Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by Openbaring - Boek van die hede
1. ʼn Goddelike tapisserie
Vir oningeligtes mag Openbaring dalk soos ʼn omgekeerde tapisserie lyk. Maar soos wat ʼn mens met studie vorder, sien jy ʼn meesterlike samevoeging van verskillende elemente tot ʼn geheelharmonie. Openbaring is ʼn dramatiese vertelling van God se betrokkenheid by mense wat in moeilike omstandighede op pad na die finale einde verkeer. Openbaring het talle indelings wat elkeen ʼn belangrike element beklemtoon.
Wanneer Openbaring deurgelees word, lyk dit soos ʼn kaleidoskoop van losstaande visioene, verhale en gebeure sonder ʼn eenheidslyn. Dis egter nie die geval nie. Soos wat daar met die studie gevorder word, ontvou die geheelbeeld.
2. Onderdele
Openbaring bestaan uit twee dele. Hoofstuk 1-3 handel oor die hede en 4-22 oor die toekoms. Dit bevat die volgende onderdele: Briewe, simbole en beelde, getalstrukture, tussen-tonele, liedere en herhalings.
Die briewe help lesers om nie so teen hulle omstandighede vas te kyk dat hulle vergeet dat daar ʼn God bo hulle is nie . Simbole en beelde maak lesers met die skryfstyl vertroud. Getalstrukture soos reekse van sewe dui op die heilige getal met die Heilige in beheer van sake. Tussen-tonele sowel as liedere dien as kommentaar op gebeure (15:2-4; 20:4-6). Die talle herhalings wat voorkom dien om gebeure te beklemtoon.
3. Die getal sewe
Die sewevoudige indeling is opvallend. Hoofstuk 1-3: sewe briewe aan sewe gemeentes. Hoofstuk 4-8:1: sewe seels. Hoofstuk 8:2-11:19: sewe trompette. Hoofstuk 12-14:20: sewe visioene. Hoofstuk.15-18: sewe wraakbakke. Hoofstuk 19-22: sewe laaste visioene.
Openbaring val in sewe dramatiese bedrywe uiteen (i) die kerk op aarde (ii) God in die hemel (iii) sewe engele (iv) verlossing van die triomferende kerk (v) sewe engele in ʼn wêreld van angs (vi) die vernietiging van Babilon en (vii) die kerk na die wederkoms. Let daarop dat Openbaring met die oordeel oor die kerk begin maar met die verlossing daarvan afsluit. En dit gebeur nadat God sy oordeel oor die wêreld en die vyand uitgespreek en voltrek het.
4. Funksie en kontraste
Openbaring het ʼn bepaalde funksie om aan mense in krisissituasies ʼn boodskap van hoop en moed vir die toekoms te gee. Daarom begin die eerste hoofstuk met die verheerlikte Christus wat midde in sy kerk en derhalwe by gelowiges se lot betrokke is. Hy is nie in die hemel toegesluit en die gelowiges aan hulle eie lot op aarde oorgelaat nie. Hy is by hulle soos wat Hy belowe het (Mt.28:20).
Let ook op die kontraste – Johannes bevind hom in ʼn woestyn (17:3) en dan weer op ʼn hoë berg (21:10). Nog ʼn opvallende kontras is die sedelose vrou teenoor die bruid van die Lam en die val van Babilon teenoor die Nuwe Jerusalem.
5. Drie bedrywe
Openbaring is ʼn dramatiese vertelling in drie onderskeie bedrywe (i) God is deur die verheerlikte Christus in die kerk teenwoordig (ii) God oordeel die wêreld (iii) God staan in die geskiedenis wanneer Hy Babilon vernietig en die Nuwe Jerusalem uit die hemel laat neerdaal.
In elk van die bedrywe is verlossing en oordeel ter sprake. Dit gaan ten diepste oor God se heerskappy wat onder mense op aarde gevestig en erken moet word. Dit word as ʼn onverkwiklike stryd van God teen die Bose teen die agtergrond van Christus se geboorte, dood en verheerliking geteken. Gelowiges is in die spervuur van Satan en kry bitter swaar maar is alreeds van die finale uitslag verseker al moet die stryd nog daagliks gestry word. Hulle vind hul krag in die Christusverhaal. Elke bedryf berus op die offer van die Lam.
In die eerste bedryf is God deur die verheerlikte Jesus in die kerk teenwoordig. Johannes is slegs die ontvanger van die boodskap wat deur Christus aan hom geopenbaar is (1:1). God praat met gelowiges ontvangers op grond van Jesus se verlossingswerk (1:5). Christus is die Verheerlikte wat midde-in sy kerk stelling ingeneem het (1:12,13). Oorweldig deur hierdie gesig val Johannes aan Jesus se voete neer (1:17).
In die sewe briefboodskappe gaan Jesus die gemeentes tegemoet. Elke gelowige erken homself in elke boodskap. Dit wat vir die een gemeente geld, geld ook vir die ander. In die boodskap aan Efese, Pergamus en Thiatire waarsku Christus teen dwaalleer, afgodery en bose kompromie. Hy waarsku Sardis oor haar doodsheid en Laodicea oor haar louheid.
In die tweede bedryf sien ons die oordeel van God in die wêreld. Dit begin met ʼn visioen van God wat op ʼn troon sit (4:2). Hy neem ʼn boekrol ter hand wat die gang van werksgeskiedenis bevat. Wanneer dit oopgemaak word, sien Johannes sewe seëls. Elkeen hiervan het met ʼn voorspel van God se oordeel te doen. Die eerste vier seëls wat oopgemaak word, teken vier perderuiters wat valse profesie, oorlog, hongersnood en die dood simboliseer. As die vyfde seël oopgemaak word, klink die stemme van die martelare op wat God versoek om geregtigheid te laat geskied.
Wanneer die sesde seël oopgemaak word, tref ʼn groot aardbewing as teken van God se felheid in sy oordeel die mensdom. Daarna verskuif die fokus na sy verlossing wanneer die simboliese 144,000 gelowiges as sy eiendom simbolies verseël word. God gee vir sy eiendom om!
Die sewende seël bring ʼn halfuur se stilte in die hemel, ʼn dramatiese inleiding tot die reeks trompette wat gaan blaas. Die eerste vier kondig God se oordeel oor die land, see, waters en hemelruim aan en herinner aan die 10 plae in Egipte wat die uittog van God se volk vooraf gegaan het. So sal hierdie trompette die inleiding wees tot die volk van God (kerk) se uittog uit die wêreld na die Nuwe Jerusalem.
Die vyfde trompet kondig ʼn sprinkaanplaag aan en die sesde die intog van ʼn ruitery wat alles wat voorkom sal vernietig. Desondanks sal die goddelose weier om hul te bekeer. Daarna volg ʼn verlossingtoneel. Johannes moet ʼn boek eet. Dis soet in sy mond maar bitter in sy maag. So sal die ontvangs van God se boodskap aangenaam wees, maar die gevolge veeleiesend. Die sewende trompet beskryf God wat as Heerser oor die wêreld geprys word. Daar kom egter ʼn nuwe element by – Christus, die gesalfde, heers saam met Hom (11:15).
Die derde bedryf beskryf God se verlossing en oordeel in die geskiedenis. Dit begin by die geboorte van die Christuskind en eindig by sy wederkoms. ʼn Swanger vrou, op die punt om geboorte te skenk, verskyn op die toneel, Teenoor haar verskyn Satan as ʼn draak om die pasgebore kind te verslind. Die kind word weggeruk na die hemel terwyl sy moeder (kerk) na die woestyn vlug waar God hulle versorg - verlossing in krisistyd.
In ʼn tussen-toneel word Satan as verloorder uit die hemel gegooi sodat God se alleenheerskappy ten volle in die hemel erken word. In hierdie stryd word Satan as ʼn bose driemanskap uitgebeeld – ʼn draak, dier uit die see en dier uit die aarde. Hierteenoor volg die oordeelsboodskappe deur drie engele. Hierna volg die finale reeks oordeelvoltrekkings wanneer bakke gloeiende kole op die aarde uitgegooi word.
Die eerste vier bakke se inhoud val op die aarde, see, waters en hemelruim (soos die trompette). Die vyfde bak veroorsaak duisternis oor die koninkryk van die dier en fisiese pyniging. Nogtans bekeer die goddelose hul nie. Die sesde bak val op die Eufraatrivier wat opdroog en die sewende word in die lug uitgegooi wat die indruk wek dat die einde aangebreek het. Dan word die listige Babilon vernietig waarna konings en sakelui se genot en sakebedrywighede tot niet is.
Christus word nou ook as regter geskets wat die twee diere wat in diens van Satan is, die Antichris en valse profeet saam met die Satan in die vuurpoel gegooi word. Die res van die mensdom, lewend en dood, verskyn voor God se wit troon. Slegs diegene wie se name in die boek van die lewe staan, spring die ewige dood in die vuurpoel vry. En so kom God se oordeelvoltrekking tot ʼn einde. Daarna daal die Nuwe Jerusalem uit die hemel neer.
Vervolg...