GELOFTEDAG- REEKS (1)

ONTSTAAN EN INSLAG VAN DIE GELOFTE

Dr PE van der Dussen

Lees reeks by Geloftedagreeks dr PE vd Dussen

Die ontstaan en bestaan van die Gelofte van Bloedrivier word in talle geskrifte in besonderhede beskryf. Oor die geskiedkundige werklikheid daarvan bestaan geen twyfel nie. Daarvan getuig geskrifte van ooggetuies en ander betroubare persone, ook van Zoeloekant. Dit is egter noodsaaklik om oor die inslag van die Gelofte te besin teneinde die saai van twyfel teen te werk.

Die Gelofte was deel van die gebed van Sarel Cilliers op Sondag 9 Desember 1838 te Waschbank tydens die aanderediens. Later, en tot vandag toe, word dit as 'n verklaring herdenk. Dit kan nie weer in die gebed opgeneem word nie, aangesien dit op 16 Desember 1838 volbring en die belofte van jaarlikse herdenking tot in die opkomende geslagte bevestig is. Meestal word dit tydens 'n erediens herhaal en bevestig en word in die gebed en prediking op die onderhouding daarvan in die volkslewe klem gelê, tot bemoediging en aansporing van die Afrikaner. Die nakoming van die Gelofte is en bly 'n vereiste vir elke Afrikaner, hetsy van bloedafkoms of dat hy uit vrye wil hom by die Afrikanervolk gevoeg het en voeg.

Oor die wese van die Gelofte is daar geen twyfel nie. Die drie vernaamste bronne is:

l Die amptelike notulering van die Gelofte deur J G Bantjes, privaatsekretaris van Pretorius en klerk van die Natalia-Volksraad, in die Kommandojoernaal opgeteken en op versoek van die Volksraad in De Zuid-Afrikaan gepubliseer.

l Die Kommandantsverslag van A W J Pretorius aan die Volksraad, ‘n week na die Slag van Bloedrivier en twee weke na die eerste dag waarop die Gelofte afgelê is.

l Die herinneringe van Sarel Cilliers rakende die Gelofte, in 1871 kort voor sy dood gedikteer, meer as dertig jaar na die Slag van Bloedrivier.

Hierdie bronne is oor die volgende eenstemmig:

l  God se genadehulp is in geloof afgesmeek.

l  God word geroem deur die eer van die oorwinning aan Hom te gee.

'n Kerk sou tot gedagtenis van Sy Naam opgerig word.

l  Die verhaal sal aan die opkomende geslagte oorgedra word om daarin te deel.

l  Die dag sal elke jaar as 'n dankdag soos (zoo als) 'n Sabbat (Sondag) gehou word. Daar is onbetwisbare getuienis uit vroeër tye dat dit wel so gevier is. Die Kerkraadsnotule van die Gereformeerde Kerk Pretoria van 22 Desember 1902 stel: Op Zondag 14 December 1902 wordt besloten, te doen afkondigen dat in getrouwheid aan de eed door de vaderen gedaan, Dingaansdag kerkelijk zal worden gevierd. Dit is in 1903 herhaal en in 1904 is die diens na die aand verskuif omdat President Kruger vroeër die dag begrawe is. Die Gereformeerde Kerk Pretoria volg die laaste jare weer die kerklike viering. Vermoedelik was Sabbat destyds die aanvaarde woord vir Sondag.

Die voorgaande word in die algemeen erkende bewoording van die Gelofte vervat wat voor in hierdie Bundel verskyn.

Binding aan die Gelofte

Wie is en word deur die Gelofte gebind? Die Trekkers het familie en gemeenskappe in die Kolonie agtergelaat. Van die Trekkers het vir hulle gaan kuier en is deur van hulle besoek. Die Trekkers het hulle nie aan die Afrikanervolk onttrek nie. Daarom het hulle die beskrywing van die gebeure voor en met Bloedrivier in De Zuid-Afrikaan uiteengesit, en in briewe aan vooraanstaande volksgenote soos ds H D van Broekhuizen. Sodoende het die Trekkers in hulle gemoed alle Afrikaners van die Kaap tot aan die Zambesi en van Weskus na Ooskus by hulle lotgevalle betrek. Hierdie gedagte is staatkundig erken toe die Zuid-Afrikaansche Republiek onder M W Pretorius (seun van Andries) 16 Desember in 1865 as amptelike feesdag erken het. Die Potgietermense, onder wie S J P (Paul) Kruger ‚n leier was (Andries Hendrik Potgieter self is op 16 Desember 1852 oorlede), het hulle daarmee vereenselwig ten spyte van gespanne gevoelens tussen Potgieter en Pretorius wat juis uit die Natalse gebeure voortgespruit het.

In 1838 was die Afrikanervolk nie eers agt geslagte oud nie. Talle nuwe aankomelinge het daarna na Suid-Afrika en veral na Transvaal gekom, hulle met die Afrikaner vereenselwig, en is as Afrikaners in die volk opgeneem. Baie het nog verbintenis met Europa gehad en was eintlik immigrante en immigrantekinders en -kleinkinders. Dit geld ook vir nuwelinge wat later gekom het, tot in die twintigste eeu. Hulle was dikwels getroue nakommers van die Gelofte en talle van hulle kinders en kleinkinders is dit ook. Vanne soos Van der Dussen, Wüst, Penning, Spoelstra, Dykstra, Veldman, Mansvelt, Van der Laan, Van der Kooi, Gottschalk, Bartleman, Lofty-Eaton, MacDonald, Hindon, O'Grady, O'Kennedy, Robinson, Slegtkamp, Biessenbach en dies meer is net so Afrikaner as Van der Merwe, Kruger, Du Plessis, Swart en Du Toit. 'n Versameling uit die beste bronne toon dat daar sowat 4 000 erkende Afrikanervanne is: 42% Duits, 40% Nederlands, 10% Brits, 4% Frans en 4% Skandinawies, Pools, Russies, Portugees/Spaans/Italiaans en onbekend. Meeste hiervan het eers ná 1838 deel van die Afrikanervolk geword en hulle met die Gelofte vereenselwig.

Geloof en Volksverbondenheid

Is Afrikanerskap sonder vereenselwiging met die Gelofte moontlik? En kan ongelowiges as Afrikaners beskou word? In beide gevalle is daar 'n afstand tussen volksgeskiedenis en volksaard soos dit deur die tyd gevorm is. Daarom is in elke geval 'n onomwonde ja of nee nie moontlik nie.

Wat beteken Afrikanerskap? Daar word meermale na die Calvinisme as die wortel van die Afrikaner se aard verwys. Calvinisme[1] word beskryf as ‚n Christelike lewens- en wêreldbeskouing en lewenstyl in die sin en na die gees van die Kerkhervormer Johannes Calvyn. As sodanig beoog dit niks anders as om die Christendom in sy volstrektheid en radikaliteit tot volle reg te laat kom – die wese van die ware Skriftuurlike Godsdiens. Nogtans het die Switserse gereformeerde reformasie onder leiding van Zwingli lank voor Calvyn plaasgevind. Daarby word die beginsels wat onder Calvyn en later Beza uitgespreek is, nie altyd en orals deur almal eenders ervaar nie. Die verskille tussen die Afrikaanse kerkgemeenskappe getuig dat oor Calvinisme selfs binne volke bestaan.

Dordts-gereformeerd, die uitgangspunt van Calvinisme, was die geldende amptelike Nederlandse grondslag waarmee Jan van Riebeeck na die Kaap gekom het. Nogtans het heelwat Duitsers deel van die amptenary en ander aankomelinge uitgemaak, terwyl die eerste Franse Hugenote reeds in 1688 met hulle eie Franse siening gekom het. Onder die Britse Setlaars van 1820 was daar heelwat Skots-Presbiteriale name, terwyl nuwe Luthersgesinde Duitse setlaars ná die Krimoorlog na die Oos-Kaap en Natal gekom het. Talle van hulle is is mettertyd in die Afrikanervolk opgeneem, in so ‚n mate dat daar selfs vandag nog meer Duitse as Nederlandse Afrikanervanne is, met Britse vanne derde, beduidend meer as Franse vanne. Van huis uit meestal Luthers en Presbiteriaans en Puriteins was hulle Protestante soos die Nederlandse Gereformeerdes  wat die diepste stryd om vryheid in die HERE moes voer. Almal het die selfde strewe nagejaag, naamlik in Godsdiens en lewenswyse onvoorwaardelike en ondubbelsinnige erkenning van en gehoorsaamheid aan die Woord van God. Om Calvinisme as die enigste grondslag van die Afrikaner se lewens- en wêreldbeskouing te stel, is ‚n onnodige verenging van die geestelike herkoms daarvan. Omdat die Afrikaanse kerkgemeenskappe die omvattendste uitgesproke kerklike Afrikanerinstellings is en hulle grondslag na die Sinode van Dordrecht 1618-1619 terugvoer, word Calvinisme in hierdie bundel steeds as die oorsprong van die Afrikaneraard gebruik, met dien verstande dat die ander Protestantse rigtings nie daardeur opsygestoot word nie, en dat die Afrikaner se eie siening van Calvinisme erken word teenoor die volksgebonde sieninge in ander lande.

Geloof, Ongeloof en Afrikanerskap

Daar is tot vandag toe in ons volk se geskiedenis ongelowiges wat goed en bloed vir die Afrikanervolk geoffer het en offer. Hy verwerp die bogenoemde grondslag. Dan kan hy hom as ongelowige nie met die Gelofte vereenselwig nie. Sy tekortkoming lê nie in sy Afrikanerskap nie, maar in sy ongeloof. Die verwerping van die grondslag maak hom nie iets anders as Afrikaner as sy hele ingesteldheid ten opsigte van taal en lewenswyse op die belange van die Afrikaner gerig is nie. Dit lê nie op die mens se weg om dit te betwis nie.

Wat van die gelowige Afrikaner wat hom nie met die Gelofte vereenselwig nie? Hierdie vraag is moeiliker om te beantwoord as die vorige. Die Afrikaanse kerke het, onder humanistiese invloed, die afgelope eeu aardse koninkryke en volksbinding as sonde voorgehou asof dit teenoor hemelse burgerskap staan. Om vir jou Godgegewe aardse grond te lewe en te sterwe word met die valse stelling afgemaak dat jy net vir die Koninkryk van God mag sterf en dat jou land nie aan jou behoort nie. Wat dan van die Vyfde Gebod? Van die geskiedenis? Van die Tagtigjarige Oorlog? Van Hendrik Potgieter se trek so ver moontlik van die Kaapse Kerk se liberalisme en van Britse imperialisme af? Van die stryd om behoud van identiteit van die Afrikanervolk teenoor Britse imperialisme, liberalisme en humanisme?

Uit die Ou Testament is dit deurgaans duidelik dat dit vir die Israeliete om nasionale voortbestaan en volksvryheid gegaan het. Daartoe het die HERE hulle as Sy volk bewaar en beskerm, hulle opgewek om Sy Verbondsvolk en Sy Verbond te laat voortgaan. Die Rigtersgeskiedenis, Dawid se stryd om die staat Israel te vestig, die treurgeskiedenis van die Ballingskap en baie meer bevestig dit. Ook in die Nuwe Testament word die aardse burgerskap nie verkleineer of vernietig nie. Die Here Jesus huil oor die toekoms van Jerusalem. Hy Sélf beveel die dissipels om dissipels van al die nasies te maak. Hy, Jesus, roep Paulus as Sy uitverkore werktuig om Sy Naam te dra voor nasies en konings. En tot aan die einde van Openbaring toe word taal, volk en nasie beklemtoon. Volksliefde, volksverbondenheid, nasionalisme, word nêrens in of deur die Woord tot sonde verklaar nie, eerder die teendeel.

Hendrik Potgieter – Voortrekker by Uitnemendheid

Die Trekkers het nie getrek om die deur na Afrika vir die Evangelie oop te maak nie. Hulle het in die woorde van N P van Wyk Louw ‚n wye en oop land gaan soek waar hulle hulle geestelike en volkserfenis ongehinderd kon deurleef en beskerm. Eerstens wou hulle van die onregverdige en onderdrukkende Britse gesag wegkom wat op die edele-barbaargrondslag berus het. Die Britse gesag het egter nie net die Trekkers se volk-wees teengestaan nie. Met hulle beleid van verengelsing het hulle nie geskroom om ook hulle kerk-wees, die Godsdienstige erfenis van die Afrikaners, aan te tas nie. Die Metodisme het juis voor en rondom 1800 ‚n groot deurbraak in Engeland gemaak en saam met die Britse besetting hierheen oorgewaai. Hulle leer was meestal strydig met die Dordts-gereformeerde leer en tradisie van die Afrikaners.

Volk-wees en selfstandige kerk-wees ooreenkomstig die Skriftuurlike leer waarin hulle vanaf 1652 ingewortel is, het weens die Britse onversoenlikheid tot een saamgesmelt. Nadat die Afrikaner die Suidelike gebied van Kaapstad tot aan die Visrivier oopgemaak en onderwerp het, het, het hy geen ander uitweg in sy strewe na vryheid van volk en Godsdiens gehad as om Noordwaarts te trek nie. In terugblik is dit deel van die Goddelike Raadsplan met die Afrikanervolk om die deur na Swart Afrika vir die Evangelie oop te maak en die hele land te onderwerp. Bloedrivier en die Gelofte dien tot voortdurende herinnering aan die sin van dit alles.

Die geskiedenis van die Potgietertrek word deur die wonder van Bloedrivier op die agtergrond gedruk. Tog was dit net so deel van God se Raadsplan met die Afrikanervolk. Ook by hierdie trekkers was daar 'n gelowige opsien na God. Daarom móét die voorafgaande gebeurtenisse in die Vrystaat en veral Transvaal nie misgekyk word nie maar met die geskiedenis van Bloedrivier saamgevoeg word.

Andries Hendrik Potgieter het ‚n deurslaggewende rol in die Vrystaat en Transvaal vervul. In vaste geloof het hy en sy medetrekkers besef dat daar geen rus en vrede kan wees solank die moorddadige aanslae deur Swartes voortduur nie. Totius verklaar: Vir my is Potgieter die trekker by uitnemendheid en in sy persoon en trek is die groot trekkersgedagte die beste verwerklik. Die Potgietertrek het hoofsaaklik uit Noordoos-Kaapland gekom, die tuiste van die Doppers wat hulle kragtig teen die metodisme in die Kaapse Kerk verset het.

Potgieter wou so ver moontlik van die Brit wegkom. Daarom wou hy nie Natal toe gaan nie omdat die see daar is, en dus ook die Brit. Hy skryf op 28 Augustus 1841 aan Andries Pretorius: Nou oor die Brit … terwyl UwelEd my daarom vra, ek wil my in regverdigheid onder geen Brit, nog onder geen moondheid in die wêreld onderwerp nie, en is geen Brit nie en hoop en vertrou dat ek dit ook nooit mag word nie … en wil liewers tien tree voorwaarts gaan as een agteruit. En op 13 November 1848 skryf hy aan die Kaapse Goewerneur Sir Harry Smith: Daar ons geen ander begeerte het as om met Haar Majesteit se regering en onderdane as goeie en rustige bure in vrede te leef nie, en nooit die wapens wil voer behalwe om die land wat ons bewoon teen buitelandse mag of binnelandse oorval te verdedig nie – daar ons dit nie kan doen nie, sal ons met die hulp van die Almagtige verder trek totdat ons 'n plekkie grond vind waar ons vry kan bly. Hierdie aanhalings tipeer Andries Hendrik Potgieter as Afrikaner in murg en been, getrou aan sy herkoms en aard.[2]

Potgieter het in sy trek Noordwaarts met die Matabeles gebots, ‚n groot splintergroep Zoeloes onder leiding van Silkaats (Mzilikaze). Hulle het klein Swart volke in die Vrystaat wreed vervolg en byna uitgeroei. Die eerste kragmeting was op 16 Oktober 1836 by Vegkop, waar die handjievol Trekkers die aanslag van 6000 Matabeles onder Kalipi afgeslaan het, maar met die verlies van al hulle vee. In Januarie verslaan Potgieter en Maritz Silkaats se hoofmag by Mosega naby Zeerust en kry die grootste deel van die buit terug. In November 1837, dertien maande vóór Bloedrivier, onderneem Potgieter en Uys ‚n strafekspedisie teen Silkaats en val hom in sy eie vesting aan – 360 man teenoor 20 000 Matabeles. Na nege dae vlug die hele stam oor die Limpopo tot in die omgewing van Bulawayo. Hierdie veldslag het Bloedrivier oorskadu. Die verhouding van 360 Trekkers teen 20 000 Matabeles was slegter as by Bloedrivier. Verder was die Trekkers die aanvallers sonder ‚n laer om na terug te val as dit nodig sou wees.

Hierdie geskiedenis het twee merkwaardige nadraaie gehad wat Potgieter se standpunt bevestig het dat vreedsame naasbestaan moontlik is as die Swart volke in hulle barbaarse optrede gestuit word. Op 15 Desember 1852, ‚n dag voor sy dood, ontvang Potgieter ‚n gesant van Silkaats wat kom onderhandel oor ’n traktaat om die Afrikaners se beskerming teen die Betsjoeanas aan die Matabeles te bied. Silkaats het bekommerd geraak dat die Betsjoeanas gewere en ammunisie van Engelse handelaars geruil en vir die Matabeles ‚n bedreiging geword het. Die traktaat is inderdaad op 8 Januarie 1853 onderteken, drie weke na Potgieter se dood. Tog moet die krediet daarvoor op sy rekening geplaas word, aangesien sy gesag en aansien by die Matabeles vertroue gewek het. Silkaats het van sy kant af beloof om die wapenhandel onder sy volk teen te gaan en sy hele gebied – ‚n groot gedeelte van Zimbabwe – wesenlik tot protektoraat van die Zuid-Afrikaansche Republiek verklaar. Daarmee is die pad na die Noorde oopgemaak. As Potgieter nie toe oorlede is en sy seun Piet kort na hom nie, sou die traktaat met Silkaats in die geskiedenis van Suid-Afrika veel meer gewees het as net ’n interessante “vodjie papier“ soos die Britte dit genoem het. Dit sou die geskiedenis van Suid-Afrika verander het.

‚n Vriendskapsooreenkoms het in 1887 in elk geval die goeie verhouding tussen Afrikaner en Matabele bevestig, nogeens teen hulle gemeenskaplike vyand Brittanje. Silkaats se opvolger Lobenguela het ongerus geword oor die toestroming onder Rhodes se  aanmoediging van. Goudsoekers en versoek die ZAR om ‚n konsulaat in sy hoofstat te vestig. President S J P Kruger en sy regering stem daartoe in en stuur ene Piet Grobler as konsul na Bulawayo – die eerste diplomatieke verhouding tussen ‚n Afrikanerstaat en ‚n Swart staat. Terwyl Lobenguela sy raadslede oor die diplomatieke ooreenkoms moes raadpleeg, het Grobler sy vrou by die Krokodilrivier gaan haal. Op weg is sy geselskap deur die Bamangwatos uit Betsjoeanaland, ‚n Britse protektoraat, aangeval. Grobler het aan sy wonde beswyk.

Mosega en Bloedrivier ‚n Eenheid

Wat Bloedrivier in Natal beteken het, het die werk van Potgieter in Transvaal beteken. Elke gebied is bevry van ’n moorddadige dwingeland en oopgestel vir die Afrikaner om sy tweeledige roeping na te kom. Die Evangelie was in aantog en intog met Woord en werk. Want nie net is die weg na Afrika geopen vir die wakis met sy grootste skat, die Woord van God, nie. Ook is daar uitvoering gegee aan die kultuuropdrag in Genesis 1-2 dat die mens die aarde met alles daarop moet beheers, moet bewerk, moet bewaak. So was die Trekkers net soos Israel van ouds, in hulle diensplig aan hulle aardse koninkryk, buite hulle wete tóg besig met diensplig in die hemelse koninkryk. Totius verwoord dit so:

Die trek van Boerewaens

wat wentel deur die wye, gevreesde doodsvalleie

en ander skatte dra:

die Heilige Boek as Leier, die swaard as die bevryer;

in wildheid eindeloos 'n moeder met haar kroos

die skat van hoë sede; taaiheid in teënhede;

hoog vóór die vryheidshoop, en ..... Afrika gaan oop –

dié trek van Boerewaens,

hul was die nagverdrywersvan jou, Groot-Afrika!

Juig dan, o binnelande,

wat nog die tekens dra van bloedtonele en brande!

Juig, strande vergeleë,

waar nog die kruise staan van worstelaars op die seë!

Juig, hooglande in die hoogte, woestyne kaal van droogte!

En laaglande aan die see – juig in die vreugde mee!

Oerwoud, grasveld en strome, ontwaak uit nare drome!

Die eeue is omgewend, oop gaan 'n kontinent

voor hom, die nagverdrywer wat intrek met sy wa -

die Boer van Afrika!



[1] Christelijke Encyclopedie Deel II bladsy 82vv, J H Kok NV 1957 bied vanuit Nederlands-Protestantse hoek ‘n uitvoerige uiteensetting van Calvinisme.

[2] Aanhalings uit Versamelde Werke van J. D. du Toit (Totius), Deel VIII, bls 186, 203 en 204. Dagbreek Boekhandel (Edms) Bpk, 1962.