Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by Openbaring - Boek van die hede
Deur Jesus Christus geopenbaar
Openb.1:1-8; Mt.25:1-13
1. Van God aan Christus, die engel en Johannes
Die Grieks vir “openbaring” is apokalupsis, ʼn woord wat 44 keer in die NT voorkom. Dit beteken “om dit wat voorheen ongekend was bekend te maak”. Openbaring is die hoogtepunt van God se bemoeienis met die mens - die mens is nou oppad einde toe. Dis as’t ware God se stroomversnelling in die geskiedenis. Gevolglik is ons bevoorreg om met die volgende 22 hoofstukke saam met Johannes die wederkoms van Christus tegemoet te stap. Hy is nie net die skrywer van hierdie toerdokument nie, maar ook die organiseerder en toerleier van die interessante reis. Soms praat hy baie hard oor God se oordeel en dan weer sag oor vergifnis en verlossing.
Die verhaal begin heel voor by die paradys en loop dan verder, verby Golgota tot by Sionsberg waar die volle getal verlostes die lied van verlossing sal sing. Dit begin met ʼn profetiese inleiding (1:3). Die briefaanhef daarna is sprekend van die Griekse skryfstyl wat Paulus ook graag gebruik het.
Openb.1:7,8 is die as waarom die hele boek draai. God het die openbaring (onthulling) oor wat binnekort moet gebeur aan Christus gegee om aan sy dienaars bekend te maak. Hy het dit vir ʼn engel gegee om aan Johannes bekend te maak. Johannes is derhalwe die getuie van wat God gesê en Jesus bevestig het. Die briefaanhef begin soos wat ons normaalweg ʼn brief sou afsluit – met ons naam. Johannes begin daarmee.
2. Die indeling van Openb.1:1-8
Die eerste agt verse is sprekend van ʼn Griekse aanhef logies gerangskik. Die voorwoord (: 1-3) begin met ʼn opskrif – die openbaring van Jesus Christus. Dit vertel ook van ʼn proses wat plaasgevind het – Hy het dit aan die engel gegee en dié het dit weer aan Johannes gegee. Die gevolg is dat hy ʼn getuie is van wat hy gesien het (1:2). Die voorwoord eindig met ʼn seënspreuk (1:3). In die briefaanhef groet Johannes die sewe gemeentes. Hy sê eerstens wie hy is, tweedens vir wie die skrywe bedoel is, groet die geadresseerdes hartlik en volg dit met ʼn lofprysing op. Daarna volg die profetiese aankondiging (Christus kom weer op die wolke) en dan die Goddelike verklaring (God is die Alfa en die Omega).
Die boodskap wat Johannes moet aflewer is nie sy eie skepping nie, maar ʼn onthulling wat God deur Jesus aan hom gegee het oor dinge wat binnekort moet gebeur. Die inhoud is die bekendmaking van die onmiddellike toekoms. God wil sy wêreldplan aan gelowiges bekend maak – verlede, hede en toekoms. Die sentrale gedagte is dat God in beheer is. Openbaring is ʼn Godsboek met Christus in die hoofrol sonder dat die hegte verbintenis tussen God en Christus geskaad word. Aan die einde neem hulle saam stelling op die troon van die Nuwe Jerusalem in (22:1).
Die dienaars aan wie die verborgenhede bekend gemaak word is die gelowiges. Christene word 11 keer in Openbaring dienaars of slawe genoem en dit is as ʼn eretitel beskou. Slaaf en apostel hou ook met mekaar verband (Rom.1:1; 2 Pet.1:1) Deurdat Johannes homself ook dienaar/slaaf noem, vereenselwig hy hom met sy lesers. Hy moet dit wat binnekort moet gebeur, bekend maak. God se onomkeerbare plan moet bekend gemaak word. Die binnekort dui egter nie op ʼn kort tydsverloop nie, maar op die gewigtigheid van die gebeure wat moet volg. Dit vra van lesers verskerpte getrouheid en verantwoordelike gereedwees (Mt.25:1-13). Die eindgebeure het met die oorwinning van die Lam begin. Die wederkoms sluit dit af.
Die seënspreuk (1:3) is een van sewe in Openbaring en gelowiges aanspoor om in die stryd te volhard. Soos in Mt.5 val die klem op ʼn aansporing om aan sekere eise te voldoen maar ook op troos met die oog op beloning. Die een wat die profesie lees word in 1:3 salig genoem. Dit dui op ʼn voorleser in ʼn gemeente. Volgens Joodse eredienste was daar op feesdae vyf voorlesers, op die Groot Versoendag ses en op die Sabbat sewe. In die sinagoges buite Jerusalem was daar gewoonlik net een voorleser. Soos wat Paulus se briewe hardop voorgelees is, is Openbaring ook voorgelees. Die wat dit gehoor het, moes van harte daarmee saamstem. Die begrippe hoor, luister en gehoorsaam kom dikwels in Openbaring voor. Dit word as gelowiges se volharding en deel van hul oorwinning geskets.
- 1. Die ontvangers – die sewe gemeentes
Alhoewel dit nie die enigste gemeentes in die Romeinse provinsie Klein-Asië was nie, het hierdie sewe die hele Christelike kerk verteenwoordig en op ʼn perdeskoenroete gelê. Gemeentes soos Kolosse en Troas was selfs groter as Thiatire en Filadelfia. Die sewe gemeentes was egter toonaangewend in die verspreiding van die Evangelie.
Die groet bestaan uit twee dele – Griekse genade en Hebreeuse vrede. Dit kry gewig as die gemeentes hoor van Wie dit kom – die goddelike Drie-eenheid - Een wat is, wat was en wat kom. Die lesers moes vashou aan die feit dat Christus nie afwesig in hul nood is nie, maar by hulle in hulle hede is. Die tweede bron van wie die groet kom, is die sewe geeste voor God se troon. Hulle beeld die mag en krag van God uit. Die derde Bron is Christus self. In 1:5 word meer van Hom gesê.
Op ʼn treffende wyse word die drie fases in Jesus se lewe uitgelig – tydens sy aarde lewe was Hy die getroue getuie, deur sy opstanding het Hy die eersgeborene uit die dode geword en met sy wederkoms sal Hy die Owerste oor die konings word.
Met Jesus se getuie-wees vereenselwig Hy hom met die gelowiges aan wie Openbaring gerig word. Getuie-wees spreek van vervolging en martelaarskap. Hierin is Jesus ʼn voorbeeld. Hy het sy rol as getuie enduit getrou nagekom. Daarom moet gelowiges ook getuig al kos dit hul lewe. Om geloofwaardig te wees, veronderstel getrouheid tot die dood toe (Openb.2:10,13).
Jesus is ook die eerste wat uit die dood opgestaan het (1 Kor.15:20). Hy is ook Owerste oor die konings van die aarde; hulle wat vir die laaste slag op aarde teen Christus optrek (6:15; 19:19). Die derde aspek van Christus se werk wat lof ontvang, is dat Hy van gelowiges sy koninkryk en priesters maak. Dit laat ʼn mens aan Exodus dink waar God vir Israel tot ʼn heilige volk oproep om Hom as priesters te dien (Ex.19:6). Volgens die Exodusmotief is die Christene die nuwe volk van God op pad na die Nuwe Jerusalem. Daarom word hulle heersers en priesters in diens van God genoem. Hulle is God se personeel op aarde. Om ʼn priester te wees, beteken om direkte toegang tot God te hê en Hom te dien. Gelowiges heers namens Christus en dien Hom deur sy getuies te wees.
Die amen waarmee 1:6 afsluit, kom uit die OT: mag dit so wees of laat dit so wees. Die doel is om die voorafgaande te bevestig. Die ja, amen waarmee 1:7 afsluit, dui op ʼn aankondiging wat vasstaan en kom ook in 16:7 en 22:20 voor.
- 2. Die goddelike verklaring
Slegs in 1:8 en 21:5,6 is God self aan die woord en kom die uitdrukking die Alfa en die Omega ter sprake. Dit omvat die boek Openbaring in sy geheel. Alfa en omega is die eerste en laaste letters van die Griekse alfabet. God beheer die begin en die einde. Hierdie uitdrukking word twee maal vir God en twee maal vir Christus gebruik. Dit beklemtoon die hegte eenheid tussen Vader en Seun (Jes.44:6; 48:12). Net soos God die Skepper van alles en almal is, sal Hy ook alles en almal tot vervulling bring. Hy is die begin en einde van die geskiedenis.
Vervolg...