OPENBARING – BOEK VAN DIE HEDE (18)

Ds Andrè van den Berg

Lees reeks by Openbaring - Boek van die hede

God se oordeel ontvou – die eerste vier seëls

Openb.6:1-8

1.   God straf die goddelose

Openb.6 volg logies op hoofstuk 4-5 wanneer die einde vinniger op die verhoog verskyn.   Die seëls is God se vonnisoplegging op die sonde en word een vir een oopgemaak om die laaste oordele te laat voltrek.   Ongelukkig beland gelowiges ook in die spervuur soos wat in Openb.2-3 gesien is.  God se oordeelsvoltrekking is egter teen die goddeloses gemik.   Sonde word nie ongestraf gelaat nie.

Die oopmaak van die eerste seël vind in die hemelse troonsaal plaas.   God en Christus is by elke oordeel volledig betrokke.   Christus is alreeds besig om sy Messiaanse koningskap te beoefen.  Alles in die wêreld stuur op die dag van afrekening af (Jes.2:19-21;1 Pet 2:12).   Die voltrekking van oordeel bring altyd skeiding mee (Joel 3:12,13; Mt.13:36-43).  Die sewe seëls in Openbaring vertoon baie ooreenkoms met die drie sinoptiese Evangelies met ooreenstemmende temas soos stryd, oorlog, hongersnood, dood, vervolging en aardbewings.

Na die sesde seël lyk dit asof niks bly staan nie.  Daarom moet Johannes met tussen-tonele die gelowiges gerusstel en herinner dat God dit teen die goddeloses het.  Die lesers moet eers die groter prent insien alvorens hulle met die huidige situasie vrede sal maak.  Die drie tussen-tonele is

  1. die verseëling van die 144,000 (Openb.7)
  2. die tempel wat gemeet moet word en benadruk dat die gelowiges God se eiendom is (Openb.10) en
  3. God versorg die gelowiges in die woestyn teen Satan en sy magte (Openb.12).

God straf die goddelose volgens die vergeldingswet soos in die OT sowel as deur die Romeinse reg toegepas.   Die goddelose ontvang hul verdiende loon (Openb.16:5-7).  Sy oordele is antwoord op die martelare se gebede (6:9-11; 8:3-5).   God gee aan die Bose die mag om sy vernietigingswerk te doen.  Die menslike ontaarding gaan sy volle gang – eers die propaganda (wit perd), dan oorlog (rooi perd) dan hongersnood (swart perd) en daarna die dood (vaal perd).   Hierdie oordele is die voorbereiding vir die finale einde van die wêreld. God gee die goddelose telkens die geleentheid om hul te bekeer, maar hulle weier en verdien sy straf!

2.  Nou is daar perde

Die boekrol in God se hand wat die toekomsgeskiedenis bevat, kan eers volledig ontvou word wanneer al sewe seëls oopgemaak word.  Die eerste vier seëls fokus op die ontaarding van die mensdom deur propaganda, oorlog, hongersnood en die dood en word met perderuiters verbind.   Dit vorm ʼn logiese gang van menslike selfvernietiging.  Die Lam inisieer die oopmaak van al die seëls.

Die eerste seël bring die wit perd – valse propaganda (6:1,2)  Die tweede seël bring die rooi perd – oorlog (6:3,4).  Die derde seël bring die swart perd (6:5,6).  Die vierde seël bring die vaal perd – dood (6:7,8). Die vier perde moet as eenheid beskou word – elkeen neem aan die oordeelsproses deel.

Die eerste seël: die wit perd en sy ruiter.  Hy verteenwoordig valse propaganda. Johannes is die getuie van groot dinge wat kom.  Die vier lewende wesens tree baie aktief in Openbaring op.  Hulle is nie net deel van die aanbidding nie, maar aktiveer ook die goddelike oordele.   Al gee hulle telkens die opdrag, kom die oordeel van God se troon af.   Hulle oordeel klink soos ʼn donderslag. Daarmee roep hulle almal tot aandag.

Die ruiter en sy wit perd kan moontlik ʼn positiewe verklaring hê – die Messias/goddelike Krygsman. (Openb.19:11-16).  Die beeldspraak dat die ruiter oorwin, is die triomftog van die evangelie (Mt.24:14).  Die ruiter dra ʼn pyl en boog en ʼn oorwinnaarskroon.   In die ou tyd is ʼn ruiter op ʼn perd as ʼn verlosser gesien wat mense in nood help.   Aan die negatiewe kant word die ruiter as die Antichris gesien met sy valse propaganda-aanslag.  Dis die meer aanvaarbare verklaring.  Deur bose propaganda sweep die Antichris mense teen Christus op.  Die kerk word verlei.  Hy lyk en praat net soos Christus om sy ware kleure te verberg.  Mense gaan hom vir Christus aansien!  Hy behaal welslae met sy propagandistiese gif.

Die tweede seël: die rooi perd en sy ruiter.  Rooi simboliseer bloed en stel oorlog voor. Mense bring hierdie ellende oor hulself.  Propaganda en opstokery lei tot konflik.   Mense bewerk hul eie ondergang. Die een optrede lei na die volgende.  Die begeerte om te verower (wit perd) lei na oorlogvoering (rooi perd).   Die groot draak is ook rooi (Openb.12:3).  Dit simboliseer sy haat en moord op God se mense.

Die ruiter word toegelaat om twee dinge te doen

  1. om vrede van die aarde af weg te neem (Mark.13:7,8).
  2. Om mense aan te spoor tot moord.  Die groot swaard wat aan hom gegee is, verwys na die Romeinse swaard wat die simbool van militêre mag was.  Die reg tot doodmaak was die keisers of goewerneur se besluit.  Die pax Romana (Romeinse vrede) is deur die  swaardmag gehandhaaf.  Die keiser het toegelaat dat mense mekaar doodmaak.  Dit dui op vervolging aan die einde.   Mense wat mekaar doodmaak, is sprekend van ʼn onstuimige wêreldtoneel.

Die derde seël: die swart perd en sy ruiter simboliseer hongersnood.   Daarom het die ruiter ʼn skaal in sy hand wat gebruik is om iets mee af te weeg.  Alles gaan aan die einde op ʼn tekort uitloop en kos gerantsoeneer word.  ʼn Stem van die troon verduidelik die haglike situasie.  Koring en gars was destyds die stapelkos van die Romeinse provinsies.    Aan die einde gaan buitensporige pryse vir basiese voedselware betaal word.   Alledaagse olie en wyn moes baie oordeelkundig en spaarsaam gebruik word.

Die vierde seël: Die vaal perd en sy ruiter.  Sy naam is die dood.  Na die valse profeet se opstokery en valse propaganda (wit perd) breek daar oorlog uit (rooi perd).  Dit word deur hongersnood gevolg (swart perd) wat net logies op die volgende uitloop – die dood (vaal perd).  Daarmee voltooi die menslike vernietiging sy volle kringloop!