Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by Openbaring - Boek van die hede
Pergamus moet deur volharding vernuwe
Openb.2 12-17
1. Die stad
Pergamus met n bevolking van slegs 12,000 was 72 km noord van Smirna en is deur Alexander die Grote in ʼn militêre vesting omskep omdat dit op ʼn heuwel geleë was. Daar was ʼn tempel vir Zeus en aanbiddingsplekke vir talle gode asook ʼn biblioteek met 200,000 boekrolle. Die stad het saam met Athene en Alexandrië as sentra van geleerdheid bekend gestaan. Velle skryfmateriaal van diervelle is daar vervaardig – perkament. Dit was ʼn florerende bedryf om aan ʼn wêreld skryfmateriaal te voorsien. Pergamus was ook die godsdienssentrum van Asië. Daar was tempels, altare en heiligdomme ter ere van Zeus (hoofgod), Athena (godin van oorwinning), Dionusius (beskermgod met ʼn bul as simbool) en Asklepius (god van genesing met ʼn slang as simbool).
Daar was ʼn wêreldbekende mediese sentrum waarheen mense van heinde en verre vir genesing gekom het. Siekes is in ʼn lokaal vol slange gelaat om daar te oornag. Indien ʼn slang aan so 'n persoon geraak het, is hy onmiddellik genees. Vandaar die slang wat vandag nog op mediese wapens gebruik word.
Die altaar van Zeus het op ʼn hoë terras gestaan. Toe die Romeine die stad in 129vC verower het, is ʼn tempel ter ere van keiser Augustus daar gebou. Dit het van hierdie stad die hoofsentrum van keiseraanbidding en hoofstad van afgodery gemaak. Om te weier om aan die keiserkultus deel te neem, is as burgerlike ongehoorsaamheid geag en vervolg. Die Jode was hierby uitgesluit omdat hul 'n geskiedenis gehad het. Christene is as bygelowig gesien en gehaat. Die Romeine het hulle Christiani genoem, ʼn spotnaam na aanleiding van hul leier Christus. Die Jode het hulle Nasareners genoem.
2. Die briefboodskap
Die adres aan hierdie gemeente is die selfde formaat as die vorige twee briewe. Die bevolking van 12,000 het uit ʼn derde slawe bestaan waarvan heelwat Christene was. Jesus word voorgestel as Een wat ʼn skerp tweesnydende swaard het. Hy hou egter nie die swaard met die hand vas nie, maar dit kom uit sy mond – die woorde van sy oordeel. Hierdie tipe swaard (Grieks: romfaia) was ʼn groot swaard wat aan albei kante geslyp was en deur enigiets kon klief. Die swaard was simbolies van die Romeine se mag en reg. Net so het Christus se woorde die mag om te oordeel of vry te spreek (Ps.146:7; Spr.5:4). Sy oordeelswoord is fel maar billik.
3. Getuienis in moeilike tye
Christus gee hulle krediet vir hul getroue getuienis asook volharding in die moeilike tyd. Hy praat ook van Antipas wat die hoogste prys vir sy getuienis betaal het. Gelowiges het elke dag ʼn mynveld van heidense versoekings betree. Christus praat spesifiek van die troon van Satan wat in Pergamus is. Pergamus was vol heidense tempels, altare en spore van keiseraanbidding. Hierdie troon kon na enigeen verwys het. Die altaar van Zeus is miskien die beste een vir hierdie beskrywing. Die fondament daarvan is vandag nog te sien!
Die Christene het t.s.v. die uitmergelende vervolging egter in woord en lewe getrou gebly. Jesus verwag dit van elke gelowige (Luk.12:9). Wie Antipas was, is onduidelik. Al wat ons weet, is dat hy ʼn getroue getuie tot die dood toe was. Die Griekse woord vir getuie is martus. Hierdie woord het ʼn regsbetekenis gehad en verwys na ʼn getuie in ʼn hof. Daarna is die woord ook gebruik vir iemand wat van sy geloof getuig het en straf kon ontvang het. Die laaste deel van 2:13 is ʼn herhaling van die troon van Satan en beklemtoon die feit dat Pergamus Satan se tuisdorp was!
4. Gate in die heining
Ongelukkig het die volhardende gemeente gate in die heining toegelaat waardeur jakkalsies gekruip het. Een daarvan was dat sommige van die gemeentelede die leer van Bileam aangehang het. Dit was ʼn ernstige situasie soos om ʼn slang in jou skoot toe te vou. Dit het nie oor een of ander leerstelling wat Bileam volgens Num.11 sou verkondig gegaan nie, maar eerder oor sy invloedryke optrede. Sy raad aan koning Balak van Moab was om met Israel onsedelik te vermeng. Hy was ʼn heidense profeet wie se raad tot afgodsdiens aanleiding gegee het nadat Israel Baalfeeste bygewoon en afgodsvleis geëet het. Bileam het ʼn struikelblok in die pad van Israel gegooi. Sommige gemeentelede het ook die leer van die Nikolaïete aangehang wat met die leer van Bileam saamgeloop het en op onsedelikheid gefokus het.
5. Die oplossing
Die oplossing vir hierdie swak punte was die bekering 2:16 - draai julle lewe en optrede na Christus toe. Dit sou hulle gemoed vernuwe. Die verleiers het hulle bose invloed so versluier dat die Christene dit nie altyd herken het nie. Die uitdrukking Ek kom gou, kom vyf maal in Openbaring voor en dra die betekenis van ʼn regter wat met kwaaddoeners kom afreken. Die stryd is teen dwaalleraars en verleiers wat sal moet boet vir hulle wandade!
Gelowiges moet eerder na die Gees luister (2:17; Mark.4:9). Dis ʼn geveg teen verleiding. Wie gehoorsaam mis, sal van die verborge manna eet. Christus is die Brood wat lewe gee (Joh.6:35). Dan wag daar ook die bruilofsmaaltyd van die Lam aan die einde van alle tye.
Die wit keursteen met die nuwe naam daarop het sterk simboliese betekenis. Wit simboliseer reinheid in die sin van verlossing. Aan die einde van ʼn verhoor het die regter ʼn wit of swart steentjie in ʼn kruik geplaas. Wit was vryspraak en swart was skuldig. Daarbenewens is ʼn bepaalde steentjie met jou naam daarop as toegangskaartjie by ʼn feesgeleentheid of spele gebruik. Die nuwe naam is ook Ou Testamentiese - die naam wat gelowige oorwinnaars ontvang (Jes.62:2).
Die daaglikse druk op Christene om kompromieë met goddelose instansies aan te gaan, is groot. Die gevaar van sinkretisme moenie onderskat word nie omdat dit aantreklik aangebied word. Soms moet ʼn mens wonder of daar wesentlik ʼn verskil tussen Christene en heidene is! Christus vra ʼn vernuwing van ons gemoed.
Vervolg...