MOET ONS MAGSMISBRUIKERS GEHOORSAAM?

Wees aan God meer gehoorsaam as aan mense.” Handelinge 5; 29

Die Bybel beveel ons op etlike plekke om die politieke regeerders wat oor ons gestel is, te gehoorsaam.  “Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat aan hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie.” (Romeine 13:1) Ook in Titus 3:1 lees ons dat die Here wil dat ons ons moet onderwerp aan owerheid en gesag, maar ons moet bereid wees om alles te doen wat goed is.  In I Petrus 2 vers 13 en 14 sê die Woord dat ons gehoorsaam moet wees aan hulle wat oor ons gestel is, want hulle is daar om dié wat kwaad doen, te straf, maar dié wat goed doen, te prys.

Hierdie opdrag geld nie vir Suid-Afrika onder die huidige omstandighede nie, want die owerheid ondersteun die kwaaddoeners; hy moedig dié wat kwaad doen aan om nog meer kwaad te doen en ondersteun nie dié wat goed doen nie.  In Suid-Afrika word die mag en outoriteit wat God aan die regeerders gegee het, misbruik.  Hulle doel en late en hul wette is teenstrydig met die Skrif.

Daarom mag ons as Christene ons nie daaraan onderwerp nie, maar moet aan God gehoorsaam wees.  In Handelinge 5:29 en 4:19 lees ons dat die apostels botweg geweier het om hulle aan die regeringsowerhede te onderwerp, op grond daarvan dat dit teen die wil van God was.  In I Timoteus 2:1 lees ons dat ‘n Christen sy regeringsleiers moet ondersteun deur ernstig te bid dat hulle gered sal word en met goddelike wysheid vervul sal word. Maar as die leiers egter boos is en teen God se Woord optree,  moet jy as Christen bid dat hulle van  hul poste onthef sal word.

Ons weet dat dit onder ons landsomstandighede onmoontlik is om hierdie demoniese terroriste-owerheid weg te stem en ons weet ook dat die satan nooit sal toelaat dat hulle hul tot God bekeer nie.  Maar dis ons Christelike plig om voordurend te bid dat die Here ons van hul hiel sal verlos, dat Hy die strafgerig waarmee ons geteister word, sal ophef en dat Hy ons volkome sal vrymaak om as Afrikanervolk weer in voorspoed onder sy heerlike genade in ons vrye vaderland te leef.