WAAROM VERWERP CHRISTENE EVOLUSIELEER?

“In die begin het God die hemel en die aarde geskape.” Génesis 1:1

“En die Here God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy gees die asem van die lewe geblaas.” Génesis 2:7

“En die Here God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot ‘n vrou en bring haar na die mens.” Génesis 2:22

Hierdie verslag uit die Woord van God oor die skepping van die mens, het pas weer in die media onder bespreking gekom toe die Moderator van die NG-Kerk bely het dat hy dit glo, want sy voorouers was nie ape nie.   Volgens die media het toe onder andere ‘n paleontoloog die Moderator “dom” genoem en gesê dis belaglik om so iets te glo en dit betwyfel of hy ooit genoeg lees.

Daarmee het hierdie aanhanger van die evolusieleer onomwonde te kenne gegee dat hy en sy mede-evolusioniste nie in die Woord van die Here glo nie.  Hulle is dus nie Christene nie en moet daarvolgens beoordeel word.

Christene aanvaar die eerste hoofstuk van Génesis soos dit geskryf is omdat dit beskryf wat God op elk van die ses dae van die skepping bereik het. Om evolusie te aanvaar, moet ‘n Christen die verhaal van die skepping, soos dit in die Bybel staan, verwerp.

Ons kan nie evolusie aanvaar nie want dis net ‘n onbewese hipotese en geen feit nie.  Dis ‘n vooropgestelde proses wat nie bewys is nie, maar opgebou is uit teenstrydige gegewens en gegewens wat nie bewys kan word nie.  Hulle kan nie “die ontbrekende skakel” vind nie en slaag ook nie daarin om die oorsprong van lewe te vind nie en kan ook nie verduidelik hoe iets uit niks kan ontstaan nie.