Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by Openbaring - Boek van die hede
Basuine kondig God se oordeelsvoltrekking aan
Openb. 8
1. Soos die plae in Egipte
God se verdere oordeelsvoltrekking word as sewe basuine wat geblaas en sewe bakke wat uitgegooi word, opgeteken. Die eerste vier basuine laat ons aan die plae in Egipte dink waardeur die Farao moes ontdek dat God die Almagtige is. In hierdie konteks is dit alle konings en leiers wat Satan as heer het en hul teen God verset en sy kinders vervolg. God gee vir sy eiendom (144,000 verseëlde gelowiges) om en straf die onreg. Deur die basuine en bakke toon God dat Hy in beheer van die wêreldgeskiedenis is en met sy volk op pad na die nuwe beloofde land – die nuwe Jerusalem.
Die eerste vier basuine sluit by die Sinai gebeure aan. God se oordeelsvoltrekking is nie net op die vernietiging van teenstanders gerig nie, maar laat die klem swaar op die verlossing van die gelowiges val. God is nie gelukkig met die mensdom se goddeloosheid nie, en gee daarom in hierdie moeilike tyd ruim geleentheid vir bekerings.
2. Basuine
God hoor die gebede van die gelowiges. Johannes sien dat die sewe basuine aan sewe engele gegee word. Hier dink ons aan die sewe aartsengele wat telkens in die apokaliptiese geskrifte voorkom. (Apokriewe). Basuine wat met oorlog verbind (1 Sam.13:3). Dis egter ook by die tempelwyding gebruik (2 Kron.5:12) en troonbestygings (1 Kon.1:34,39). Voordat die brandoffer gebring is, was daar ook basuine geblaas (Num.10:10). Basuine is ook gebruik om die volk in krisis-uur tot bekering te roep (Jes.58:1). Die verskyning van God by Sinai is ook met basuine aangekondig (Ex 19:19). So sal die dag van die Here ook met basuingeskal aangekondig word ((Jes.27:13).
3. Die wierookbak
Johannes sien ʼn ander engel met ʼn weirookbak vorentoe kom. Dis ʼn besonderse engel wat die priesterwerk doen deur die gelowiges se gebede aan God op te dra. Wierook was ʼn kosbare offer om die grootheid van God te bely omdat dit ʼn aangename reuk het. Dis van sekere bome se bas en gom verkry wat in Indië en Arabië gegroei het. As dit verhit is, het dit lekker geruik. Die hoëpriester het elke dag wierook gebrand.
Die wierookbak was ʼn oop brons pan. Die een in vers 3 is van goud. Die wierookbak is bo-op kole geplaas waarna die reuk versprei het. In figuurlike sin het dit die gebede van die gelowiges na God toe gedra. Die gebede waarvan hier sprake is, verwys na die gebede van die gelowiges om geregtigheid en vergelding (6:9-11). Ons moet in gedagte hou dat die oordeelsvoltrekking van God ook sy antwoord op gelowiges se gebede is.
Die aangename reuk-wolk wat opstyg staan in skrille kontras met die rook-wolk van pyniging wat opgaan wanneer die goddelose geoordeel woorde (Openb.14:11; 19:3). Wanneer die priesterlike engel ʼn tweede bak op die aarde uitkeer, word hy ʼn vergeldings-engel! Die uitgooi van vuur, simboliseer oordeel. Die eerste bak het reukwerk na God laat opstyg, maar die tweede een het op God se oordeel op goddeloses laat neerkom. Soos wat die gebede van die gelowiges na bo gestyg het, kom die oordeel oor die goddelose op hulle af.
Die gebede word deur natuurrampe soos donderslae en dreunings, weerligte en aardbewings opgevolg. Die basuine en bakke word daarna aan die 10 plae in Egipte verbind wat ʼn voorafskaduwing van die eindtyd se oordele was.
5. Die eerste vier basuine
Die eerste basuin bring vanuit die hemel hael en vuur met bloed gemeng. In antieke kringe is hael as ʼn hemelse wapen in God se hand gesien waarmee Hy goddeloosheid gestraf het (Job 38:22). Bloed en vuur is kragtige simbole van oordeel (Jes.9:4; Eseg,21:32). Die gevolg van die eerste basuin is dat ʼn derde van die aarde verbrand.
Wanneer die tweede basuin blaas, word die see aangetas. ʼn Brandende berg val in die see en ʼn derde van die see word bloed. Dit laat ʼn mens aan die eerste plaag in Egipte dink! Berge dui op standvastigheid; verbind met die wortels van die aarde. Die brandende berg beteken God se oordeel. Die vernietiging is baie groot. Desondanks spaar God twee derdes van die aarde. Daar is dus steeds geleentheid vir bekering.
Wanneer die derde basuin blaas, word die varswaterbronne aangetas. Weereens is vuur by die oordeel van God betrokke. Ons kan hier aan ʼn meteoriet dink wat die aarde se atmosfeer gaan binnedring en skade veroorsaak. Dit het selfs ʼn naam – Alsem (bitterals). Dis ʼn bitterheid en besmetting wat mense hul lewens kos.
Wanneer die vierde basuin blaas, word die son, maan en sterre donker. Dit herinner aan die negende plaag. Duisternis verpersoonlik die bose en lig die goddelike. In vers 12 moet hierdie duisternis eerder met God se oordeel in verband gebring word. Die eerste vier basuine het die mens se leefwêreld aangetas. Die laaste drie tas die goddelose direk aan.