Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by Openbaring - Boek van die hede
Mense en gebeure
- 1. Die godsdienstige bure
Paulus sê in sy toespraak op die Areopagus dat die Atheners baie godsdienstig is (Hand.17:22). Die Grieks-Romeinse wêreld het ʼn veelgodedom gehuisves waarin gode en godinne vereer is. Die godin Athena het Athene beskerm en Artemis vir Efese. Tempels is vir hulle opgerig, asook beelde wat aanbid is. Feeste en spele is ook aan hulle gewy sodat die beleweniswêreld van die Christene in Klein-Asië met veelgodedom besmet was. Onder invloed van die filosowe het die rasionalisme mettertyd die ou gode verdring en het die mens met behulp van sy verstand sy eie verlossing bewerkstellig.
In hierdie tyd het die misteriegodsdienste ook baie opgang gemaak en het die klem van ʼn staatsbeheerde godsdiensbeoefening na privaat aangeleentheid verskuif met klem op die lewe na die dood. Ingewydes het ʼn baie hegte broederskap gevorm. Waarsêery, toekomsvoorspellings en astrologie, wat mense se toekoms volgens die sterre stand voorspel, was veral gewild. So ook toorkuns. In die Ooste is konings as seuns van gode gesien. So is die Farao van Egipte as die seun van die songod gesien
In die Romeinse Ryk was keiserverering aan die orde van die dag. In die tyd van keiser Augustus (27vC-14nC) is dit na die ander provinsies soos Klein-Asië, uitgebrei. Keiseraanbidding is eers onder Domitianus (81-96nC) afgedwing. Toe Christene weier, is hulle as ondermyners van die staat beskou en vervolg. Johannes is juis so verban!
- 2. Die Makkabese opstand
Sirië het in 200vC in besit van Palestina gekom en het Antiochus III beheer verkry. Hy was tegemoetkomend teenoor die Jode en het selfs die tempeldiens uit die staatskas gesubsidieer. Hy was ten gunste van die vergrieksing van Judea, iets wat baie Jode nie aangestaan het nie. Sy opvolger, Antiochus IV was egter ʼn tiran wat die Griekse leefstyl en gewoontes op Jode afforseer het.
Die hoëpriester van die Jode moes sorg dat hy sy belasting van Judea ontvang het wat die politieke aanstellings van hoëpriesters aan die orde van die dag laat kom het – skoothonde van die onderdrukkers. Daarbenewens het Antiochus IV die tempelskatte gekonfiskeer, die besnydenis en onderhouding van die Sabbat verbied en ʼn altaar vir Zeus in die tempel laat bou. Sy optrede het hewige reaksie ontlok en ʼn groep vromes, die Hasidiërs, laat ontstaan uit wie se geledere die latere Esseners en Fariseërs ontstaan het.
Een van hul priesters, Mattatias, en sy vyf seuns met die derde seun, Judas Makkabeus, as leier, het ʼn suksesvolle opstand gelei en die Siriese bewind gebreek - die Makkabeus-opstand (Makkabeur is Hebreeus vir hamer). Daarna het godsdiensvryheid gevolg en is die tempel gereinig.
3. Die Joodse oorlog
Die tempel was die middelpunt van die Jode se godsdiens. Verskeie Romeinse prokurators het openlik met die godsdiensbesielde Jode gebots wat tot die ontstaan van die Selote, ʼn versetorganisasie, aanleiding gegee het. Hulle was verantwoordelik vir die Joodse oorlog wat in 66nC uitgebreek het toe die vernedering onder Romeinse juk te veel geword het. Baie Christene het uit Jerusalem pad gegee en na Klein-Asië gevlug. In 70nC is Jerusalem verower en die tempel wat toe pas voltooi was, vernietig. Eleasar en ʼn groep Selote wat tot op die laaste weerstand gebied het na Masada gevlug waar hulle in 73nC almal selfmoord gepleeg het. Jode sou eeue later nog oor die trauma van die tempel treur. Al wat volgens oorlewering daarvan oorgebly het, is die klaagmuur.
4. Die Selote
Die Selote (yweraars) het uit Joodse patriotisme in die vergrieksing van Palestina ontstaan. Simon, een van die dissipels was ʼn seloot (Luk.6:15; Hand.1:13). Hulle sterk eindtyd verwagtings het hulle die wapen teen Rome laat opneem. Hulle het vas geglo dat God sy heerskappy binnekort sou vestig en die Jode van hul onderdrukkers sou verlos. Hulle het al hul besittings prysgegee en martelaarskap aanvaar.
5. Die verstrooiing
Die Jode het geglo dat die verstrooiing God se straf op hul ongehoorsaamheid was. Diegene in die verstrooiing moes voor die vernietiging van die tempel elke jaar geld vir die instandhouding van die tempel na Jerusalem stuur en die band met die Palestynse Jode heg gehou. Talle Jode het na die Babiloniese ballingskap in Mesopotamië agtergebly en na die Joodse oorlog as gevolg van vervolging en ekonomiese omstandighede na Klein-Asië, Macedonië en Egipte uitgewyk en afgesonder van die plaaslike inwoners gewoon. Laasgenoemde het hulle selfs as mensehaters gebrandmerk.
Baie van hulle het egter by die Griekse omgewing waar hulle gewoon het ingeskakel en hul kinders na Griekse skole gestuur. Paulus is n goeie voorbeeld hiervan. Hy was ʼn gehelleniseerde Jood wat volle Romeinse burgerskap in Tarsus geniet het.
6. Die sinagoges
Die eerste lesers van Openbaring het hegte bande met die sinagoges in hul gebied gehad. Die sinagoges was die godsdienstige hartklop van die Jode in die verstrooiing. Oral waar Joodse gemeenskappe ontstaan het, was daar sinagoges. In Handelinge word ʼn aantal van hulle genoem – Damaskus (9;2), Antiochië (13:14), Ikonium (14:1), Thessalonika (17:1), Korinte (18:1-4) en Efese (18:24-26). Die apostels het ruim van die sinagoge netwerke gebruik gemaak omdat die taal daarvan Grieks was en heidenbekeerlinge nie Hebreeus geken het nie. Die hoofelement van so ʼn diens was die uitleg van die Wet en gebede.
Die sinagoges is ook as ʼn kulturele skool gebruik waar gelowiges in Klein-Asië byeen gekom het. Enersyds was daar ʼn hartlike samewerking in die Joodse gemeenskappe maar andersyds het die Christen-Jode se belydenis van Jesus as die Messias ʼn diep godsdienstige kloof geskep.
7. Die Romeinse provinsie Klein-Asië
Klein-Asië was sedert 133vC die Wes-grens van die Romeinse ryk en Efese onder beheer van ʼn prokonsul die hoofstad. Daar was talle sinagoges in Efese omdat baie Jode daar gewoon het. Jode was selfs toegelaat om hul eie regsake te hanteer. Sardis se pragtige sinagoge het van ʼn finansieel sterk Joodse gemeenskap getuig.
Wanneer Griekssprekende Joodse Christene soos Paulus en Silas in ʼn nuwe stad aangekom het, het hulle in sinagoges, die gewildste ontmoetingsplekke, die Evangelie verkondig (Hand.13:14-16; 17:1-4). Die geloof in die enigste lewende God was die gemeenskaplike faktor tussen Jode en Christene. Driekwart van die gemeentes het uit gewese Jode in die verstrooiing bestaan.
Vervolg...