OPENBARING – BOEK VAN DIE HEDE (19)

Ds Andrè van den Berg

Lees reeks by Openbaring - Boek van die hede

God se oordeel ontvou – die laaste drie seëls

Openb.6:9-17 en 8:1

1.   Die vyfde seël

Wanneer die vyfde seël oopgemaak word, sien Johannes die siele van hulle wat weens hul getuienis oor Jesus doodgemaak is.  Johannes sien hier ʼn tempeltoneel in die hemel en die noodkreet van die martelare aan die voet van die altaar sonder die uitroep van ʼn hemelse wese of engel soos met die ander seëls.

Wie is hierdie martelare?   Hulle wat in die konflik tussen gelowiges en ongelowiges om die lewe gebring is en God om vergelding vra.  Durf ʼn gelowige God om wraak vra?  Het Jesus dan nie juis in sy Profetiese Rede van die groot vervolging gepraat wat vir die gelowiges aan die einde van die tyd voorlê nie?   Hy het gesê dat gelowiges voor howe gesleep, geslaan, gehaat en self gedood sal word (Mark.13:9-13).

Hierdie siele onder die altaar moet teen die agtergrond van die offerkultus verstaan word.   Die bloed van die offerdier is aan die voet van die altaar opgevang.   Die martelare het hul lewe vir Christus gegee en hul bloed lê aan die voet van die altaar uitgegiet.  Hulle het die hoogste prys vir hul gehoorsaamheid betaal.   Hulle het nie geswyg, gevlug of kompromieë

aangegaan t.w.v. hul eie veiligheid nie. Hulle roep met ʼn harde stem as teken van ontsteltenis. Hul bede herinner aan die vloekbede van die OT (Ps.6:4, 74:10; 79:5).  Die smeekbede herinner ook aan Jesus se angsbede aan die kruis (Luk.23:34).

Pas die wraak-element in die martelare se smeekgebede by Christene in?  Dit moet eerder as ʼn uitroep om God se regverdigheid gesien word.  Hoe kan 'n regverdige God nog langer toelaat dat Christene gedood en vervolg word?  Dit gaan nie om persoonlike wraak nie maar dat God se regverdigheid sy gang enduit moet gaan.

Die martelare vereer God as die heilige en waaragtige Heerser.    Dit verwys na sy groot mag omdat Hy van sonde en goddeloosheid verwyder staan.    Die vraag is nie of God die goddelose gaan straf nie, maar wanneer.  Hierdie smeekbede vorm eintlik die inleiding tot God se oordeelsvoltrekking oor die bewoners van die aarde (die goddelose) , ʼn idiomatiese uitdrukking wat 13 keer in Openbaring voorkom.   Wêreld word  vir die goddelose mensdom gebruik wat teen Christus in opstand kom.  God laat hulle nie begaan nie, maar tref hulle met Sy oordele.  Daarmee antwoord Hy die martelare (6:15-17).   Dis alles ʼn voorspel vir die finale oordeel (20:11-15).

God gee aan die martelare elkeen wit klere en verwys na die kleed wat die verheerlikte Jesus gedra het (1:13).   Dit simboliseer aansien.  Ook die engel by die graf het so ʼn kleed aangehad.  Hierdie wit kleed is teken van heerlike hemelse beloning.   Die wit kleed is ook met oorwinning geassosieer.  As ʼn Romeinse generaal oorwin het, het hy ʼn wit kleed omgehang.  Die martelare se kleed is in die bloed van Christus gewas (7:9;13,14).

God vra die martelare om geduldig te wag totdat die getal van die medegelowiges wat doodgemaak moet word voltallig is.   Dit is op hande en daar is nie meer baie tyd oor nie.  Die martelare moet met hul wit klere aan geduldig wag terwyl God se program op aarde sy klimaks bereik.

2.   Die sesde seël

As die sesde seël oopgemaak word, kom daar ʼn aardbewing.  Dit is ʼn sigbare teken dat God besig is om die mensegeskiedenis tot ʼn einde te bring.   Natuurrampe is tipies apokaliptiese beskrywings van die einde van alles.   Openbaring maak sewe keer van aardbewings gewag wat ʼn simboliese beskrywing van God se oordeel oor sy vyande is (Ps.78:8; Joel 2:10).

Die son wat swart geword het soos ʼn sak verwys na die swart, harige bokvel wat as roukleed gedra is.  Dit beklemtoon die rou element.  Die vernietiging van alles is rede vir rou!   Die maan word soos bloed sinspeel  op Joel 2:3.  Dit dui om die intensiteit van God se oordeel.  Dit beklemtoon God se grootheid en almag.   Sterre val op die aarde sinspeel op Jes.34:4 en die hemel wat verdwyn spreek van die bestaande orde wat geheel en al omvergewerp word.  So ook die berge en eilande wat versteur word.

Die eerste groep mense wat gaan wegkruip, is die konings van die aarde wat hul gesag aan die Antichris oorgegee het.  Die tweede groep is die uitvoerende amptenare wat die konings se opdragte uitgevoer en dus ook in heerser rolle was.   Die derde groep is die generaals of militêre bevelvoerders.  Die vierde groep is die handjievol skatryke mense wat die Romeinse Ryk deur hul invloed oorheers het.    Die vyfde groep sluit almal in – slawe en vrymanne, almal wat Jesus nie vereer het nie.  Gevolglik val alle sosiale onderskeidings met Christus se oordeel weg.

Die goddelose is bang.  Sommige gaan in grotte en onder kranse wegkruip.  Ander wens dat die berge op hul intuimel om hul vir altyd van God se toorn te beskerm.  Al roep die goddelose hoe hard, kan hulle nie aan die toorn van God ontkom nie!   Die geslagte Lam het nou die regter geword (5:6).   God en die Lam se toorn is nie ʼn sielkundige woede nie, maar n goddelike hartseer oor die volhardende sonde van die goddelose.

3.   Die sewende seël

Met die oopmaak van die sewende seël kom daar ʼn halfuur stilte in die hemel.   Die boekrol is nou volledig oopgemaak.  Hierdie halfuur verteenwoordig 'n intense oomblik voordat die res van die boekrol bekend gemaak word.   Dis 'n dramatiese afwagting van God se verdere oordeelsvoltrekking.   Die sewe seëls beheer nie net die oopmaak van die boekrol nie, maar  is ook die ontsluiting van God se toekomsplanne vir die mensdom.   Die mens huisves in homself die saad van selfvernietiging – die drang om te verower, oorlog, hongersnood, en dood.   God se oordeel is allesvernietigend.   Christene moenie moed verloor in ʼn sekulêre staatsbestel nie.  Hulle moet die geloof behou!