IS KINDERTJIES SONDIG?

Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie! Mattéüs 18 : 3

Toe neem Hy ‘n kindjie en laat dié by hom staan en sê vir hulle:  Elkeen wat hierdie kindjie ontvang in my Naam, ontvang My. Lukas 9 :  47 en 48

Daar is baie kindertjies wat soos die Jaïrusdogtertjie in die môre van hul lewe weggeruk word en wanneer dit gebeur, dan vra die ouers in hulle verdriet, waarom moes hulle kindjie wat nog so baie kon beteken, nou al weggeruk word?   Ons vra dan ook, wat sal die ewigheidslot van hierdie kind wees, want die Bybel leer ons dat daar maar één Naam is waardeur ons gered kan word.  Dit is die lieflike Naam van Christus  (Hand. 4:12). Verder word ons geleer dat alleen hulle wat in dié Naam glo, salig sal word (Joh. 3:16).  Kan ‘n kindjie wat nog nie tot sy verstand gekom het nie, reeds glo?  Beteken die woorde van Markus 16:16 dat hy wat nie glo nie, veroordeel sal word, dan nie vanselfsprekend dat al ons klein kindertjies in verlorenheid sterf nie?

Die redenasie dat ‘n kind sondeloos gebore word en dus ook as hy vroeg sterwe, sondeloos en salig sterf, bring die vraag na vore, hoe oud moet kinders wees wanneer hulle sondige wesens word en waar word die streep tussen sondeloosheid en sondigheid getrek.  Hierdie redenasie is ook in stryd met die Skrif, want hoor hoe Dawid uitroep: Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore en in sonde het my moeder my ontvang! (Ps. 51:7). Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde, die dood.  Daarom handhaaf die Christelike Kerk deur die eeue die leerstuk van die erfsonde.

Ons kindertjies, wat op die oog af so teer en onskuldig lyk, dra by hulle geboorte reeds die erfsmet van die sonde.  Ouers maak al vroeg in hul kinders se lewens kennis met die verdorwenheid van hulle natuur.  Maar die gelowige ouer hoef nie by die graf van sy vroeggestorwe kindjie te treur soos diegene wat geen hoop het nie.  Toe die kindjie wat Dawid by Batseba gehad het na ‘n paar dae gesterf het, het hy verklaar dat hy sy kind weer anderkant die graf in die oord van saligheid sal ontmoet, want die Skrif leer dat die kinders ook in die verbond van God opgeneem is.  Daarmee is die belofte gegee dat hulle geheilig word deur die verbondsouers uit wie hulle gebore is.  Daarom lees ons in Matt.19:14 dat Jesus die kindertjies geseën het omdat “aan sulkes die koninkryk van die hemele behoort.”  Daarom het Dawid geweet sy kind het salig gesterwe. En alle gelowige ouers kan dit ook sê as dit die Here se wil is dat hul kind hul op vroeë leeftyd na die ewigheid vooruitgaan.