HET EK 'N BESKERMENGEL?

Hy maak sy engele stormwinde en sy dienaars vuurvlamme. Hebreërs 1: 7.

Julle moet nooit een van hierdie kleintjies minag nie, want Ek verseker julle dat hulle engele in die hemel gedurigdeur by my hemelse Vader is. Matteus 18:10.

Elke Christen-gelowige aanvaar onbetwisbaar dat daar engele is, want die Woord van God leer ons dit. Maar in die Ou Testament lees ons verskeie kere van “die Engel van God “ wat aan mense verskyn het en nie ‘n gewone engel is nie, maar in werklikheid Christus self is wat met ‘n hemelse sending na iemand gekom het. Van die gewone engele van God lees ons in die Ou en Nuwe Testament. Hulle is, net soos die mens, geestelike wesens wat deur God geskape is. Hulle is baie in getal. Christus sê in Matteus 26: 53: Of dink jy dat Ek nie nou my Vader kan bid en Hy vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar sal stel nie?

Daar is verskillende soorte engele: Die Gerubs is rondom sy troon en openbaar sy krag op ‘n besondere wyse. Hulle het die Hof van Eden bewaak, sodat die gevalle mens nie weer daarheen kon terugkeer nie. Die Serafs of Serafyne waak vir die heiligheid van God. In Jesaja 6 lees ons hoe hulle uitroep: Heilig, heilig, heilig is die Here van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol! Die Skrif noem in Kolossense 1 : 16 ook nog trone, heerskappye, owerhede en magte onder die engele. Ons ken die name van twee engele, Gabriël, (die man van God) en Migael (wie is soos God?)

Die engele het ook ‘n sondeval beleef: (Judas vers 6) Die duiwel, wat voor die sondeval ‘n engel van God was, is die hoof van die gevalle engele.

Die engele het belangrike take om uit te voer, want hulle is dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van hulle wat die saligheid sal beërwe, om hulle op die pad van hulle geestelike lewe te bewaar, sodat hulle nie hul voete teen die klippe van versoekings en verleidings sal stamp nie. Die kleintjies in Matteus 18:10 is nie net kinders nie, maar gelowiges wat te klein is in hul geloof in Jesus Christus. Hulle mag nederige mensies wees wat deur die grotes geminag word en oor die hoof gesien word. Jesus sê die engele van God is gedurig met daardie mense se hemelse Vader in verbinding om hulle behoeftes aan Hom bekend te maak sodat Hy daarin kan voorsien.

Elkeen van ons kan dus nie persoonlik aanspraak maak op ‘n beskermengel nie, maar ons weet dat die engele opdrag het om die Here Jesus se belofte in Johannes 10:28 uit te voer: Ek gee hulle die ewige lewe en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.