BEGRAWE OF VERAS?

DIE VRAAGSTUK VAN VERASSING

Dr G J Meijer VDM

Heelwat Christene dink dat verassing en begrafnis om't ewe is - jy kan kies wat jy wil. Begrafnisondernemers ondersteun hierdie gedagte (sien Doves se Q&A about cremation vraag 1). Hulle propageer selfs verassing bo begrafnis (sien Doves se Q&A about cremation vraag 27). Daar leef talle vrae in die gemoed van christene rondom die saak: is dit eties reg? Wat sê die Here?

Dit is ʼn probleem as die vraag eers aangespreek moet word wanneer iemand pas oorlede is. Naasbestaandes is dan emosioneel en meestal nie in staat om die saak rasioneel te oorweeg nie. Die oogmerk met hierdie gespreksdokument is om nie net oor verassing duidelikheid te kry nie, maar ook oor begrawe. Wat beveel God hieroor?

1. Historiese oorsig

1.1 Begrawe

§ Uit die geskiedenis van talle antieke volke blyk dat mense begrawe is.

§ Wyse van begrafnis verskil van volk tot volk, kultuur tot kultuur, plek tot plek, omstandigheid tot omstandigheid: steengrafte, ysgrafte, boomgrafte, klip-stapeling, regop begrawe.

§ By heidene is daar talle bygelowe rondom begrafnis (piramides in Egipte, swart volke in Afrika, geweer- en kanonskote by militêre begrafnisse – GKSA Nasionale Sinode Acta 1964 p 83).

§ Volk lsrael ken vanaf vroegste tye begrafnis (Genesis 23 - Abraham koop 'n graf vir Sara).

1.2 Verassing

§ Lykverbranding is 'n ou gebruik in die menslike geskiedenis. Primitiewe volke en stamme, ook in Kanaän, het die gebruik reeds geken en beoefen.

§ Onder die Brahmane en Boeddhiste in lndië was en is dit 'n eeue-oue gebruik wat met sekere godsdienstige rituele gepaard gaan. In die Ooste word lykverbranding gesien as 'n deurgang na 'n ander staat van die lewe. Vuur, lug en grond word beskou as die basiese elemente van die lewe, waarheen teruggekeer word.

§ Die ou Germane het geglo dat demone nie na 'n verbrande mens se huis sou terugkeer nie. Die angsmotief by hulle wat nog in lewe was, het 'n duidelike rol gespeel. Daar is só radikaal van die dooies ontslae geraak dat hulle vir die naasbestaandes geen gevaar meer kon inhou nie.

§ ln Griekeland bestaan die metode van lykverbranding vir baie eeue. Die Trojaanse oorlog het aanleiding tot lykverbranding gegee, aangesien die talle lyke op die slagveld 'n gesondheidsrisiko ingehou het. Buitendien het onder invloed van sekere wysgerige strominge en skole die gedagte bestaan dat totale vernietiging van die liggaam 'n meer volkome bevryding van die siel veroorsaak. Volgens die leer van Plato, 'n geleerde filosoof, is die liggaam as minderwaardig beskou. Die liggaam is gesien as 'n tronk van die siel. Die liggaam kan maar heeltemal verbrand word, aangesien die eintlike deel van die mens die sogenaamde onsterflike siel is.

§ Die Romeine ken lykverbranding sedert die dae van die keisers (tot 510 vC). ln die Romeinse ryk kon slegs die ryk Romeine hulleself laat verbrand omdat die koste daaraan verbonde hoog was. Selfmoordenaars en babas is nie verbrand nie, aangesien dit die gode ongunstig sou maak.

§ Tot die dae van Karel die Grote was hierdie gebruik ook in Europa in swang, terwyl 'n groot aantal volke lykverbranding tot kort voor die Hervorming van die 16de eeu gehandhaaf het.

§ Die Christendom daarenteen wou van die begin af nie van lykverbranding weet nie. In die middel-eeue het die Rooms Katolieke Kerk verbranding gereserveer vir hekse, ketters en sekere protestante wat hulle as afvalliges beskou het.

§ Van die begin van die 17de eeu ontstaan 'n kragtige herlewing van die ou, heidense verassing-gebruike. Na die Franse rewolusie in 1795 kom dit algemeen voor.

O In 1628 het daar in Engeland van die hand van Sir Thomas Brown 'n boek oor lykverbranding verskyn onder die titel Hydriotaphia or Urnburial. Hierdie boek is in 1817 gevolg deur 'n boek van die hand van 'n sekere dr. Jameson, getitel The Origin of Cremation. Hierná het die gebruik van lykverbranding 'n sterk voorstander gekry in die persoon van dr. Lord van Hampstead waarna sir H. Thompson in 1874 die Cremation Society of London gestig het.

O Gedurende die jare 1864-1874 het lykverbranding in ltalië begin veld wen.

O As gevolg van die Frans-Duitse Oorlog (1870) het hierdie kwessie ook in Switserland sterk aandag gekry.

O Nederland het in 1875 'n vereniging opgerig met as doel die bevordering en uitvoering van lykverbranding. In 1907 is die eerste krematorium in Nederland gebou, maar dit het nog tot 1914 geduur voordat dit die eerste keer gebruik is. Om aan die steeds toenemende vraag na lykverbranding te kan voldoen, moes daar voor 1990 nog 31 krematoriums bygebou word. Dit is voorsien dat daar teen 1990 50% van alle oorledenes verbrand word. Verder is dit opvallend dat die toenemende vraag na lykverbranding hand aan hand gaan met 'n toename van heidense gebruike tydens die verbrandingsplegtigheid. Die aanwesiges kan byvoorbeeld kies uit 'n breë verskeidenheid musiek op elke gebied. Naas Psalms is daar klassieke en moderne musiek beskikbaar, terwyl die sogenaamde Negro-Spirituals en Evangelie-liedere 'n veel-gevraagde begeleiding by lykverbranding is. Maar dit is nie al nie. Dit gebeur meermale dat ouers 'n kind laat verbrand terwyl ‘n populêre liedjie van die Beatles of 'n ander popgroep gespeel word. In Duitsland het Heintje met sy liedjies die krematoriums verower.

O ln Rusland is die eerste krematorium in 1928 opgerig. 'n Hoofregeringsamptenaar het in sy openingsrede by die ingebruikneming van 'n krematorium onder andere gesê dat 'n krematorium opgerig is as 'n nuwe protes teen die Christelike godsdiens. Verder het hy in sy toespraak die Russiese volk aangemoedig om hulle dooies te laat verbrand as 'n duidelike bewys dat hulle gebreek het met die Christelike geloof aan die opstanding van die dode.

O In Suid-Afrika is die eerste krematorium in 1918 op inisiatief van die Hindoes in Johannesburg opgerig. Blankes het ook toestemming verkry om dit te gebruik. Gedurende die jare na 1918 is krematoriums opgerig in verskillende belangrike sentrums van ons land sodat hulle tans ook aangetref word in alle groot stede.

2. Motiewe vir verassing

Daar is talle motiewe wat ten gunste van verassing aangevoer word. Enkele hoofsake word weergegee:

§ Finansieel

o  Lykverbranding is op die kort en lang termyn goedkoper as 'n begrafnis.

O Dit kos baie geld om 'n begraafplaas in stand te hou.

§ Higiënies

O Die aarde, veral die ondergrondse water, word deur so 'n groot getal lyke vergiftig.

O Daarteenoor: As jou as oor die aarde verstrooi word, dra jy by tot die vrugbaarheid en die groei van die plantewêreld, omdat jou liggaam saamgestel is uit dieselfde elemente wat in die aarde aangetref word.

§ Omgewing/Stadsbeplanning

O Met die groot getal mense wat sterf gaan daar te min ruimte wees om almal te begrawe. Dit is reeds 'n werklikheid in wêreldstede soos Tokio en Berlyn.

O Elke graf neem die plek in van grond wat vir landboudoeleindes gebruik kan word. ln verband met die toenemende wêreldbevolking en die voedseltekorte wat daarmee saamgaan, is dit onverantwoordelik om so baie grond vir begraafplase te reserveer.

§ Emosioneel

O Sommige meen dat hulle hulle liggaam wat as gevolg van siekte (soos kanker) ingee, wil verbrand na afsterwe, sodat die lelike letsels kan wegbrand.

O Sommige vrees vir die gevaar dat jy lewendig begrawe word - verassing is dan beter.

O Die Bybel sê daar is wurms wat jou in die graf vreet, die liggaam ontbind in die grond - dit is afskuwelik om daaraan te dink.

O Sommige vind die daad van begrawe - as die kluite op die kis val - te emosioneel, en verkies dat daar 'n verassing plaasvind waarby die naasbestaandes nie betrokke hoef te wees nie.

O Sommige naasbestaandes hou van die idee om die as op 'n plek te gaan strooi wat vir die een wat gesterf het van belang was, of om die as in ʼn gedenkmuur of êrens in die huis te bewaar.

§ Geloofsoortuiging

O Lykverbranding is die mees direkte en vinnige verwesenliking van Genesis 3:19 - Stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer (talle plekke in Skrif praat van stof - oa Psalms, Prediker).

O Feniks-sage na aanleiding van Job 29:18 – OAV: So het ek dan gedink: By my nes sal ek die asem uitblaas, en soos die feniks my dae vermenigvuldig. NAV: Ek sal eendag sonder sorge sterf in my eie huis; my lewensdae sal meer wees as wat daar sand is. Feniks = mitiese voël wat voel dat sy lewenseinde nader. Hy gebruik sy laaste krag om na die heuwels van Heliopolis, die sonstad, te kom. Hy versamel dooie takke en maak 'n brandstapel bymekaar. Sy plan is om deur verassing 'n wedergeboorte vir homself voor te berei. Terwyl hy daarmee besig is, verskyn Apollo en skiet 'n vlammende pyl af. Apollo verklaar aan die Feniks: Word deur vuur van jou ouderdom verlos en vlieg weg in 'n mooier gestalte. Die pyl tref en vervul die Feniks met stralende vreugde. Uit 'n vlammegebed styg hy soos 'n jong, nuwe voël, die blou lug in. Hy staan letterlik uit sy eie as op en leef in 'n nuwe gedaante verder. By hierdie sage sluit Jesus se kruiswoord aan wat Hy tot die moordenaar, wat dieselfde dag nog verbrand gaan word, spreek: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees, asook Paulus se Opstandingslied in 1 Korintiërs 15. Die vuur van die Gees wat op Pinkster sigbaar is, bevestig die nuwe lewe wat uit die as opstaan. Slotsom: verassing is 'n moet!

§ Ander motiewe

O Ondeurdagtheid: nog nooit gedink of verassing reg of verkeerd is nie.

O Pragmatisme: wat werk die beste, vinnigste, maklikste.

O Veiligheid: begraafplase het gevaarlik geword (vandalisme, satanisme); dit is veiliger om by 'n kerkterrein of monument (soos die Voortrekkermonument) 'n gedenkmuur te hê.

O Logika: Na 'n bepaalde tyd word ou grafte opgeruim. Die menslike reste wat dan nog aanwesig is, word bymekaargemaak en in 'n gemeenskaplike gat gegooi of verbrand. Aangesien verbranding in die meeste gevalle tog die uiteindelike resultaat is, is dit baie beter om liewer kortpad na die verbranding, deur middel van lykverbranding, te neem.

3. Hoor wat die Gees aan die Gemeentes sê

3.1 Die Skrif oor verassing

In die Skrif word daar uitdruklik oor lykverbranding gepraat. 'n Paar voorbeelde:

q In die volgende drie gevalle is verbranding 'n ernstige verswaring van die doodstraf. Die meeste uitleggers stem ooreen dat hierdie mense nie deur vuur om die lewe gebring is nie. Hulle is waarskynlik gestenig. Daarna is hulle lyke verbrand.

§  Levitikus 20:14 - En as 'n man 'n vrou en haar moeder neem, is dit 'n skandelike daad; hulle moet hom en die twee met vuur verbrand: daar mag geen bloedskande onder julle wees nie.

§  Levitikus 21:9 - En as die dogter van 'n priester haar ontheilig om te hoereer, ontheilig sy haar vader; met vuur moet sy verbrand word.

§  Josua 7:25 - En Josua het gesê. Hoe het jy (Agan) ons in die ongeluk gestort. Die HERE sal jou vandag in die ongeluk stort. Daarop het die hele Israel hom gestenig, en hulle het hulle met vuur verbrand en klippe op hulle gegooi.

q 1 Samuel 31:12 - ... en hulle het die lyk van Saul en die lyke van sy seuns van die muur van Bet-San afgehaal en by Jabes gekom en hulle daar verbrand. Vir hierdie handelwyse het waarskynlik 'n goeie rede bestaan, naamlik om te voorkom dat die lyke nog verder deur die Filistyne vermink sou word.

q Amos 6: 10 - En wanneer iemand se bloedverwant, die een wat hom wil verbrand, hom optel om die bene uit die huis te verwyder...

§  Hier is sprake van lykverbranding wat ook met 'n besondere doel plaasvind. Amos 6 is oordeelsprediking oor die Tienstammeryk. Daar word geprofeteer oor 'n stad wat beleër word (waarskynlik Samaria). Die aantal lyke sal oorweldigend groot wees. Dit is onmoontlik om die lyke te begrawe, aangesien die begraafplaas buite die stad geleë is en vanweë die beleëring nie bereik kon word nie. Hieruit mag ons aflei dat lykverbranding in die omstandighede 'n noodsaak geword het om die uitbreek van aansteeklike siektes te voorkom.

§  Sowel in 1 Samuel 31:12 as Amos 6: 10 het ons dus met uitsonderlike gevalle te doen.

q Behalwe direkte uitsprake oor lykverbranding, is daar ander Skrifgegewens wat in gedagte gehou moet word. Vuur en brand is deurgaans teken van die bediening van God se regverdige toorn oor sonde en heilige oordeel.

§  Sodom en Gomorra: Die Dooie See was voorheen 'n vrugbare vallei waar die twee stede Sodom en Gomorra geleë was. God se toorn oor die sonde van die twee stede was so groot dat God vuur en swael uit die hemel laat reën het, sodat daar vandag nog niks kan groei nie (Genesis 18 en 19).

§  Die banvloek: In die Ou Testament het die Here beveel dat sy Kerk, lsrael, wanneer hulle die beloofde land binnegaan, die heidene se eiendom aan die Here moet offer deur dit met vuur te verbrand. Dit is die banvloek genoem. Die banvloek het twee betekenisse gehad: God het daardeur sy toorn oor die heidene se afgodspraktyke tasbaar gewys; God het aan sy verbondsvolk gewys dat Hy eers die land vir hulle skoonbrand sodat hulle nie verlei word om die heidene se praktyke oor te neem nie (Josua 7:15).

§  Korag, Datan en Abiram: Die Here was so toornig op hierdie drie manne, wat saam met die 250 ander mans die Ou Testamentiese Kerk lsrael verlei het om onheilig voor Hom op te tree, dat Hy hulle deur die aarde laat insluk het en die 250 met vuur verteer het (Numeri 16:35).

§  Brandoffers: By die brandoffer, waar die Kerk van die Ou Testament diere moes verbrand vir hulle sonde en skuld voor God, moes die diere se karkasse heeltemal verbrand word. Die altaarvuur moes deeglik brand sodat daar niks mag oorbly nie. In die Ou Testament is die offerdiere wat vir die sonde geoffer is, in afwagting van die koms van Christus, buitekant die laer verbrand as teken van God se toorn oor die sonde van die mens.(Ons het 'n altaar waarvan die wat die tabernakel bedien, geen reg het om van te eet nie; want die diere waarvan die bloed vir die sonde deur die hoëpriester in die heiligdom ingedra word - hulle liggame word buitekant die laer verbrand. Daarom het Jesus ook, om die volk deur sy eie bloed te heilig, buitekant die poort gely - Hebreërs 13:10-12).

§  Afgodsdienaars: Koning Jerobeam het lsrael sodanig teen die Here laat sondig dat 'n profeet teen die altaar uitgeroep het dat mensebene, as straf van God, op die altaar verbrand sal word. Dit het die regverdige koning Josia dan ook etlike jare later gedoen (1 Konings 13:1-2 en 2 Konings 23:16).

§  Die aarde brand: God maak ook bekend dat Hy die hele aarde met vuur sal verbrand (2 Petrus 3). Dit is 'n vuur wat verbrand én skoonbrand.

§  Hel: Die woord hel kom van die Hebreeuse woord Gehanna' (hades in Grieks), waar die brandende, smeulende, stinkende ashoop buite Jerusalem mee beskryf is. Daar is die vullis maar ook die karkasse van diere en die lyke van moordenaars verbrand. Dit is 'n vuur wat gedurig brandend was. Die beeld is gebruik om God se toorn aan te dui waar Hy iemand in die hel met sy haat brand vanweë die sonde (Openbaring 20:14-15).

Slotsom: Lykverbranding is deurgaans teken van verbondsoordeel,

verswaring van die doodstraf.

3.2 Die Skrif oor begrawe

Ou Testament

§ ln lsrael was lykverbranding bekend, maar die dooies is begrawe. Dit kom in talryke Skrifplekke duidelik na vore. Abraham, lsak en Jakob, die vroue van die aartsvaders, Josef ens. word almal begrawe.

§ Die begrafnis van geliefdes vind in die Ou Testament plaas as 'n bewys van besondere piëteit. Let op die besondere sorg wat Abraham aan die begrafnis van sy vrou Sara bestee het. Hy was selfs bereid om vir die spelonk waarin sy begrawe is 'n buitensporige hoë prys te betaal.

§ Aan familiegrafte is in lsrael baie waarde geheg. In Genesis 49:29-31, gee Jakob te kenne dat hy op dieselfde plek as sy stamvaders en stammoeders begrawe wil word. ln dieselfde lyn lê die geval van Josef wat ten spyte van sy hoë posisie aan die Egiptiese hof tog in die land van sy vaders begrawe wou word.

§ God beveel begrafnis (Deuteronomium 21:22-23). Selfs iemand wat die doodstraf gekry het, moet begrawe word aangesien die land, wat as die erfenis deur God gegee is, nie verontreinig mag word nie.

§ Die Here begrawe Self vir Moses (Deuteronomium 34:5-6). Uit Judas vers 9 word dit duidelik dat die bewaring van Moses se liggaam vir God belangrik is. Die feit dat God self vir Moses begrawe en die Satan keer om sy liggaam op te eis, beteken dat die dooie liggaam van 'n gelowige vir die Here belangrik is. Sy belofte van herstel is ook aan die liggaam van 'n gelowige verbind.

§ Dwarsdeur die Ou Testamentiese geskiedenis is daar van grafte en begrafnisse sprake, bv. 2 Konings 9:28, Job 5:26, Psalm 88:5, Jesaja 53:9.

Nuwe Testament

§ Matteus 26:12 - Want toe sy hierdie salf op My liggaam uitgegooi het, het sy dit gedoen met die oog op My begrafnis.

§ Markus 6:29 - En toe sy dissipels dit hoor, het hulle gekom en sy lyk weggeneem en dit in 'n graf neergelê.

§ Lukas 16:23 - En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe.

§ Johannes 5:28 - Moenie julle hieroor verwonder nie, want daar kom 'n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor....

§ Johannes 11:17 - Toe Jesus dan gekom het, het Hy gevind dat hy (Lasarus) al vier dae in die graf was. By hierdie groot wonder is dit besonder opvallend dat die opstanding van Lasarus soos Johannes dit beskrywe nooit sou kon plaasgevind het as die lyk van Lasarus verbrand sou gewees het nie. Lasarus het uit die graf uitgekom presies soos wat hy vier dae tevore ingegaan het. Daar was geen verskil nie. Selfs die grafdoeke was ongeskonde.

§ Johannes 19 - Christus se begrafnis. Niemand sal ontken dat Jesus se opstanding moontlik sou gewees het as hulle sy liggaam direk na sy dood sou verbrand het nie, want by God is alle dinge moontlik. Maar in die geval van verbranding sou sy opstanding nie plaasgevind het soos wat dit op Paasmôre gebeur het nie. Uit Johannes 20:20 en 25-29 blyk duidelik die ongeskonde identiteit van Jesus voor en na sy opstanding. Daar kan geen twyfel wees nie. Die Jesus wat opgestaan het, is presies dieselfde Jesus as wat 'n paar dae vroeër begrawe is.

§ Handelinge 2:29 – Broeders, ek kan vry-uit met julle spreek oor die aartsvader Dawid, dat hy gesterf het en ook begrawe is, en sy graf is by ons tot vandag toe.

§ Handelinge 5:6 - Daarna het die jongmanne opgestaan en hom (Ananias) toegedraai en uitgedra en begrawe.

§ Handelinge 5:10 - Toe val sy onmiddellik aan sy voete neer en het gesterwe. En die jongmanne het ingekom en haar (Saffira) dood gevind en haar uitgedra en by haar man begrawe.

§ Handelinge 7:16 – En hulle is oorgebring na Sigem en weggelê in die graf wat Abraham vir 'n som geld gekoop het van die seuns van Hemor, die vader van Sigem.

§ Handelinge 8:2 - En godvresende manne het Stefanus begrawe en 'n groot rou oor hom bedrywe.

§ 1 Korintiërs 15 - Die korrel sterf in die grond sodat dit nuwe lewe kan gee aan die plant wat daaruit ontkiem. Die een kom uit die ander een voort. So is dit ook met die dooies. Die graf is vir die gelowige nie slegs die plek waar die vertering van die liggaam plaasvind nie, maar die plek waar die liggaam gesaai word in oneer, om op God se tyd - as die basuine van die jongste dag weerklink - in heerlikheid opgewek te word. Paulus gaan met sy beeld van die koringkorrel duidelik uit van die begrafnis en nie van die lykverbranding nie. Soos die koringkorrel in die aarde gelê word, so word ook die liggaam van 'n oorledene in die aarde gelê. En soos wat die koringkorrel in die aarde vergaan, so vergaan ook die liggaam van 'n oorledene. Maar dan ook: Soos wat daar uit die koringkorrel wat vergaan het nuwe koringaar voortkom omdat die sterwende korrel die kiem van die lewe in hom dra, so kom daar uit die dooie liggaam wat vergaan 'n nuwe liggaam voort, omdat die gestorwe liggaam die kiem van die nuwe lewe in hom dra.

Hoe moet ons die Skrifgegewens toepas?

§ ln verband met die vraag na die normatiewe van die Nuwe-Testamentiese gegewens blyk eers dat die Nuwe Testament 'n stap verder gaan as die Ou Testament. In die Ou Testament is slegs sprake van begrawe. ln die Nuwe Testament is sprake van begrawe én opstanding. Opvallend: Lykverbranding en opstanding word nie aanmekaar gekoppel nie, maar begrafnis en opstanding wel.

§ Vind ons in die Skrif in verband met die begrafnis 'n gebruik wat iets be-skryf of voor-skryf? Met ander woorde gee die Ou en Nuwe Testament maar net 'n beskrywing van 'n gebruik of is dit die bedoeling dat hierdie gebruik nagevolg moet word omdat begrafnis 'n voorskrif is? Wat die begrafnis betref gaan dit in die Skrif nie slegs oor die mededeling van 'n kultuurgewoonte nie. Uit die hele lyn van bevele, gebeure en handelinge word dit duidelik dat 'n norm neergelê word. Moses word nie deur God Self begrawe met die gedagte dat ons met ons oorledenes kan doen wat ons wil nie. Die liggaam van Jesus Christus word nie in ʼn graf weggelê sodat óns oond toe kan gaan nie.

3.3 Die Skrif oor nie-begrawe

Daar is in die Skrif ook enkele gevalle waarin nóg van begrawe nóg van lykverbranding sprake is. 'n Paar voorbeelde:

§ 1 Samuel 17:44 - Verder sê die Filistyn vir Dawid: Kom na my toe, dat ek jou vlees aan die voëls van die hemel en die diere van die veld kan gee.

§ 1 Samuel 17:46 - Vandag sal die HERE jou in my hand oorlewer, dat ek jou kan verslaan en jou hoof van jou wegneem, en die lyke van die leër van die Filistyne vandag aan die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde kan gee, sodat die hele aarde kan weet dat lsrael 'n God het.

§ 2 Konings 9:10 - En die honde sal lsébel eet op die dorpsgebied van JisreëI, en daar sal niemand wees wat haar begrawe nie.

§ Ps. 79:1-3. 'n Psalm van Asaf. O God, heidene het gekom in u erfdeel, hulle het u heilige tempel verontreinig, Jerusalem tot puinhope gemaak. Hulle het die lyke van u knegte aan die voëls van die hemel tot spys gegee, die vlees van u gunsgenote aan die wilde diere van die land. Hulle het hulle bloed rondom Jerusalem soos water uitgegiet sonder dat iemand hulle begrawe.

§ Openbaring 11:8 - Hulle (die getroue profete se) lyke sal lê op die strate van die groot stad wat geestelik genoem word Sodom en Egipte, waar ook ons Here gekruisig is.

Nie-begrawe is simbool van vernedering, spot,

mens-onwaardige behandeling.

4. Waarom geen verassing?

Die Skrifgegewens op sigself is genoegsaam om verassing as 'n daad teen God se wil af te keur, en sodanig te bestry. Die verbranding van die liggaam is die bediening van die oordeel van God oor die liggaam. Dit kom geen mens toe om daardie oordeel aan 'n ander mens se liggaam te bedien nie. Dit is slegs Jesus Christus wat dit by die oordeelsdag aan sy vyande mag doen. Dit kom alleen God toe.

Dit is verder nodig om argumente ten gunste van verassing te weerlê.

Finansieel

v  Inderdaad is begrawe duurder as veras. Maar is dit genoegsame rede om die regte te laat staan en die verkeerde te doen? Weeg geld swaarder as ʼn beginsel?

Higiëne

v  Moontlike aardvergiftiging word streng deur owerhede gekontroleer.

Omgewing

v  lnderdaad is ruimte vir begraafplase 'n faktor. Vraag: Waarvoor word wel ruimte geskep, en waarvoor nie? Wat van grafte waarin mense regop begrawe kan word?

Emosioneel

v  Emosionele oorwegings moet aan die Skrif gemeet word. Die proses van sterwe en ontbinding is altyd erg. Dood is die laaste vyand (1 Korintiërs 15:26). 'n Mens kan die ergheid daarvan nie verdoesel nie.

Geloofsoortuiging

v  ‘Stof tot stof‘ is nie die volle prentjie nie. Dis OT taal. Die NT praat van ‘n korrel wat uitspruit en ʼn koringplant word.

V Die Feniks-sage na aanleiding van Job 29:18 is 'n gevaarlike fantasie. Die Feniks is 'n suiwer heidense verbeeldingsvlug wat met die regte verstaan van Job 29 niks te doen het nie.

Ander motiewe

v  Ondeurdagtheid: Ons net nog nooit gedink of verassing reg of verkeerd is nie. Antwoord: Begin dink en onderskei!

V Pragmatisme: Wat werk die beste, vinnigste, maklikste. Antwoord: Beginselvaste denke.

V Veiligheid: Begraafplase het gevaarlik geword. Antwoord: veiligheid is oral 'n faktor. Owerhede stel reeds maatreëls in.

V Logika: Na 'n bepaalde tyd word ou grafte opgeruim. Die menslike reste wat dan nog aanwesig is, word bymekaargemaak en in 'n gemeenskaplike gat gegooi of verbrand. Aangesien verbranding in die meeste gevalle tog die uiteindelike resultaat is, is dit baie beter om liewer 'n kort pad na die verbranding deur middel van lykverbranding te neem. Antwoord: as ou grafte opgeruim word, sien owerhede met groot sorg toe dat enige reste wat nog oorgebly het, opnuut begrawe word.

5. Waarom wel begrawe?

Tussen die afsterwe, begrafnis en salige opstanding van God se kinders is daar ʼn duidelike samehang en ‘n lyn van vooruitgang.

Gelowig sterf

Waar is ons dooies as hulle in geloof sterf? Die Skrif maak onder andere die volgende bekend:

§  Tot die vadere vergader - Genesis 25:8

§  In die doderyk - dood as mag, 'n ryk met 'n onversadigbare karakter (Spreuke 30:15)

§  ln die hemel - die troonsaal van God

§  Direk by en met Christus - vergelyk Sondag 22 Heidelbergse Kategismus

§  By Abraham - arme Lasarus (Lukas 16)

§  In die Paradys – Christus se kruiswoord aan die bekeerde misdadiger

§  ln die Vaderhuis - Johannes 14

Dienooreenkomstig: gelowig begrawe

§  Begrafnis anker in Christus. Deur die begrafnis word aangetoon dat Hy werklik dood was, maar deur die opstanding word getoon dat die dood Hom nie kon vashou nie.

§  Lede van Christus. 1 Korintiërs 6:14-15 - En God het die Here opgewek en sal ons opwek deur sy krag. Weet julle nie dat julle liggame lede van Christus is nie? Die dooie liggaam, wat begrawe is, is ook bedoel om steeds deel te wees van die liggaam van Christus.

§  Begrafnis wag vir vervulling van beloftes. Deur 'n begrafnis getuig 'n gelowige dat daar opstanding wag wat in Christus vir hom of haar liggaamlik belowe is. Tent en tempel. 2 Korintiërs 5 - nou het ons 'n tentwoning wat afgebreek word, eendag kry ons 'n gebou deur God Self opgerig.

§  Die afgestorwe liggaam is geen oorskot, kadawer of leë dop nie. 1 Korintiërs 15:39 - Die Here openbaar dat die liggaam van die mens vir Hom anders in waarde is as byvoorbeeld die liggame van diere.

6.            Om in geloof te begrawe

Artikel 65 Kerkorde: Lykpredikasies of lykdienste mag nie ingevoer word nie.

Sinode 1952 het oor die toenemende gebruik van lykverbranding in ons land besluit:

§  Die Sinode merk met leedwese op dat lykverbranding toeneem en is van oortuiging dat dit nie moet nagevolg word deur ons lidmate nie en wil daarteen waarsku omdat dit van heidense oorsprong is en in stryd is met die eeue-oue gebruik van begrafnis soos dit voorkom in die Ou en Nuwe Testament.

§  Verder kan die Christelike kerk hom nie met lykverbranding verenig nie, want met die skyn-argument dat dit om gesondheidsredes gedoen word, skuil agter lykverbranding 'n materialistiese wêreldbeskouing. Vir die Christen met sy geloof aan die opstanding het die begrafnis die simboliese betekenis dat die liggaam aan die aarde toevertrou word as 'n graankorrel wat eers sterf om later heerliker te voorskyn te kom (Acta 1933:117 en 122; vgl. ook Acta 1952:208, pt. 1 en 1952:216, pt. 1).

7.            En as iemand vereis om veras te word?

As iemand in sy testament sê dat hy veras wil word, wat dan?

7.1  Die optrede van die naasbestaandes: Vraag: is alle dele van 'n testament bindend? Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan mense. Dit is belangrik dat, al staan dit in ʼn testament wat die laaste wil van die oorledene is, die agtergeblewenes in die lig van God se Woord finaal besluit wat hulle te doen staan.

7.2  Die optrede van die predikant: Onderskei tussen troosdiens en daad van verassing. Die predikant kan oorweeg om ʼn troosdiens te hou, sonder dat hy daardeur die daad van verassing goedkeur.

Opmerking van ds Petrus Venter: Hierdie opvatting is nog nie deur die Kerkraad van Pretoria ter oorweging geneem nie. Persoonlik vind ek dit moeilik skeibaar om die troosdiens van die daad van verassing te skei. Kyk hieroor my Inleiding vooraan hierdie stuk waarin die Kerkraadsbesluit duidelik gestel word.

7.3  Die optrede van familie, medegelowiges en vriende: Gerigtheid op troos uit die Woord en vertroosting van agtergeblewenes. Die troosdiens is geen laaste afskeid of laaste eerbetoon nie. Dit is soos die woord sê: Troos-diens. Die wat agterbly moet vanuit die Woord getroos word.

Opmerking van die Redakteur: Troosdiens is 'n betreklik nuwe, baie treffende woord wat aan Art 65 Kerkorde en ons Gereformeerde gesindheid reg laat geskied. Dit kom vermoedelik van wyle ds Jan Coetzee af en het deel van ons Kerklike woordeskat geword, veral met die toenemende gebruik om die teraardebestelling vooraf te doen en dan met 'n troosdiens op te volg.

8. Stellings

Q Om eervol te begrawe is die Skriftuurlik normale, gebruiklike wyse waarop gelowiges met hulle afgestorwe medegelowiges se ontslape liggame werk.

Q Lykverbranding dui in die Skrif deurgaans op God se toorn en oordeel oor die sonde en is 'n heenwysing na die ewige oordeel in die hel. Die oorsprong van lykverbranding word na die heidenvolke teruggevoer, en kan op geen manier met die christelike geloof versoen word nie.

Q Slegs in uitsonderlike gevalle (oorlog-situasie, martelare op brandstapels, vuurrampe) is daar van lykverbranding sprake wat nie op God se toorn oor die sonde wys nie.

Q Die Seun van God is die grond van ons hoop op 'n salige opstanding. Hierdie belangrike geloofswaarheid is van die begin af deur die Christelike Kerke besef. Daarom het die kerke hulle steeds met die grootste beslistheid teen die heidense lykverbrandingspraktyke verset.

Q Van begrafnis gaan 'n kragtige getuienis insake die christelike geloof in die opstanding van die liggaam ooreenkomstig 1 Korintiërs 15 uit.

Q Waar heidenvolke wat aan verassing gewoond was deur sending gekersten word, word verassing meestal deur begrafnis vervang. Lykverbranding op grond van talle menslike argumente is 'n teken van 'n terugval in die praktiese heidendom, 'n voortgaande ontkerstening en deformasie.

Q Die Kerk van Christus moet - teen die tydsgees en alle menslike redenasies in - die daad van begrawe as Skriftuurlike eis van God kragtig en onbeskaamd verkondig en gelowiges daartoe oproep om die betekenis daarvan hulle eie te maak en aan ander oor te dra.

Vir verdere raadpleging word die volgende brosjure sterk aanbeveel: Dr A Lindhout: Verassing in die lig van die Bybel. Dit bevat ‘n volledige bronnelys en kan digitaal by www.enigstetroos.org/verassingalindhout.htm bekom word. Die gedrukte (hersiene) weergawe is beskikbaar by Folmer Boekhandel 012 333 8064. E-pos: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.