OPENBARING – BOEK VAN DIE HEDE (12)

Ds Andrè van den Berg

Lees reeks by Openbaring - Boek van die hede

Sardis, die gemeente wat met ʼn naderende geestelike dood geworstel het

Openb.3:1-6

1.   Die stad Sardis

Sardis was 48 km suidoos van Thiatire op ʼn hoë rif gebou en uit ʼn militêre oogpunt feitlik onoorwinlik.  Dit kon bv. slegs van die suidekant bereik word.   Die stad is later afgeskuif om deel van ʼn vrugbare vallei te vorm waarna dit vir sy landbou en tekstielbedryf bekend was,  Dit het tot ʼn kosmopolitiese bevolking en baie invloede gelei.   Die legendariese koning Croesus, koning van Lidië (560-546vC) was deel van Sardis se geskiedenis.  Volgens legende het alles waaraan hy geraak het in goud verander.

Ten spyte van Sardis se militêre posisie is die stad twee maal verower – in 546vC deur die Perse en in 214vC deur die Siriërs waarna die Siriese koning 2000 Joodse gesinne vanuit Mesopotamië  in Klein-Asië gevestig het.   Gevolglik het daar in Sardis heelwat Jode gewoon wat hul invloed laat geld het.  Daar is ʼn groot sinagoge gebou en volgens Josephus het hierdie Jode jaarliks groot bedrae geld vir die tempel in Jerusalem gestuur.

Sardis is in 17 nC deur ʼn aardbewing in puin gelê. Met die oog op die heropbou  het keiser Tiberias die stad vyf jaar lank van belasting vrygestel.  Die heropbou het ʼn negatiewe invloed op die bewoners gehad en het materialisme gaandeweg die geestelike waardes vervang.

Sardis se beskermgodin was Artemis, godin van lewe en onsterflikheid.  Heidene het geglo dat sy dooies weer lewend kon maak.  Die tempel wat vir haar gebou sou word is nooit voltooi nie.  Ironies genoeg het die gemeente in Sardis in ʼn sterwende insluimering verval.  Net Hy wat die lewe is, kon haar geestelike dood omkeer. Sardis se geestelike insluimering was waarskynlik aan heidense kompromie te wyte.  Slegs ʼn paar kole het nog gegloei, maar die vuur was geblus.

2.   Die briefboodskap

Elke groet aan elkeen van die sewe gemeentes het  ʼn besondere boodskap.  Die verheerlikte Christus is aan die woord met ʼn boodskap wat deur die leraar voorgelees word.   Die beskrywing van Christus pas by elke gemeente se omstandighede.  Aan Sardis word gesê dat Hy die sewe Geeste vashou.  Dis die volheid van die Gees van God wat na elke gemeente uitgestuur word.  Net die Heilige Gees kan die dooie Sardis weer tot lewe opwek.  Christus hou ook die sewe sterre vas; simbolies van die sewe leraars van die gemeentes.  Christus beheer die ampte in die gemeente wat weer aan Hom verantwoording doen.

3.   Die probleem en oplossing

Maar hoe lyk Sardis?  Geestelik dood!  As Alwetende het Christus hul dade geken.  Statisties was daar steeds ʼn gemeente maar by naderende ondersoek was dit slegs smeulende kole.  Hulle was nie meer ʼn lewende liggaam nie, maar ʼn lyk!   Christus duld geen skyn van geestelikheid nie.  Mense se dade verloën hul woorde.   Die gemeente kan met die baie groot begraafplaas net buite die stad vergelyk word.

Christus bied die oplossing by wyse van vyf bevele aan:

(i) Word wakker ;
(ii) Versterk die  getroues ;
(iii) Onthou hoe julle die evangelie ontvang en daarna geluister het;
(iv) hou vol daarmee;
(v) bekeer julle.

Word wakker:  Net soos wat die stad al twee maal verower is al het hulle gemeen dis onmoontlik, moet gelowiges uit die slaap van selfvergenoegdheid wakker word (Mt.24:42; 1 Thess. 5:6) .  
Versterk die getroues:  As geheel is die gemeente dood.  Daar is egter ʼn oorblyfsel wat wakker gebly het.  Die herlewing moet by hulle begin.  Hierdie brandende kole moet die gloed en geesdrif in die gemeente herstel.  
Onthou hoe julle die evangelie ontvang en daarna geluister het: Sardis moes op haar geestelike pad terugstap en hulself langs die pad optel.  Gedenk die hoogtepunte in julle verlede en laat dit julle vir die hede begeester en die gemeente optel.  Hierdie evangeliebediening verwys na die era van die apostels en verwys na hulle leer oor Jesus se woorde en dade asook die betekenis van sy sterwe en opstanding vir gelowiges.  
Hou vol daarmee:  Christus vra volharding in die waarheid.    Die eerste geslag van Christene het die Evangelie by monde van betroubare getuies gehoor -   die apostels.  Toe Openbaring geskryf is, was hulle op een na almal dood.  Die volgende geslag moes die fakkel oorneem en dieselfde leer verder dra. 
Bekeer julle:  Die gemeente moes van tyd tot tyd introspeksie beoefen.   Die geestelike verval moes deur ʼn radikale vernuwing en ommeswaai gestuit word.

4.   Ernstige besinning

Sardis moet wakker word en ernstig besin want Jesus is op pad terug.  Die wakkerword laat ʼn mens aan die gelykenis van die 10 maagde dink - die bruidegom is aan die kom, dis nie tyd vir slaap nie! Sardis het ʼn geskiedenis van slaap.  Daarom is dit twee keer deur vyande ingeneem! Gelowiges moet wakker leef (1 Thess.5:2-4).   Geestelike waaksaamheid is ʼn belangrike voorwaarde met die oog op Christus se wederkoms.

5.   Die oorwinnaars

Sardis is darem nie net sleg nie, daar is ook pragtige Christene in haar midde wat hulle geestelike klere nie met die heidendom besoedel het nie.  So ook nie met dwaalleer nie.  Beide maak Christene se klere vuil en ontoeganklik vir die hemel waar gelowiges wit klere voor God dra.   Hou in gedagte dat die tekstielbedryf ʼn groot onderneming in Sardis was.   Wit klere simboliseer reinheid en oorwinning.

Christus beloof aan oorwinnaars ʼn hemelse bestemming waar hulle wit klere sal dra.  Dis hulle wat volhard het op die aarde.   Hulle name staan in die boek van die lewe.  Hierdie waarheid kom selfs so vroeg as in die OT voor (Ex.32:32,33).  Die burgerregister van Israel was ʼn hemelse register waarin die name van regverdiges opgeteken was (Ps.69:29; Dan.12:1).  In die Griekse wêreld kan die boek van die lewe teruggevoer word na die stadsregister.  Wie se naam op die register voorgekom het, het in sekere burgerregte gedeel.   Wie ʼn ergerlike misdaad gepleeg het se naam is verwyder.     Paulus praat ook van sy medewerkers wie se name in die boek van die lewe geskryf staan (Fil.4:3).

Die hoogtepunt van die oorwinnaars is die uitdaging is om Christus openlik te bely. Dit herinner ook aan Christus se woorde (Mt.10:32).  Ongelukkig het baie van die lidmate in Sardis met kompromieë aan die heidendom Christus verloën.   Hy sal op die laaste dag nie van hulle getuig nie – die grootste straf denkbaar!  Hy gaan die boek van die lewe open en aankondig wie aan Hom behoort.  Hulle kry ʼn nuwe naam, nuwe identiteit, nuwe burgerskap en nuwe bestemming.

Die boodskap van Christus aan Sardis is baie hard.  Dit wat van hierdie gemeente gesê word, moet alle gemeentes aanspoor om te ontwaak, te besin en om te draai.  As hulle dit doen, sal hulle wit klere as beloning ontvang.