OPENBARING – BOEK VAN DIE HEDE (13)

Ds Andrè van den Berg

Lees reeks by Openbaring - Boek van die hede

Filadelfia – die poort na die Ooste

Openb. 3:7-13

1.   Die stad Filadelfia

Filadelfia was 45 km suidoos van Sardis en beteken broederliefde voortspruitend uit die stigter, koning Attalus, se liefde vir sy broer Eumenes.  Dit was strategies op die pad na die Ooste geleë en ʼn militêre en handelsentrum.  Aan die voet van die stad was die vrugbare Hermusvallei.   Die gebied is gereeld deur aardbewings geteister en is in 17 nC saam met elf ander omliggende stede feitlik verwoes.  Dit was moeilik om die stad te herbou omdat sporadiese skuddings steeds voorgekom het.   Keiser Tiberias het al hierdie stede vir vyf jaar van belasting onthef ten einde opbouwerk te kon doen.   Uit dankbaarheid het Filadelfia die naam Neosesarea by haar naam gevoeg.  Daar was ook 'n sterk Joodse element woonagtig.

In 92 nC het keiser Domitianus ʼn wet uitgevaardig dat wingerde met graanlande vervang moet word vir kos vir die weermag.  Dit was egter ook om Italië se wynbedryf ten koste van Klein Asië te bevorder.  Dit het Filadelfia ʼn gevoelige knou toegedien.  Dionusos, god van wyn en fuifpartytjies, was juis die beskermgod.

Die gemeente is waarskynlik deur Paulus se medewerkers gestig.  Die Christene het sterk gestaan en hul nie deur Joodse of heidense invloede laat afsit nie.  Toe Islam eeue later in Klein-Asië begin floreer, het die gemeente nog sterk gestaan!

2.   Die briefboodskap

Filadelfia en Smirna is die enigste gemeentes wat nie bestraf of tereggewys word nie.  Beide die gemeentes het onder Joodse intimidasie deurgeloop.  Daarom word Jesus met klem as die  Heilige en Waaragtige voorgestel; Een wat van die wêreld verwyderd staan.  Hy hou die sleutel van Dawid.  So ʼn sleuteldraer was verantwoordelik vir die oop- en toesluit van  die paleis (Jes.22:22).   Jesus het die sleutel van die nuwe Jerusalem.  Al is die Christene uit die sinagoges uitgesluit, gee Christus hulle toegang tot die nuwe Jerusalem.

Christus gee hulle twee beloftes.  Eerstens ʼn oop deur.  Christus was haarfyn op hoogte met die gemeente.   Teenoor  Sardis wat geestelik geslaap het, was Filadelfia wawyd wakker.  Christus gee hulle ʼn oop deur.  Hulle was ʼn klein gemeente met beperkte vermoëns wat die basiese dinge nie verwaarloos het nie.  Hulle was toegewy en daarop ingestel om Christus nie te verloën nie en Hom onverskrokke as die Messias te bely.

Die sinagoge van die Satan dui op die Joodse ondermyning.  Satan beteken teenstander.  Die Jode het die Christene teengestaan (1 Joh.1:10;2:4).  Die Jode was nie die suiwer volk van God nie, maar navolgers van Satan (Joh.8:44; 2 Kor.11:13-15).  Probleme met die Jode was algemeen in elkeen van die gemeentes.  Vergelyk Openb.2;9 met 3:9.

Benewens die oop deur gee Christus ʼn tweede belofte – Hy sal die gelowiges in tye van swaarkry vashou omdat hulle aan die leer en in lewe aan Hom gehoorsaam gebly het.  Christus se swaarkry en lyding tydens sy aardse lewe bly die voorbeeld waarvolgens Christene moet leef (2 Thess.3:5; Heb.12:2-3).

Die uur van beproewing (:10) verwys na die tydperk wat die finale einde vooraf gaan en raak die hele bewoonde mensewêreld.  Die uitdrukking bewoners van die aarde wat dikwels in Openbaring voorkom, verwys na die ongelowiges (6:10; 12:12).  Dis die vyand wat God nie bely nie en die gelowiges teister.  Hulle word deur die oordeelsvoltrekking getref.  Christus sal Filadelfia van laasgenoemde spaar, maar nie van Satan se wraak nie.  Dit sal hul suiwer.

3.   Hou vas wat jy het

In vers 11 word Christus se wederkoms ʼn vierde keer aan bekering verbind.  Aan Efese (2:5).  Aan Pergamus (2:16). Aan Sardis (3:3) en aan Filadelfia (3:11). Die beklemtonings dien om mense tot die geloofstryde aan te spoor en daarin te volhard.   Filadelfia word opgeroep om aan ʼn paar dinge vas te hou- die geopende deur en die burgerskap van die koninkryk van God.  Wie dit doen, ontvang ʼn kroon as beloning.    Dit dui op die bekroning na ʼn geestelike wedloop.   Filadelfia het as oorwinnaars uit die wedloop getree.

Die oorwinnaars word ʼn pilaar in die tempel van God.   Geen verwoestende aardbewing sal dit laat intuimel nie.  In konstruksie het ʼn pilaar die funksie om ʼn gebou te kan dra.   Dis hoe Filadelfia vir God is.   Hierdie pilare is ook met drie name gemerk – die naam van God, die naam van die heilige stad en die nuwe naam van Christus.  In die OT het pilare dikwels name gehad.  Baie daarvan was soos standbeelde (kunswerke) uitgekap.   Filadelfia dra in die ondersteuning en uitbou van die Christendom die naam van God .  Daarom sal hulle ook n pilaar in die nuwe Jerusalem wees.   Hulle burgerskap is verseker.

Op plaaslike vlak het Filadelfia sy naam na Neosesarea laat verander.  Die gelowiges se pilaar verander ook van naam – die van God.  Hulle kry nie net burgerskap van die stad nie, maar het God as Koning!   Al was die gemeente uit die plaaslike sinagoge uitgesluit, is hulle nie van die nuwe Jerusalem uitgesluit nie.  God kom volmaak by die mense bly.  Christus sal ook sy eie nuwe Naam op elke pilaar skryf.

Alhoewel die gemeente vir hul leergetrouheid en leefstyl geprys word, moet hulle nogtans in die geloof volhard sodat hulle nie hul kroon verloor nie.  God stel meer in hul geloof as hul sukses belang!  Jy hoef nie eerste te kom nie, maak net die wedloop klaar. Hulle is bestem om pilare in God se tempel (toekomstige bedeling) te wees.