IS DIE BYBEL WAAR?

Want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek. 2 Pet. 1:21.

In die Bybel self vind ons getuienis dat hierdie Boek nie deur mense geïnspireer is nie, maar van God af kom.  Dit word ook duidelik gesê in 2 Tim. 3:16:  Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid.

In die Ou Testament was die profete, die Psalmdigters en die skrywers van die wysheidsboeke (Spreuke, Prediker, Job) diep onder die indruk dat dit God is wat deur hulle praat.  Die Here Jesus het meermale getuig dat die Ou Testament die Woord van God is.  Hy het gesê sy apostels verkondig die Woord van God  en Hy het getuig dat sy eie prediking die Woord van God is.  So getuig die Skrif self dat dit die Woord van God is.

Die Bybel het gesag. In die Woord kan gesien word dat dit nie van mense nie, maar van God afkomstig is.  Die Bybel is betroubaar, want God het gespreek en sy Woord is onder leiding van die Heilige Gees in die Skrif opgeteken.  Daarom is die Skrif betroubaar.  Die Bybel is ook genoegsaam en volkome, want daar is geen aanvulling of toevoeging nodig nie.  Die heil van die Skrif mag deur niks en deur niemand verdring of vervang word nie.  Die Bybel is duidelik, want dit is ‘n boek van openbaring en bekendmaking. Die Psalmdigter sê: U Woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad. Die Bybel sê vir ons helder en duidelik hoe ons tot eer van God moet lewe en wat ons nodig het om salig te word.  In die Bybel maak God sy wil aan ons duidelik bekend.  Die Bybel is ook ‘n eenheid.  Verskillende mense het in verskillende tye op verskillende plekke daaraan geskrywe en tog vorm dit ‘n hegte, samehangende eenheid, waar Christus in die sentrum staan, want in Hom het ons die begin van alle dinge en die einde van alle dinge.  Gewone mense kon nie so’n Boek oor ‘n tydperk van soveel eeue skryf wat so ’n eenheid vorm, as daar nie ‘n ewige, alomteenwoordige en alwetende God is wat dit so beskik het nie.

Al die beloftes en voorspellings wat in die Skrif gemaak is, is en word bewaarheid as bewys dat dit die Woord van God is.  Al die profesieë wat vervul is in Christus, bewys die goddelike oorsprong daarvan. Deur opgrawings is vroeëre Bybeltekste en  -vertalings ontdek en antieke stede en dorpe uit Bybelse tye blootgelê, wat die onbetwisbare waarheid van die Bybel verder bevestig.

Deur die eeue heen het baie mense teen hulle beterwete beweer en tevergeefs probeer bewys dat die Bybel nie die Woord van God is nie.