WAT WEET DIE DODE VAN ONS?

“Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte.  En nou word hy getroos, maar jy ly smarte.” Lukas 16: 25

Weet ons dierbares wat heengegaan het, van ons en wat met ons op aarde gebeur?  Om ‘n sinvolle antwoord hierop te kan gee, moet ons eers kyk wat gebeur as ‘n mens sterwe.

Die siel gaan bewustelik oor na ‘n tussentoestand in die doderyk, of “Hades”.  In die doderyk is daar skeiding tussen die plek van heerlikheid en die plek van oordeel.  Die tussentoestand is voorlopig en onvolledig.  Volle heerlikheid of volle oordeel sal die verloste of die verlorene eers eenmaal smaak by die wederkoms van Jesus Christus as Regter.

Die Skrif bevestig aan ons dat die siel van die verloste in heerlikheid opgeneem word en geluksaligheid smaak, terwyl die siel van die verlorene reeds in die plek van oordeel is en van God verlate is.

Wat weet die afgestorwenes van hul dierbares op aarde?  Die dood bring ‘n totale breuk mee met die nog lewendes, maar die siel leef bewustelik voort in die doderyk en die gestorwenes herken diegene wat hulle op aarde geken het. (Jes 14: 10, 11).

Die gestorwenes onthou wat hulle op die aarde ervaar en gedoen het. (Openb. 6:10).

Die dood beroof nie die mens van sy kennis en bewussyn nie.  (Luk. 16:25, 27, 28).  Die ontslapenes dink nog, weet nog, voel nog en hulle ervaar óf blydskap in heerlikheid óf smart in oordeel.

Die ontslape siel is wel nie aartsgebonde nie, maar is plekgebonde. Hy is nie alomteenwoordig soos God nie en weet daarom nie alles wat op aarde gebeur nie.

Die ontslape siel is nie alwetend nie en het slegs ‘n beperkte kennis van aardse dinge, wat hulle van pasgestorwenes en van engele verkry.

Die ontslape siel word deur Gods genade bewaar van slegte en smartlike nuus.  Niks kan sy hemelse vreugde en blydskap by die Here versteur nie.

Die verloste siel verkeer nie in ‘n staat van niksdoen nie. Hy is besig om saam met die ander, God te aanbid en te prys en reikhalsend uit te sien na die dag van Christus se wederkoms.

Daar sal wel ‘n weersien van dierbares wees (2 Samuel 12:23) wat nie sal gaan om ’n sentimentele genieting van mekaar se teenwoordigheid nie, maar om die gemeenskap met Christus en die verlostes onderling.

Ons kyk egter soos deur ‘n spieël in ‘n raaisel: Eendag sal ons ten volle weet!