En hy oefen al die mag van die eerste dier uit voor sy oë...” Openbaring 13:11
Wie of wat is die Antichris en wanneer moet ons hom te wagte wees? Toe die apostel Johannes aan die einde van die eerste eeu na Christus in ‘n brief aan die gemeentes in Klein-Asië onder andere gewag gemaak het van die Antichris, kon hy nie dink dat dit met verloop van die eeue die verbeelding van die massas só sou aangryp nie.
Oor die Antichris weet ons nie baie nie. Die enigste gegewens wat ons het, vind ons in die Bybel. As ons dit noukeurig bestudeer, kom ons tog tot enkele verhelderende gevolgtrekkings.
Die Antichris is klaarblyklik nie Satan self nie, maar ‘n mens hier op aarde, iemand wat deur die duiwel in diens geneem word as die groot teenstander van Christus en sy kerk. Hy is ‘n mens uit die wêreld wat van God afvallig geword het, die verpersoonliking van die mensdom wat meen dat hy sonder God kan klaarkom.
Teen die einde van die tyd, net voor die wederkoms van Christus, sal daar ‘n reeks verskynsels plaasvind waarvan die hoogtepunt bereik sal word in die Antichris, die mens van sonde by uitnemendheid, die groot teenstander van Christus teen die einde. Hy sal ‘n diktator wees, iemand aan die hoof van ‘n wêreldryk, in verset teen God. Hy sal in die tempel van God sit en voorgee dat hy self God is. In hom sal die leuen wat Satan eenmaal in die paradys aan Eva vertel het, ook tot ‘n hoogtepunt kom: die mens sonder God wat soos God wil wees!
Die duiwel sal al sy mag gebruik om wonderlike dinge deur hom te vermag. Hy sal sonder twyfel magtige tekens en wonders kan doen, waardeur die groot massas meegesleur sal word. Satan sal hom selfs in staat stel om iets te doen wat met Christus se kruisdood en opstanding vergelyk kan word.. Menslike prestasie sal onder sy bewind ‘n ongekende hoogtepunt bereik. Hy sal homself ook vestig deur ‘n magtige propaganda-netwerk.
Voor die tyd sal daar baie voorlopers van die Antichris wees. Die vroeë Christene het vir Nero. die berugte Romeinse keiser, as die Antichris bekou. Daar was ook deur die eeue heen ander Antichriste, as voorlopers van die mens van sonde wat nog moet verskyn. Hulle is ook vandag bedrywig en sal dit wees tot aan die wederkoms van Christus. Hulle loën die bestaan van God die Vader en van Jesus Christus, die Seun. Hulle ontken dat Jesus die Christus is en beweer dat Hy nie in die vlees gekom het nie.
Ons dank die liewe Here dat die mag van die Antichris nie ‘n absolute en onoorwinlike mag is nie. Hy kan net bestaan omdat God dit toelaat en ons sien hierdie dinge as voorbereiding van die gelowiges op die wederkoms van Christus. Die Skrif sê: “Wie volhard tot die einde toe, sal gered word.” Die Antichris sal nog ewe hard besig wees om homself te verhef bo God, dan verskyn Christus as Oorwinnaar en Regter!