Ja, daar is beslis een, want ons verneem van so ‘n plek se bestaan uit ‘n baie betroubare bron, uit die Bybel, die Woord van God. Daar is twee dinge wat die Here berei het, waarvan ons ou mensies niks van sou geweet het nie, as die Here dit nie aan ons geopenbaar het nie. Die een is die hemel, wat God berei het vir dié wat Hom liefhet, en die andereen is die hel, die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele. (Mat 25:41)
Ons moet hierdie feit baie duidelik verstaan: Die verdoemenis, die hel is nie die skepping van Satan se vindingryke brein nie. Dit is nie hy wat die hel vir sy volgelinge berei en dan daar ‘n sekere program volg met die siele wat daar aanland nie. God het hierdie plek van ewige rampsaligheid vir die vervloektes berei, net soos wat Hy vir die geseëndes van die Vader van die grondlegging van die wêreld af ‘n plek van ewige geluksaligheid berei het.
Die voorste kandidaat vir hierdie plek van ewige rampspoed, is die duiwel self. Wanneer Christus aan die einde van die eeue sy finale triomf oor die mag van die bose behaal, sal die duiwel die eerste een wees wat in die poel van vuur en swawel gewerp word. Saam met hom in die verdoemenis sal almal wees wat deur hom verlei is, almal wat die verlossing in ons liewe Here Jesus Christus nie aangeneem het nie.
As daar geen hel was waarvan verlore sondaars gered moes word nie, sou dit nie vir Christus nodig gewees het om die hel van die kruisdood deur te gaan om die mens met God te versoen nie. God wil die sondige mens in staat stel om deur die kruis die hel te ontvlug en die hemel te beërwe. Wie hierdie Weg (Jesus Christus) verwerp, kies dus die hel.
Die Bybel beskryf die program van die hel as niks anders nie as pyniging en foltering. Daar sal geween wees en knersing van die tande, dag en nag, tot in alle ewigheid. Dit is die lot van hulle wat sonder Christus gesterf het. Hulle sal ook weer sonder Hom opstaan met verworde liggame wat afgryslik sal wees vir alle vlees. (Jes 66:24). Die gedoemde is weg van die aangesig van God, afgesny van die Bron van alle lewe. Maar die knagende wurm sterf nie en die vuur word nie uitgeblus nie. (Markus 9:43-47)
Moenie vrees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie, maar vrees Hom liewer wat die siel en die liggaam kan verderwe in die hel. (Matt 10:28).