WEGRAPING: FEIT OF DWALING?

Lees meer by Aktuele vrae

Ds AE vd Berg

“Want die Here sal self van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met die geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.  Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in die wolke weggevoer word. Die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees”   (1 Thess.4:17)

Wat is die wegraping?  Sommige noem dit ‘n 'geseënde hoop'. Dis ‘n leuen en gruwelike misleiding!    Waarom?  Omdat dit twee wederkomste leer.  Met die eerste wederkoms sit Christus geen voet op die aarde nie, maar hang in lug terwyl Hy sekere gelowiges oppluk om vir ‘n tyd lank in die hemel te wees.  Daarna kom Hy weer na die aarde vir die groot oordeel.

Waar kom mense aan hierdie dwaling?  Ons leef in tyd waar mense kennis van die godsdiens tweedehands verkry.  Hulle lees nie die Bybel nie, maar hoor wat ander sê. So word miljoene boeke met dwaalleringe jaarliks oor die wêreld heen verkoop. Mense laat vaar die persoonlike verantwoordelikheid om die Bybel te lees en hulle van die waarheid te vergewis.   Daarom begin mense dinge wat nie in die Bybel staan nie te glo.  Die wegraping is ‘n klassieke voorbeeld hiervan!

Dis ‘n gewilde onderwerp onder Amerikaanse dwaalleraars soos Hal Lindsay met sy 'The Late Great Planet Earth' en Tim La Haye met sy 'Left Behind'.  Maar waar kom hierdie dwaalleer vandaan?   Dit begin strenggesproke by John Nelson Darby, ‘n 19e eeuse prediker wat geglo het dat dit die kerk se plig is om die Koninkryk van God te laat verwerklik.  God laat nie die koningryk kom nie, maar die kerk.   Dit het al baie kerke in die politiek laat beland deurdat hulle die politiek wil voorskryf.

Daarby is geglo dat die wegraping ‘n nuwe waarheid was wat God aan hom openbaar het.   Daarom weet die Bybel en die kerkgeskiedenis niks daarvan nie.   Dit as sulks laat gevaarligte brand!  “terwyl julle veral dit moet weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie”  (2 Pet.1:20).  Die Bybel sê dat dit met homself ooreenstem en nooit weerspreek nie.   Die wegraping weerspreek dus die Bybel!  As dit Skriftuurlik was, sou dit baie duidelik en sonder ‘n omhaal van woorde in die Bybel gestaan het; veral in die Profetiese Rede (Mt.24,25) en vroeë Belydenisskrifte.  Die leer van die wegraping druip elke toets.  Dit kan ook nie anders nie; dis ‘n leuen!

Daarby word ‘n onderskeid gemaak tussen die uitdrukkings 'dag van Christus'' en dag van die Here'.  Eersgenoemde verwys kwansuis na die wegraping en laasgenoemde na die  wederkoms.   Nee, beide het met die wederkoms te doen wanneer Christus voet op aarde neersit: “Kyk, daar kom ‘n dag vir die Here... en die Here sal uittrek en stryd voer teen die nasies... En in diè dag sal sy voete staan op die Olyfberg...” (Sag.14:1-4).

Voorstanders van die wegraping haal graag Hand.8 aan waar Filippus die evangelie aan ‘n hofdienaar verkondig het en daarna deur die Gees na Asdod weggevoer is.  Is Filippus miskien na die hemel weggeraap?  Allermins!  Al die tekste (vyf van hulle) waarmee dwaalgeeste die wegraping probeer bewys, het baie duidelik met Christus se wederkoms te doen.

Waar kom die begrip wegraping vandaan?   In Engels is dit 'rapture' en kom van die Latyn 'rapere' wat beteken om op te pluk of te ontvoer.  Hierdie woord kom nie in 1 Thess.4:17 (wegvoer) voor nie.  Die Griekse taal het sterk en swak werkwoorde. Wegvoer is ‘n sterk werkwoord harpagesometha.   Dit beteken nie ontvoer of om op te pluk nie, maar kombineer die gedagte van mag en skielikheid.  Christus het al die mag om gelowiges in ‘n oogwink saam met Hom hemel toe te neem sonder dat iemand hulle kan terughou, nie eens die Satan nie!

Paulus gebruik diè sterk werkwoord met goeie rede.  Die gelowiges in Thessalonika het ‘n probleem gehad toe sommige van die gemeentelede wat toe so pas tot bekering gekom het, skielik oorlede is.   Het hulle ‘n agterstand gehad teenoor diè wat langer geleef het?  Paulus skryf: “Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie”(:13).  Wat ‘n troos; hulle het geen agterstand gehad nie!   “Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring” (:14).

Dwaalgeeste glo egter dat God sommige gelowiges gaan wegraap om hulle van die Groot Verdrukking te spaar.  En vir hierdie gewaande ontsnaproete gebruik hulle hierdie Skrifgedeelte.   Hier is geen sprake van ‘n ontsnaproete nie!  Dit bots eerder met vers 15 en 18: “Want dit sê ons vir julle deur die Woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal voor wees nie... Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde”

Wat sê die Skrifgedeelte vir gelowiges?  Ons moet mekaar bemoedig want ons al ons ontslape geliefdes weer sien!  Dis sal soos ‘n reünie van Christus en al sy kinders wees!   Wat van die ongelowiges wat sterf?  Ons sal hulle nooit weer sien nie. “En by dit alles is daar tussen ons en julle ‘n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat daar is, nie na ons kan oorkom nie” (Luk.16:26).  Daarom is die dood vir sommige ‘n vrees en vir ander ‘n vreugde!

Die leer van die wegraping skreeu vervolgens ook teen die boodskap van Openbaring.  Sê Openbaring dat God sommige gaan wegpluk om die Groot Verdrukking nie te sien nie?  Nee, net die teenoorgestelde; dat Hy deur verdrukking enduit saam met die gelowiges gaan loop om hulle by te staan.  Gevolglik trek die leer van die wegraping ‘n streep deur Openbaring.

Ons is in die pylvak van die wederkoms en moet derhalwe ‘n toenemende, verbete aanslag van die Satan teen die waarheid verwag.   Ons het net een kenbron vir die waarheid – die Bybel.   Dwaalleer is uit die Satan; die vader van die leuen.  Geen leuen so gevaarlik soos die een wat in ‘n kerk ontstaan en aan mense vir die waarheid voorgehou word nie!

Die Bybel leer geen wegraping nie, maar wel ‘n wederkoms soos die Skrifgedeelte dit baie duidelik maak.   Gelowiges wat ontslaap het, staan wel eerste op om Jesus tegemoet te vaar en Hom te gaan ontmoet.   Ook hierdie beeld is eie aan die tyd van die Bybel.  As ‘n koning ‘n stad binne gekom het, het die lojale onderdane hom tegemoet gegaan en in die stad verwelkom.  So sal dit ook aan einde van die tyd wees wanneer die Koning van die konings verwelkom word as Hy na die aarde terugkeer om die mensdom as Regter te oordeel.