Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by Openbaring - Boek van die hede
1. Verskillende verklarings
Daar is geen boek in die Bybel met soveel meningsverskille as Openbaring nie. Dit het al selfs tot kerkstryd en kerkskeuring gelei. Een van die gewildste verklarings in Charismatiese kringe is die Chiliastiese verklaring – om die 1000 jaar van Openb.20:1-6 as ʼn letterlike tydperk te verstaan. Chilioi is die Grieks vir 1000. Dit word ook die millennialistiese benadering genoem. Mille is die Latyn vir 1000.
Aanhangers van die Chiliastiese verklaring verskil ook van mekaar. Een groep glo dat die 1000 jaar ʼn vrederyk is wat met Christus se eerste wederkoms aanbreek wanneer Hy saam met die gelowiges op aarde sal regeer. Dis glo die eerste opstanding. In hierdie tyd sal die Jode tot bekering kom en aan die einde van die tydperk sal Satan vir ʼn tyd lank losgelaat word. Die finale slag is by Armageddon waar Satan en sy bose magte verslaan word. Daarna vind Christus se tweede wederkoms en finale oordeel plaas. Hulle haal ook uit Daniël aan. Hierdie verklaring is Bybels onaanvaarbaar want om Daniël op gelyke voet met Openbaring te plaas, is onverantwoordelike Skrifhantering. Die Bybel se dat daar net een wederkoms gaan wees! Gevolglik moet die getal 1000 simbolies verstaan word.
Die allegoriese verklaring slaan die bal net so ver mis. Dit word ook die vergeestelike vertolking genoem. Dit was onder sommige van die ou kerkvaders soos Oregenes baie gewild. Dit kom daarop neer dat daar agter elke oppervlakbetekenis van ʼn teks ook ʼn dieperliggende geestelike betekenis gesoek moet word - daar is ʼn geestelike bedoeling versteek. Die gevaar is dat eie betekenisse daaraan geheg word. Dan word dit nie uitleg- maar inlegkunde!
Openbaring kan nooit losgemaak word van die geskiedenis waarin dit ontstaan het nie. Die tydgleuf waarin dit geskryf is, is 95-96nC. Desondanks gee Openbaring nie klinkklare uitsluitsel oor die verlede, hede of toekoms nie. Ene Kokkejus het die 7 briewe van Openb.2 en 3 as die geskiedenis van die kerk beskou. (i) Efese: Vanaf die hemelvaart tot en met die tyd van die apostels. (ii) Smirna: Die Martelaarstryd tydens die keisertyd (iii) Pergamus: Staatskerk (300-600nC). (iv) Thiatire: Pouslike kerk (v) Sardis: Tyd van die Hervorming (vi) Filadelfia: Suiwering van die kerk (vii) Laodicea: Kerk in die eindtyd. Dis vindingryk maar verwarrend!
Die toekoms-vertolking was meer gewild. Hiervolgens handel Openbaring by uitstek oor die toekoms, veral die eindtyd. Dit was veral in die 16de eeu gewild onder die Hervorming wat aan die hand van Openbaring die Roomse Kerk in ʼn swak lig gestel het. Die tyd-historiese verklaring maak weer erns met geskiedkundige gebeure en die situasie waarin die skrywer hom bevind het – dié in Klein-Asië rondom 95 nC. Van hulle meen dat Openbaring teen die agtergrond van keiser Nero of Domitianus se bewind afspeel. Die dier (Antichris) word met die keiser vereenselwig en die valse profeet met keiserverering. Die probleem van hierdie vertolking is dat dit nie die slothoofstukke van Openbaring kan verklaar nie.
Ons aanvaar dat Openbaring primêr aan gelowiges aan die einde van die eerste eeu gerig is maar dat dit ook, veral in die slothoofstukke, aan gelowiges van die toekoms gerig is en by die wederkoms eindig. Dis geskiedkundig plus toekomsgerig.
2. Die hartklop van Openbaring
Die hartklop van die drie dramatiese bedrywe gaan oor die vestiging en erkenning van God se heerskappy op die aarde soos dit alreeds in die hemel bestaan (Openb.12:7-9). Die OT se onomwonde dat God reeds Koning van Israel is (Ex.15:18). Meer as dit – ook Koning oor die hele wêreld (Jes.6:5). Die Jode het verwag dat God sy alleenheerskappy fisies op aarde sou vestig. Na die terugkeer uit die ballingskap het die verwagting egter verflou. Wat hulle uit die oog verloor het, was dat God se vestiging van heerskappy nie in ʼn oomblik sou plaasvind nie, maar oor eeue. Dit het met die menswording van sy Seun begin en eindig met sy wederkoms. As ons bid dat God se koninkryk mag kom, bid ons dat sy alleenheerskappy dit al hoe duideliker sal word.
3. Die boodskap van Openbaring
Die boodskap van Openbaring begin by God en eindig by Hom - dis ʼn God-boek. In 1:18 vind ons drie van die vier belangrikste beskrywings van God – die Alfa en die Omega, die Almagtige en die Een wat is, wat was en wat weer kom. God het Hom in die verlede as God betoon, Hy heers in die hede en sal alles in die toekoms voleindig. Hy is die Heer van die geskiedenis van die begin tot die einde. Hy is ook almagtig al het Rome hard probeer om beheer oor die geskiedenis te verkry. Hy het Rome se mag op sy tyd beëindig. Elke oordeelsvoltrekking kom van God se troon af!
4. Die Persoon van Christus
Die Persoon van Christus word met God gelyk gestel. Dieselfde beskrywings wat vir God gebruik word, word ook vir Christus gebruik. (vgl. 1:17 met 1:8 en 22:13 met 21:6). Christus is net soos God ook ewig. Die koms van God na die aarde val saam met Christus se wederkoms. Christus het God sigbaar gemaak. Daarom word Christus ook aanbid. Hy is God se bemiddelaar van verlossing en oordeel en het God se plan met die mensegeskiedenis kom uitvoer. ʼn Interessante beeld wat voorkom, is ʼn eindtyd-eksodus. Net soos wat Israel van Egiptiese onderdrukking bevry en na Beloofde land getrek het, is die nuwe Godsvolk gesimboliseer met 144000 op pad na die Nuwe Jerusalem. Die boekrol bevat God se bloudruk van hulle nuwe toekoms (Openb.5:1-9). Hulle getuienis lei daartoe dat nasies hul bekeer asook ʼn stryd ontketen waarin die martelare die heidenvolke oorwin (Openb.14:6-11). Die bose Babilon word oorwin en die gelowiges vier fees (Openb.15:1-4).
5. Die Heilige Gees
Die Heilige Gees speel ʼn groot rol om God se alleenheerskappy op die aarde te vestig. Die uitdrukking sewe geeste beskryf die krag van die kerk se profetiese getuienis in die wêreld. Die Gees is die agent vir Johannes se visioene.
6. Die nuwe Jerusalem
Openbaring se verhaal speel teen die agtergrond van stede af. Die 7 briewe is aan gemeentes in stede in Klein-Asië gerig. Babilon simboliseer Rome en Jerusalem is die naam van die hoogtepunt van verlossing. Die heilige stad van Openb.11:2 moenie met die aardse stad verwar word nie. Dit verwys na die kerk wat onder die vervolging van die Antichris ly. Lesers word aangemoedig om hulle van die sedelose Babilon en haar bose invloed te distansieer en eerder met die nuwe Jerusalem te assosieer. Slegs gelowiges sal dit bewoon.
8. Agter die skerms
Openb.12:7-9 gee ons ʼn kykie op wat agter die skerm aangaan – die stryd tussen God en die bose. Aan die een kant staan die draak en sy volgelinge en aan die ander kant die engel Migael en sy volgelinge. Dis ʼn stryd wat in die hemel begin het. Die draak het verloor en is saam met sy trawante uitgewerp. Daar is eenstemmigheid in die hemel – God is die alleenheerser. Dis ongelukkig nog nie die geval op die aarde nie. Die gevolg is dat God n program van stapel gestuur het om die erkenning van sy alleenheerskappy ook op die aarde gevestig te kry. Die hooffiguur hierin is Christus. Johannes moes die verloop van hierdie program in 22 hoofstukke opteken. Daarom is Openbaring ʼn dramatiese vertelling van God se verlossing en oordeel.
Vervolg...