hul diens aan God as die meer begaafdes. God sal die minder begaafdes gebruik weens hul getrouheid, en dit sal moeilik wees om hul geestesgawes te vergelyk met diegene wie se gawes groter is, maar wat God nie gebruik het nie. Almal word aangespoor om hulle "toe te lê op die beste genadegawes"  (1 Kor 12:31). Die gelykenis van die mans met vyf talente, drie talente en een talent (Matt 25:14-30) dui daarop dat mense verskillende grade van begaafdheid het.

Kan 'n mens 'n geestesgawe begeer wat hy of sy skynbaar nie het nie?

Dit lyk asof geestesgawes soewerein deur die Heilige Gees gegee word (1 Kor 12:4), maar Paulus wou vir die Christene in Rome geestesgawes gee (Rom 1:11), en die mense is aangesê om hulle ernstig op geestesgawes toe te spits (1 Kor 12:31).

Het 'n mens 'n prominente geestesgawe?

Dit lyk asof elke mens 'n prominente of dominante geestesgawe in sy of haar lewe het. 1 Kor 7:7 sê: "Maar elkeen het van God sy besonder gawe ontvang..." Die Griekse woord 'proper' dui op iets wat eie aan die mens is. Dit beteken 'n mens kan 'n geestegawe hê wat die beste is vir sy of haar diens.