WANNEER BID ONS VERKEERD?

Eers sê Jacobus:  “Julle kry nie omdat julle nie bid nie.”

Maar dan gaan hy verder:
“As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid:
julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig”
(Jak.4:3).


Wanneer bid ons verkeerd?
Wanneer ek in plaas van God se eer en God se koninkryk in die middelpunt van my gebede staan.

God het ons nie geleer om vir rykdom te bid nie. Hy het geleer:  “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” Hy wil hê dat ons tevrede sal wees met wat ons het.  Rykdom bring ruimte vir uitspattigheid.  Daarom kan ‘n gebed vir rykdom  God se eer aantas.  Rykdom gaan immers oor eie gerief.

Netso is dit selfsugtig as ek begin bid dat ek of my gesin of my groep êrens in ‘n magsposisie moet kom.  Dit stel tog duidelik my belange voor dié van ander.  Dien ek so God se koninkryk?

Dit is ook ‘n kwade dag as ek in my godsdiens vir my groep teen ander groepe begin bid:  “Here, bewys tog dat my doopsiening reg is en hulle s’n verkeerd.  Here, staan tog aan ons kant as die onderdruktes teenoor hulle wat ons onderdruk. Here laat ons getalle groei ten koste van hulle.

Sien jy die selfsug in die gebede?  Nie God en sy eer nie, maar ek en my eer is in die middelpunt.  So sal ons nie ontvang nie.  Ons Meester soek gebede wat volgens sy wil is.

“Here, maak my ‘n draer van u vrede.  Here, laat kom u koninkryk in ons
kerk en in ons sportklub en my eie hart.  Here, help my om met liefde na
elke medemens te kyk.”

Dit dra ‘n ander gesindheid.  So ’n gebed wil die Here hoor en verhoor.

Gedagte om te onthou: Gebed behels nie om God oor te haal
om te doen wat jy wil hê nie, maar om tot die aanvaarding van
God se wil te kom.