Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by Openbaring - Boek van die hede
Smirna, ʼn gemeente deur die Satan geteister
Openb.2:8-11
1. Die stad Smirna
Smirna, die huidige Ismir, was ʼn hawestad ongeveer 56 km noord van Efese met die bynaam Die eerste in Asië. Dit was die geboortestad van Homeros en het ʼn inwonertal van ongeveer 100,000 gehad met tempels vir die godin Roma, die god Asklepius, keisers Augustus en Tiberias asook Zeus. Dit was ook die hoofsentrum van die keiserkultus sowel as die mediese wetenskap. Dit het ook een van die grootste Joodse bevolkings in daardie geweste gehad. Hierdie Jode was die Christene nie goedgesind nie. Hulle het laasgenoemdes by die Romeinse owerheid verdag gemaak sodat die Christene onderdruk is. Die gemeente is hetsy deur Joodse pinkstergangers of Paulus tydens sy derde sendingreis gestig.
2. Die boodskap aan Smirna
Die brief aan Smirna begin basies soos die een aan Efese. Soos aan Efese word daar ook 'n deel uit Johannes se visioen van Christus in Openb.1 geneem om die gepaste eienskappe van die verheerlikte Christus in daardie gemeente te beskryf. Hy word aan Smirna as die Eerste en die Laaste, wat dood was en weer lewend geword het voorgestel. Smirna is drie maal herbou nadat dit elke keer geheel en al vernietig is. Die laaste keer op bevel van Alexander die Grote in 290vC. Hulle het dus geweet wat dit was om te sterwe en weer lewendig te word. Die inwoners het in weelde geleef en afgod Roma aanbid. Toe die Christene nie hieraan wou meedoen nie, is hulle as ateïste gebrandmerk en selfs vervolg. Al het Smirna die bynaam van Die eerste gedra, kan slegs Christus die Eerste wees. Hy hou die gemeente in sy hand.
3. ʼn Gemeente wat swaarkry
Christus was goed bewus van hulle vervolging aan die hand van Jode en Romeine. Dit het baie se lewens feitlik ondraaglik gemaak. Christus prys hul vir hul verdraagsaamheid. Net van Smirna en Filadelfia word geen swak punte genoem nie. Smirna is deur drie dinge gekenmerk - verdrukking, armoede en die prooi van kwaadstokery. Hulle het deur hul swaarkry op ʼn besondere manier aan Christus se lyding deel gekry. Verdrukking en swaarkry is ook die lot van die laaste Christene. Om die kroon van die lewe te ontvang, word deur ʼn fel aanslag op Christene se belydenis en getuienis vooraf gegaan en kos ʼn duur prys – selfs die dood.
4. Armoede
Die gemeente het fisies swaargekry. Baie Christene is deur onteiening en strooptogte van hul bates ontneem. Hulle het nie die staatsbeskerming geniet wat die Jode ontvang het nie. Christene het baie moeilik goeie betrekkings bekom wat armoede tot gevolg gehad het.
In die Bybel was armoede dikwels die gevolg van uitbuiting, magswellus en manipulering van die regstelsel. Die profete van ouds het veroordelend teenoor politieke onreg getaan (Jes.3:14,15; 32:6,7; Am. 4:1; 8:4). Armes kon hul toevlug slegs tot God neem. In die vroeë kerk was dit dikwels die armes wat op die Evangelie gereageer het (1 Kor.1:26-29). Kollektes is ook vir arm gemeentes gehou (1 Kor.16:1-4). Armes se afhanklikheid van God het tot volle toewyding gelei.
In Openbaring word armoede teenoor rykdom gestel. In 2:9 moet armoede letterlik en rykdom figuurlik verstaan word. Ten spyte van aardse armoede besit gelowiges geestelike rykdom. Die gelowiges in Smirna word met geestelike rykdom vergoed. Openbaring gebruik dikwels teenoorgesteldes om die boodskap effektief oor te dra. Smirna is bv. fisies arm, maar geestelik ryk en Laodicea fisies ryk maar geestelik arm (3:17).
5. Die vyandige Jode
Die kwaadstokery van die Jode het Christene diep seergemaak. Kwaadstokery teen God se eiendom is ook later teen Hom. Die owerheid het dikwels net op Jode se kwaadstokery gereageer. Die Jode se haat was so onbegrens dat hulle selfs in 155nV op ʼn sabbat hout bymekaar gemaak het om die Romeinse owerheid gedienstig te wees in die verbranding van Polikarpus weens sy geloof!
Die aanspraak van die Jode dat hulle die volk van God was, was oëverblindery. Hulle was instrumente in die hand van Satan teen die ware volk van God, die Christene! Dink aan Jesus se woorde in Joh.8:44. Paulus praat ook reguit en sê dat Jode nie iemand is wat uiterlik, maar innerlik besny is (Rom.2:28,29). Die Hebreeuse woord Satan beteken teenstander. Die Jode het met hul vervolging van Christene in diens van Satan gestaan en teenstanders van God geword.
6, ʼn Nuwe vlaag van vervolging
Sommige Christene sou selfs met hul lewens boet. Hulle moes egter nie vrees nie (2:10). God roep hulle tot vreeslose getuies op, iets wat met volharding gepaard gaan (3:10;13:10; 14:12). Tronkstraf in daardie dae het een van drie dinge beteken – straf vir opstandigheid teen die staat, aanhouding met die oog op verhoor of aanhouding in afwagting van teregstelling. Vir baie Christene was tronkstraf ʼn doodsklok wat gelui het! Die tien dae was ʼn afgeronde tydperk van tronkstraf, nie te lank nie, maar baie swaar! Die oplossing in so ʼn krisis situasie was om getrou te bly tot die dood toe. Christene durf hul nie aan die wêreld onttrek nie, maar geloofsmoed aan die dag lê. Hulle moet soos Jesus optree.
7. Volhard
Die manier waarop Christene volhard, word geloof genoem - ʼn vaste vertroue in God wat regeer en die geskiedenis beheer. Dit het selfs nie vir die dood gestuit nie (Openb.12:11). Die woorde van Openb.2:10 laat ons aan ʼn afwagting op teregstelling dink. Die Christen deins nie terug nie, maar loop die Jesus-pad enduit tot die dood toe (Mark.8:34). Die beloning is die kroon van die lewe. Hierdie kroon was ʼn oorwinnaarskroon (lourierkrans). In ʼn sportsentrum soos Smirna was dit ʼn bekende gesig. Die klem val nie op die kroon nie, maar op prestasie. Soms was die lourier van goud gemaak en baie waardevol. Net so sal diegene wat getrou volhard by die wederkoms van Christus die ewige lewe as oorwinnaarskroon ontvang. Gelowiges moet luister en aan Christus se opdrag vashou om tot die dood toe gehoorsaam te wees. Al sou hulle die eerste dood (fisiese) smaak, sal die tweede dood (ewige) hulle nie tref nie.
Vervolg...