SATERDAG- SABBAT, OF SONDAG?

UIT DIE WOORD: OF CHRISTENE DIE SATERDAG OF DIE SONDAG AS SABBAT MOET ONDERHOU

Ons hoor gereeld vrae oor watter dag van die week ons as Christene nou eintlik soos 'n sabbat moet deurbring. Daar is talle teorieë wat groot verwarring onder ons hededaagse geslag skep. Daar word selfs beweer dat die Katolieke Kerk dit na die Sondag verander het om Christene te mislei, ander weer dat Konstantyn die Sondag as verering van die songod ingestel het, ens, ens. En heel dikwels is die uiteinde van die onbevredigende antwoorde 'n apatiese toestand in die gemoed wat meebring dat ons volk nie meer erns wil maak met die heiliging van ons sabbatte nie. In hierdie artikel word dit duidelik waarom die sabbat in die Bybelse tyd op 'n Saterdag gehou is, en waarom ons as Nuwe-Testamentiese Christene dit op 'n Sondag vier. Mag die uitleg in hierdie artikel soos gegrond uit die Woord van God vir ons as Christen-Afrikanernasionaliste die rustigheid meebring wat nodig is om getrou te wees aan ons Skepper se opdrag om die Sondag as 'n sabbatdag te onderhou en te heilig.

OORSPRONG VAN DIE SABBAT
God self het die sabbat as rusdag ingestel. In Gén 2:2,3 leer ons dat die HERE ses dae lank met sy skeppingswerk besig was maar op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het Hy die sewende dag vir Homself geheilig en afgesonder. In Ex 20:11 gee die HERE dan ook die opdrag dat hierdie dag aan Hom gewy moet word. Die diepste motief vir die onderhouding van en rus op die Sabbat lê dus daarin dat God self gerus het van sy skeppingswerk. Die sabbat kom dus van God, Hy het dit ingestel en eis dat ons dit sal onderhou.

OORSPRONG VAN DIE SONDAG
Dwarsdeur die Ou Testament en ook in die tyd van die Here Jesus, is die rusdag op die Sabbat gehou – dit was die Saterdag. Ná die opstanding van die Here Jesus het dit verander.  Die Goddelike faktor speel die sterkste rol in hierdie besluit en daarom kyk ons in diepte daarna:

Paulus se optrede en natuurlik dit wat die Here God van die Sondag gemaak het, moet gesien word as die Goddelike beskikking waardeur die Christelike Sondagsviering ingestel is. Die vraag wat dalk beantwoord moet word is: Waarom nie meer die Saterdag as sabbat hou nie? Waarom sou God die rusdag na die Sondag laat verskuif? Die antwoord moet in Christus self gesoek word.

Christus is die oorsprong van die Sondag. Ons lees in Markus 16:1,2,6 en Joh 20:1 dat Hy op die eerste dag van die week (letterlik die eerste dag ná die Saterdagsabbat) opgestaan het uit die dood. Daardeur het Hy die sonde en die dood en die hel oorwin. Hy het ons vrygekoop uit die slawediens van die sonde. Met hierdie daad het die Here Jesus hierdie dag vir Homself afgesonder. In Openb 1:10 sê Johannes dat hy die Openbaring op die dag van die Here ontvang het wat vir ons die aanduiding gee dat hierdie dag nou aan Hom behoort.

Ook die feit dat Hy ná sy opstanding twee keer op 'n Sondag aan die dissipels verskyn het, bewys dat Hy dit as 'n belangrike dag beskou het – Joh 20:1,19, 26.
Verder is die Heilige Gees ook die Sondag uitgestort. Hand 2:1 sê dit was op die dag van die Pinksterfees, presies 50 dae ná die opstanding. Met hierdie gebeure het die Here die belangrikheid van die Sondag beklemtoon en bevestig.

Ons moet verstaan dat die Here met 'n doel al hierdie dinge op die Sondag laat gebeur het. Die Sondag moes die dag word waarop sy gemeente moet feesvier omdat hulle Here hulle losgekoop het uit die hel.

Ons weet reeds dat die Joodse gemeentes nie die Sondag as rusdag gevier het nie. Paulus is deur die Here self onderrig om die rusdag op die Sondag te vier (Gal 1:11 e.v). Ons lees in Hand 20:6,7 dat Paulus op die eerste dag van die week gepreek het toe die gemeente bymekaar was om nagmaal te vier – die brood te breek. Die gemeentes moes op die eerste dag van die week fondse insamel vir die Christene in Judéa (1 Kor 16:1,2).

Waarom het Paulus op die eerste dag van die week gepreek, waarom het die gemeente op die eerste dag nagmaal gebruik en waarom moes die gemeente op die eerste dag van die week hulle bydraes vir barmhartigheidsdiens opsy sit? 
Omdat dit toe reeds gebruik was om op die eerste dag van die week, die Sondag, bymekaar te kom en die Here te aanbid.

Uit hierdie twee tekste is dit dus duidelik dat die kerk reeds in die tyd van Paulus begin het om die Sondag as rusdag te vier.

'N SKADUWEE VAN WAT SOU KOM
Ons het nou vasgestel dat, onder Paulus se bediening, die Sondag die rusdag geword het. Die vraag is egter: wat het die Here aan hom geleer omtrent die rusdag? Wat is die beginsel wat ten grondslag lê van die viering van die Sondag as rusdag? Ons weet dit is 'n herdenking van Christus se opstanding maar is daar dalk ook nog 'n ander motief?
Kol 2:16, 16: "Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot 'n fees of nuwemaan of sabbat nie, wat 'n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus."
'n Ander vertaling lui so: "Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus."
Hieruit is die bedoelingvan Paulus baie duidelik: Die Ou Testamentiese feeste en dae is nie meer van toepassing op die Christene nie.

Paulus het regdeur sy bediening te doene gehad met Jode wat die Joodse geloof op die Christene wou afdwing. Hier was dit weer so 'n geval. Sekere Jode het geglo dat wanneer iemand 'n Christen word, moet hy ook die ou Joodse gebruike onderhou as hy gered wil word. Nou kom Paulus en sê dat al daardie dinge net voorlopig was, 'n skadu van iets beter wat sou kom. Daarom word hulle 'skaduwees van die toekomstige dinge' genoem.

Die Ou-Testamentiese gebruike is skaduwees van iets anders wat nog nie sigbaar was nie. Dit is soos my skaduwee wat vir iemand sigbaar is sonder dat hy my kan sien pmdat ek om 'n hoek staan. Maar wanneer ek agter die hoek uikom, kan ek gesien word. Ek is tog baie meer as my skaduwee. My skaduwee is maar iets soos 'n teken van my koms of teenwoordigheid. Net so was die onderhouding van sekere seremoniële wette en van sekere feeste en die Saterdagsabbat, skaduwees van dit wat nog moes kom, naamlik Christus.

Ons moet verstaan dat alles in die Ou Testament geroep het na Christus. Elke seremonie, elke fees, elke offer, elke Sabbat het geroep na die Een wat moes kom. As iemand nou aan die skaduwee vashou maar die Een wie se skaduwee dit is, ignoreer of verwerp, is dit tog dwaas. Daarom sê Paulus dat Christus jou red, en nie die onderhouding van die seremoniële wette of die sabbat nie.

Die grondliggende motief vir die onderhouding van die Sondag en nie die Saterdag nie, is Christus se werk. In die Ou-Testamentiese tyd het die volk God op 'n besondere wyse gedien. Ons leer egter in die Nuwe Testament dat die hele Ou-Testamentiese diens na Christus heengewys het. Christus het hierdie diens kom vervul en 'n nuwe besondere inhoud daaraan kom gee.

Dit is daarom belangrik dat ons as Nuwe-Testamentiese Christene sal verstaan dat ook die Saterdagsabbat slegs 'n skaduwee, 'n heenwysing, was van Iemand wonderlik en groot, naamlik Christus. Hy is die inhoud van die Sondag. Sy koms, sterwe en opstanding is die grondmotief vir die onderhouding daarvan.

Uit dit wat nou gesê is, moet ons tot die gevolgtrekking kom dat God die Kerk deur middel van Paulus gelei het om Christus se opstandingsdag – Sondag – as rusdag te vier en nie meer die Saterdag as sabbat te onderhou nie.

 

 

Bronne:
Christelijke Encyclopedie, Wikipedia, prof W Geesink: Gereformeerde Ethiek.