OPENBARING – BOEK VAN DIE HEDE (21)

Ds Andrè van den Berg

Lees reeks by Openbaring - Boek van die hede

Feesviering in die hemel

Openb.7: 9-17

1.   Hemelse heerlikheid

Al die gelowiges op aarde gaan saam met God en die Lam in die hemel fees te vier; ʼn belofte wat Christus selfs by wyse van ʼn gelykenis toegelig het (Mt.25).  By daardie geleentheid sal al die feesgenote wit klere dra met palmtakke in die hande.  Laasgenoemde sinspeel op die OT se Tabernakelfees.  Die feesgenote se vreugde sal geen einde ken nie.  Johannes skryf dit sodat die gelowiges wat swaar gekry het moed moes skep.  Al was die pad stamperig, was die aankoms by die bestemming gewaarborg en die einde salig!

Johannes sien hoe ʼn groot menigte verlostes vir die feesviering by mekaar kom.  Dit was ʼn antwoord op die noodkreet van die martelare (Openb.6:9-11).  Die getal moes eers vol wees voordat die fees kon begin en nou is die fees daar vir diegene wat volhardend oorwin het!  Hulle is saam met God en die Lam in die hemel.  Hulle het hul bebloede aardse strydklere vir wit oorwinningsklere verruil.

Johannes sien ʼn ontelbare skare.  Dis o.a. ook die vervulling van God se belofte aan Abraham dat sy nageslag soos die sand aan die see sou wees.   Die simbolies getal 144,000 is God se volledige getal.  Hulle is uit elke stam, taal en nasie wat op die universaliteit van God se verlossingsplan dui.  Niemand wat die wedergeboorte ervaar, word uitgesluit nie.   Dit sluit ook al die stamme van Israel in (Openb.7:4-8).  Hierdie menigte bestaan uit die Jodedom sowel as uit die heidendom.   Hoe beklemtoon dit nie die Sendingwerk van die kerk nie! 

Die groot menigte staan voor God se troon. Dis ʼn ereposisie wat deur die Lam verdien is en waarin Hy sy getroues laat deel omdat hulle volhardend vasgehou het aan die geloof in Christus (Openb.2:10).   Die groot menigte dra wit klere.  Dis oorwinningsklere soos baie in die Romeinse ryk gesien is wanneer die oorwinnende generaal tydens ʼn triomftog met ʼn wit toga aan deur die strate gery het.  Die palmtakke simboliseer feestelike vreugde soos tydens die Tabernakelfees een van die drie groot pelgrimsfeeste in die Joodse jaar wanneer die oeste in die sewende maand ingesamel is (Lev.23:40-43).

2.   Die hemel in rep en roer

Die groot menigte se jubeling oor hul verlossing  is so aansteeklik dat dit verder uitkring en die ganse hemel in rep en roer bring.  Al die engele, die vier lewende wesens en die ouderlinge as verteenwoordigers van die kerk, val in aanbidding voor God se troon neer.  Die loflied wat hulle sing word aan die begin en aan die einde deur ʼn amen omraam.  Sewe keer word lofuitinge uitgespreek en aan God opgedra.  Die voorsangers is waarskynlik engele wat God vir die verlossing van so ʼn groot groep dank.  Wat ʼn merkwaardige oomblik gaan dit nie wees wanneer die vrug van God se verlossing in Jesus Christus in wit klere voor die troon van God staan nie; soos ʼn hemelse gradeplegtigheid!   Daarvoor het God die Lam gestuur en daaroor jubel die hemel!

3.   Die betekenis

Na hierdie aangrypende loflied, vra ʼn oorblufte ouderling na die betekenis van dit alles.  Sy vraag help Johannes en sy lesers om die gebeure te verstaan.  Dit was algemene gebruik in die apokaliptiek om ʼn vraag te vra ten einde die visioen verder te verduidelik.  Die ouderling se vraag help die lesers om die verband tussen die groot menigte, die martelare en die verseëlde gelowiges te vind ten einde die rol van God en die Lam beter te verstaan.

Die kernvraag is: Wie is hierdie mense met die wit klere en waar kom hulle vandaan?    Johannes is oortuig dat die ouderling weet en vra hom.  Die menigte kom uit die groot verdrukking.  Laasgenoemde is nie ʼn tegniese term in die boek Openbaring nie.  Dit kan in die algemeen na vervolging verwys of ook na ʼn spesifieke periode waarvan Daniël ook praat (Dan.12:1).   Dis die tyd waar God die dier wat uit die see opkom toelaat om oorlog teen die gelowiges te voert en hulle te oorwin (Openb.13:7).

Die verwoesting van Jerusalem in 70vC was ʼn voorsmaak van die verdrukking wat aan die einde van alle tye plaasvind (Mark.13:19).  Jesus verwys ook hierna in Mt.24:21. Dit is die periode wat die Satan vir ʼn klein rukkie toegelaat word om gelowiges te teister.

4.   Die wit klere

Die idiomatiese uitdrukking dat die menigte hul klere  in die bloed van die Lam gewas het, dui op Jesus se kruisdood en opstanding; iets waaroor Johannes nie uitgepraat kon raak nie. Die was van klere dui op die trekkende Israel wat hulle klere as deel van hul toewyding en voorbereiding om God by Sinai te ontmoet gewas het (Ex.19:10,14).  Voor God moet ons  skoon wees (Ps.51:9).   Die  menigte se wit klere het van oorwinning en heiligheid getuig.

5.   Die drie belewenisse

Die betrokke ouderling het verder aan Johannes verduidelik dat die status van verlossing aan die gelowiges drie nuwe belewenisse bied.   Eerstens om in God se teenwoordigheid diens te doen.  Die hele hemel is nou God se tempel (Openb.21:22).   Die groot menigte het in ʼn nuwe geestelike atmosfeer voor God tuisgekom en geniet hul saamwees met God terdeë.   Hulle hele bestaan wentel nou om priesterlike aanbidding – 24 uur per dag; onophoudelik.  Openb.7:15 gebruik treffende beeldspraak – Hy wat op die troon sit, span sy tent oor hulle. Daarmee word die onder-dak-wees-saam-met-God visueel voorgestel.

Die tweede belewenis is dat alle lyding en swaarkry geëindig het sodat die gelowiges meer op die dinge van God kan konsentreer.  Die aardse verwysingsraamwerk bestaan nie meer nie.   Die derde belewenis konsentreer op die rol van God en die Lam.  Jesus is die Herder wat sy skape laat wei.  Daar sal nooit ʼn tekort wees aan water en weiding nie.  Alles is volmaak.

6.  Skep moed!

Dit voel soms asof gelowiges hier op aarde ʼn verlore stryd voer en alles op die ou einde tevergeefs sal wees.   Die ontsporing van groot kerke en die bevraagtekening van ou geestes waarhede maak ʼn mens onrustig.   Is dit nie maar ʼn subtiele vervolging van die Christendom nie?   Daarom vra gelowiges: Waar is God in al hierdie verkeerde dinge?

Openb.7 teken  twee prente wat gelowiges moet laat moed skep.  Eerstens dat hulle op aarde simbolies op hul voorkoppe met die versekering gemerk is dat hulle aan God behoort.  Tweedens dat hulle aan die einde van alle tye saam in die hemel gaan feesvier.  Gelowiges moet moed skep – die reis na die einde sal soms droewig wees, Christus waarborg egter ʼn besliste aankoms.  Dit plaas ons op pad wees in ʼn geheel ander lig.   Dit maak nie saak wat op pad gebeur nie; ons is almal op pad na ʼn ewige fees in volmaakte heerlikheid!