Lees reeks by Openbaring - Boek van die hede
Ds Andrè van den Berg
Die laaste drie basuine
Openb.9; 11:14-19
1. Profetiese waarskuwings
Die laaste drie basuine word deur ʼn paar profetiese waarskuwings vooraf gegaan wat die wee-uitsprake genoem word. Die eerste een word deur ʼn engel (8:13) aan die aardbewoners (goddeloses) gerig – hulle gaan teëspoed optel sodra die laaste drie basuine geblaas word!
2. Die vyfde basuin
Wanneer die vyfde engel op sy basuin blaas, val ʼn ster uit die hemel op die aarde. Dis ʼn hemelse boodskapper wat God van die hemel af laat kom het om ʼn opdrag uit te voer. Hy het die sleutel van die onderaardse diepte – die plek van dooies en bose geeste (Luk.8:31). Dis ook ʼn tronk wat die dier huisves (Openb.13:1) en woonplek van Satan (Openb.20:1-3).
Wanneer dit oopgesluit word, borrel rook daarby uit soos van ʼn groot oond. Dit lui die komende vernietigende oordeel van God in. Die rook is so dig dat dit die son verduister!
Uit hierdie rook kom ʼn swerm sprinkane soos met die agtste plaag. Hulle word die selfde mag gegee as aan die skerpioene op aarde en in staat tot ongekende vernietiging. Hulle tas egter nie die aarde as sulks aan nie, maar net die goddelose soos die tiende plaag.
Skerpioene was ʼn bekende gesig in die Middellandse seegebied en die mense bewus van hulle giftige steek. Skerpioene word selfs met giftige slange vergelyk (Deut.8:15). Skerpioene was simbolies van foltering (1 Kon.12:11,14). Hierdie bose goggas mag die mense egter nie doodmaak nie, maar die goddelose vir vyf maande lank pynig (:5). Gelowiges wat simbolies op die voorkop gemerk is, spring die teistering vry. Hier dink ons weer aan die tiende plaag.
Die vyf maande foltering hang saam met die leeftyd van ʼn sprinkaan. Die afgemete tyd wys dat die pyniging nie vir altyd sal voortduur nie en dat God se oordeel op die bekering van die goddelose ingestel is. ʼn Skerpioensteek is gewoonlik nie dodelik nie maar uiters pynlik. Hierdie steke is so erg dat mense wens om eerder te sterf. Hierdie doodsversugting stem met Openb.6 ooreen waar die goddelose smeek dat die berge en kranse op hulle moet val.
Openb.9:7-10 geen vreeslike beskrywing van hierdie sprinkane om hierdie vyfde basuin vreesaanjaend te teken. Die sprinkaanplaag word met ʼn invallende ruitery vergelyk. In die antieke tyd is oorlogsperde gevrees. Waar hulle was, het die dood gevolg! Hier word die sprinkane soos oorlogsperde vir die slag teen die goddelose gereed gekry. Die krone wat Johannes op die sprinkane se koppe sien, simboliseer verleende krag – hulle is God se instrumente. Hulle lyk verskriklik om vrees by die goddelose aan te wakker. Die borsplate wat hulle aanhet, dui op hul onoorwinlikheid en die gedreun van hul vlerke klink soos die aantog van baie strydwaens – ʼn oorlogstoneel soos min!
om hierdie grusame beskrywing af te rond, vertel Johannes dat die sprinkane sterte met angels het, soos skerpioene. Die aanhoudende teistering het net een doel – die goddelose moet hul bekeer. Die leërmag het selfs ʼn koning – Abaddon in Hebreeus en Apollion in Grieks. Eersgenoemde was ʼn bekende naam vir die leier van die onderaardse diepte wat die Bose huisves. Sy naam beteken in Hebreeus en Grieks verwoester.
3. Die sesde trompet
Die vyfde en sesde basuin verskil breed van mekaar. Met die vyfde een word daar slegs gepynig en met die sesde een doodgemaak. Dis die tweede wee-uitspraak. Die vorige basuine het mense nie hul toevlug na God laat neem nie, maar die goddeloosheid verder laat gedy! Nou volg die oordeelsvoltrekking wanneer goddeloses sterf. Dis God se antwoord op gelowiges se gebede (Openb.6:10; 8:3-5). Die vier engele wat die winde van verwoesting by die verseëling van die 144,000 vasgehou het, laat dit nou los. Die Eufraatrivier is in die Bybelse tyd as simbolies van vyandige invalle gesien.
As gevolg van die engele wat losgemaak is om die vernietigende werk te doen, sterf ʼn derde van die mensdom gewelddadig. In vandag se terme ongeveer twee miljard! Die ruitery se vernietigingwapens is hul bekke en sterte. Die geweldige getal van die ruitery dui daarop dat die vernietigendemagte onstuitbaar is.
Ten spyte van alles, hou die goddelose vol om God te verwerp en gaan aan om afgode en demone te aanbid. God se uitnodigende hand word willens en wetens weg geklap! Die goddelose se groot liefde is afgodery. Laasgenoemde het altyd met seksuele misdrywe gepaard gegaan. Vrugbaarheidskultusse het sedelike verval gepropageer. Wie afgodery bedryf het, was tot enigiets boos in staat! Daarom kry ons die lys van ondeugde in vers 21.
4. Die sewende basuin
Die blaas van die sewende basuin bring ons by die derde wee-uitspraak. Dit spreek nie van oordeel nie, maar van die hemelse feesvierings wat na die erkenning van God se koningskap aanbreek. Ons hoor hemelse koorsang wat ʼn mens laat vermoed dat die wederkoms van Christus, net soos met sy eerste koms, met koorsang ingelei word. Die oënskynlike heerskappy van die sonde maak nou plek vir die ewige koningskap van God. Die 24 ouderlinge, verteenwoordigend van die kerk, sluit ook by hierdie lofprysing aan.
Die hele OT en NT pyl op een hoogtepunt af – die aanbreek van die alleenheerskappy van God oor die hele wêreld. Die nasies van die wêreld is woedend, maar moet onder die regverdige oordeel van God buk. Die finale oordeel is egter voor die groot wit troon (Openb.20:11-15).
In Openb.11:18 word dit onomwonde gestel dat die einde aangebreek het. Daar is ʼn bepaalde volgorde: eers die wederkoms, dan die algemene opstanding, daarna die finale oordeel, bekendmaking en laastens die ewige eindbestemming.