UITVERKIES TOT VERANTWOORDELIKHEID
Dr PE van der Dussen
Lees reeks by Geloftedagreeks dr PE vd Dussen
In die jare-negentig, met die oorgang van 'n Christelik-gegronde regeringstelsel na 'n Kommunistegedrewe rewolusionêre regime, het die Afrikaner hom eensklaps in vreemdelingskap in sy eie land bevind. Jarelank is hy gewaarsku dat dit die weg was waarop die beleidsrigtings ná 1966 sou uitloop: Swart meerderheidsregering met geen erkenning van die Blanke en veral die Afrikaner nie. Hy wou dit nie glo nie maar het blindelings leiers gevolg wat verleiers geword het, tot hy op 27 April 1994 wakkergeruk is.[1]
Allerlei strominge het onder weerstandbiedende Afrikaners ontstaan en algehele wanorde in hulle geledere gebring. Elkeen het geglo wat hy wou en daar kon weinig opgebou word. Eers moes daar duidelikheid kom oor die wese van die Afrikaner, oor die wese van die rewolusionêre regime, selfs oor die wese van die kerk. Die kerk soek al dekades lank toenemend sy uitvlug in politieke korrektheid, raak al hoe meer in sosio-vraagstukke vasgevang en beland so op die glybaan van apostase, roepings-ontrou.
Die staatkundige strukture is ingrypend tot iets vreemd vir die Afrikaner omvorm, die ekonomiese struktuur is in die kommunistiese rigting gedraai, die onderwysstruktuur is omgekeer tot die hoofinstrument van die Kommunistieses regime se onderdrukking van Christelikheid, volksgevoel en vaderlandsliefde.Dit is die Afrika-uiting van die Britse strewe om die Afrikaner van die aardbodem af te verdelg. In die stryd teen ondergang onder die Angelsaksiese regime ‚n eeu gelede het die volk die steun van die Afrikaanse kerke gehad. Maar in die huidige stryd teen die Swart Kommunistiesgedrewe vloedgolf het die Afrikaanse kerke met weinig uitsondering téén die volk kant gekies. Skielik het elke Afrikaanse kerk 'n “beleid” gehad wat die guns van die rewolusionêre regime nagestreef en die belydenis verdring het. Dit het die grond onder die voete van die volk uitgespoel en 'n gees van skuldgevoel en verslaenheid gewek.[2]
'n Hersiening van insigte op alle gebiede was noodwendig. Om verslae te wees, beteken letterlik om verslaan te wees, die nederlaag te gely het, alles waarvoor jy in die verlede gestry of gedink het jy voor stry, te verloor, prys te gee met die gevoel dat jy dit nie kan en nie mag en nie sal herwin nie. Met die NG Kerk, die Hervormde Kerk en „die GKSA“ wat almal amptelik (maar geensins met algemene steun nie) die gesindheid van “apartheidsonde” verkondig en die volk in sondeverlorenheid instuur, het daar geen grond vir toekomsverwagting oorgebly nie. Ikabod – dis verby. Die skuld van die kerkvoorgangers hieroor is baie groot. Hulle moes leiers gewees het maar het verleiers agter ander gode aan geword – gode soos menseregte en antidiskriminasie.[3]
Tog begin ligpunte kom, eers byna onmerkbaar maar stadigaan sterker. Rondom die betekenis van Bloedrivier en die Gelofte het nuwe insigte gekom. Waar in die vorige vyf dekades van volksontwaking en volksbevryding die klem op lofgesang geval het, het Bloedrivier nou vir die getroue Afrikaner 'n bron van beklaging geword, maar nogtans iets waaraan vasgegryp kan word. Geleidelik, namate 'n nuwe geslag onder die nuwe regime grootgeword het, het vastigheid by 'n klein minderheid begin posvat.
Die Afrikaner en ander Blankes bly in groot getalle van die stembus af weg uit miskenning van die regmatigheid van die regime. Die beweging na privaatonderwys het 'n erkende en aanvaarde onderdeel van die samelewing geword. Die gronddiefstal deur die regime het in die boeregemeenskap opstandigheid geskep. Die onvermoë van lands-, streeks- en plaaslike owerhede om behoorlike dienste te verskaf en in stand te hou, noop al meer gemeenskappe tot aktiewe optrede, nie om af te brand nie maar om self die dienste te verskaf en met teruggehoue heffings te befonds. Teen die volksmoord op Afrikaners en Blankes groei die weerstand en loop terrorismisdadigers hulle teen verset vas.
Tekenend van die gesindheidsverandering is die toenemende weerstand onder lidmate teen die liberalisme en humanisme in die kerkgenootskappe. Elke Afrikaanse kerkvergenootskap ervaar binnestryd hieroor en kerklike “leiers” ervaar al sterker weerstand teen hulle as “verleiers”. Die NG Kerk kry toenemend teenstand teen sy poging van meer as twintig jaar om eenwording rondom Belhar. Die NG Streeksinode Noord-Kaapland het sterk standpunt oor die dwang op gemeentes ingeneem en in beginsel ten gunste van die herstel van die Dordtse Kerkorde gepleit. Die Hervormde Kerk is in 'n warboel oor die rassekwessie en leervrysinnigheid en het reeds ‚n skeuring ervaar. Die Gereformeerde Kerke ervaar in 2009 en 2012 dat die toetsing van sy politiek-korrekte integrasiebesluite van 2006 onvermydelik verdere politiek-korrekte optrede opeis, dat as jy “a” gesê het, jy nie kan weier om “b” en “c” te sê nie. Die Afrikaanse Protestantse Kerk is vanweë die rassekwessie kwesbaar.
Dit is belangrik dat daar in die denkeweerstand na Skrif en Belydenis teruggegryp word. Die 1953-Bybel maak steeds 'n groot deel van Afrikaanse Bybelverkope uit. Daar is weerstand teen die Cloete-omdigting van die Psalms in talle Gereformeerde Kerke. Die onskriftuurlikheid van politieke korrektheid en sosio-maatskaplike betrokkenheid kry weerstand van Skrifgebonde kerklidmate.
Waarom het soveel dinge oor die Afrikaner gekom? Hoewel die volksbesef sedert 1966 verflou het en afgetakel is, met verflouing van belangstelling in volksdae waarvan Geloftedag die kerndag is, is die Gelofte tog steeds gedenk. Maar hoe? Die gedagte is gevestig dat die Afrikaner op grond van die Gelofte “veilig” is. Maar die Gelofte bepaal dat die eer van God daardeur verhoog sal word dat die roem van die oorwinning aan Hóm gegee sal word. Het dit in die dekadelange volksbloei dalk al hoe meer oor volksbestaan en volksverheffing in plaas van Godverheerliking gegaan? Selftevredenheid, veiligheid, gerustheid in die Gelofte? Toe word dit alles die Afrikaner ontneem. Sy sekerheidsgevoel het eensklaps verval. Goddank is daar diégene wat die volksvlam brandend gehou het.
Die Afrikaner moet dalk eerder skuldig voel dat die eer van God deur volkseer vervang is as oor die gewaande sonde van apartheid. Vandag word met groot dankbaarheid minder brawade gehoor. Daarteenoor word al meer gehoor, al is dit van 'n minderheid: In die geloof vorentoe sodat ons nie God sy eer ontneem nie! Ons voorouers het geroep toe alles nag was – en God het geluister. Dit is die gesindheid wat die Afrikaner opnuut moet lei om sy roeping tot nagverdrywer van Afrika te kan voortsit.
Mag die Here HERE ons daartoe help tot die eer van sy Naam!
[1] Die dag waarop F W de Klerk die heerskappy aan Nelson Mandela oorgegee het.
[2] P E van der Dussen: Kerk van Christus – Waarheen? Reformasie teenoor Transformasie, hfs 3, gee 'n uitgebreider uiteensetting hiervan (voetnoot 68 op bls 35).
[3] Kyk Maleagi 2.
VAN TROAS TOT BLOEDRIVIER
Paulus na Europa gestuur
En hulle het deur die land Frigië en Galasië gegaan, omdat die Heilige Gees hulle verhinder het om in Asië die Woord te verkondig. En toe hulle by Misië kom, het hulle probeer om na Bithinië te gaan, maar die Gees het hulle dit nie toegelaat nie. So het hulle dan Misië verbygegaan en na Troas afgekom. En Paulus het 'n gesig in die nag gesien – daar staan 'n Macedoniër wat hom smeek en sê: Kom oor na Macedonië en help ons! En toe hy die gesig gesien het, het ons dadelik probeer om na Macedonië te gaan, omdat ons verseker was dat die Here ons geroep het om die evangelie aan hulle te verkondig - Handelinge 16:6-10.
Merkwaardig! Die Heilige Gees verhinder Paulus en sy geselskap om verder in Asië die Woord te verkondig. Dan laat Hy hulle selfs nie toe om dit te doen nie. So kom hulle in Troas aan, as't ware daarheen gedryf. Daar verklaar die Heilige Gees die merkwaardige gebeurtenis: Hulle moet na Macedonië gaan – na Europa toe.
Paulus is ongeveer 50nC op sy tweede sendingreis en het verskeie gemeentes besoek waarvan sommige tydens sy eerste reis gestig is. Hy wil verder in Klein-Asië werk, maar die Heilige Gees dwing hom Weswaarts na Europa toe, toe reeds en tot vandag die kern, die sentrum van denke en wysbegeerte (Griekeland) en orde en tegniek (Rome). Na dáárdie heidene moet Paulus gaan om die Evangelie te verkondig.
Word die geskiedenis met 'n geloofsoog beskou, het God déúr die gedryf en gewoel van oorloë en opstande vóór die Pax Romana – die Romeinse vrede – die wêreldarena vir die koms van die Christelike tydperk voorberei. Juda-Benjamin het die Messias verwerp, 'n klein getal gelowiges uitgesonder. Die omringende volkesee in die Midde-Ooste was nie tot God geneig nie. Klein-Asië het Christus nie gesoek nie. Nou stuur die Heilige Gees Paulus, die uitverkore werktuig om die Evangelie aan die heidene te verkondig (Handelinge 9:15), wég van Asië, Weswaarts na Europa, na Griekeland en Rome.
Uitverkiesing
Wie die wêreldgeskiedenis binne die Kerkgeskiedenis plaas en dan in die lig van die Openbaringsgeskiedenis beskou, sien verwonderd: God het in Sy vrymagtige almag en voorsienigheid Europa uitverkies om die Evangelie tot aan die eindes van die aarde uit te dra. Dáártoe is die Griekse denkvermoë en die Romeinse tegniese en staatkundige vermoë ontwikkel: Sodat Europa eeue later in staat kon wees om die wêreld oor land en see te deurkruis, tot aan die verste uithoeke, Noord- en Suidwaarts, Oos- en Weswaarts. Dáártoe het die Heilige Gees Paulus na Europa toe gestuur.
Die Romeinse Ryk is deur geestelike verrotting verswak en deur die heidene vernietig. Maar op wonderbaarlike wyse het die Evangelie tot in Spanje, Engeland, Frankryk, Duitsland, Nederland verbrei. In die eerste eeue het die kerk geblom, veral in die Romeinse gebiede in Noord-Afrika waar Rome se arm sterk was.[1] Rome het in die kerkwese ingedring toe Konstantyn die Christelike kerk tot staatskerk verklaar het. Dit was nie vir die kerk 'n goeie ding nie en het tot die vestiging van die Heilige Romeinse Ryk as 'n soort verstaatlikte kerk bygedra. Tot die tyd van die Hervorming het die Pous van Rome die laaste sê in die aanwysing van vorste in Europese lande gehad en was hierdie vorste die werktuie van die Roomse Kerk in die gruwelike vervolging van die Protestante.
Die Hervorming
Die Hervorming het die uitdra van die Evangelie na ander vastelande laat verwerklik. Volgende op die ontdekkings en ontwikkelinge van die Renaissance het die vorste rykdomme elders begin soek. In die geldende verhouding staat-kerk het die Roomse Kerk 'n Godsdienstige beeld aan die ontdekkingsreise gegee. Dit was egter eers ná die Hervorming dat die opdrag van die Here Jesus om die Evangelie tot aan die uithoeke van die aarde te verbrei, kragtig uitgevoer is.
Die drie groot reformatoriese strominge, Luthers, Gereformeerd (Calvyn), en Presbiteriaal (Knox), het elkeen 'n eie rigting ingeslaan. Vanuit Duitsland bereik die Lutherane Noord- en Oos-Europa, vanuit Nederland bereik die Gereformeerdes Suid-Afrika[2] en Suidoos-Asië, en die Skotse Presbiteriane bereik Noord-Amerika. Later bevolkingsbewegings het die drie strome laat kruis en soms laat saamsmelt.
Gereformeerd en Geroep tot Nagverdrywer
Die Gereformeerde leer beklemtoon geroepenheid as vrug van die uitver-kiesing. Dit pas in die Hollandse aard dat hierdie rigting hulle aangegryp het. Hulle het dit in en aan die Afrikaner oorgedra. Dit is deur die Hugenote in die Afrikaneraard versterk en met die aansienlike toevoeging van Duitse bloed het die Afrikanervolk al vroeg in sy bestaan die geaardheid getoon wat hom vir sy geroepenheid in hierdie taai land geskik gemaak het, hom die wit kind van groot Afrika gemaak.
Die Afrikaner het spoedig van Kaapstad af Ooswaarts getrek. Dit het langer geduur voordat hulle Noordwaarts die binneland van Afrika in getrek het, uit protes teen die aanslae van die Britse bewind om hulle te verengels en as volk te vernietig. Die oorsake van die Groot Trek was volksgebonde, maar die Trekkers het hulle Bybels en Godsdiensgeskrifte op hulle tog Noordwaarts saamgeneem. Hulle het vryheid van die Engelse gesoek, en die HERE het hulle tot daardie soeke gebring om hulle die lig van die Woord in Donker Afrika te laat indra as die geroepe nagverdrywer van Afrika. Satan het dit gesien en op enige wyse en met elke denkbare menslike vennoot dit teengegaan. Die aanvalle van Swartes op die Trekkers was deel van sy plan. Toe Retief en Dingaan oor saamleef in Natal ooreenkom het Satan besef dat hy sterk en vinnig moet optree.
Dit het tot die verraderlike moord op Retief en sy korps en die barbaarse moordtogte by Bloukrans en Weenen gelei. Maar die Heilige Gees het die oorlewendes gesterk. Terugtrek Kolonie toe wou hulle nie. Selfs Satan se aanblaas van onenigheid kon hulle nie van koers af bring nie. Hulle het nuwe leiers aangewys, Andries Pretorius uit die Kaap gaan haal wat hulle met goeie organisasie, dissipline en beplanning voorberei het om die Zoeloemag te verslaan. Sarel Cilliers was die geestelike leier. Toe die tyd van beslissing kom, het hulle die Gelofte op Sondag 9 Desember 1838 afgelê en daarna ses dae lank by aandgodsdiens herhaal. Op sigself 'n wonderlike verloop van Sondag tot Sondag.
Toe die uur aanbreek word hulle deur God se Almagtige Hand teen die vyand beskerm. Nie omdat hulle Afrikaners was nie, maar omdat die trek met die skat van die Evangelie in die wakis tot eer van die HERE moes voortgaan. Dáártoe het die HERE die Afrikanervolk totstandgebring. Wat 'n geweldige verantwoordelikheid rus op ons en ons volk!
Van Troas tot Bloedrivier
So loop die Goddelike uitverkiesingsweg:
l Die HERE berei Rome (orde en tegniek) en Griekeland (denke) oor eeue voor.
l Hy stuur Paulus na Europa.
l Rome verval staatkundig en ekonomies, maar sy vaardighede bly bestaan.
l Die Kerk bloei in die eerste eeue en verval in die donkerte van die Middeleeue.
l Die Renaissance bring kennis en tegniek soos die boekdrukkuns.
l Die Kerkhervorming vind met die hulp hiervan plaas.
l Ontdekkingsreise open die weë tot aan die eindes van die aarde.
l Die Gereformeerde Godsdiens kom uit Nederland na die Kaap.
l Die Afrikanervolk word uit Nederlanders, Duitsers en Franse in die gereformeerde tradisie gevorm en met elkeen se besondere eienskappe saamgevoeg. Britse elemente kom later by en van hulle word in die gereformeerde tradisie ingesuig.
l Die Afrikaners trek die binneland in en neem die Evangelie saam.
l Met die wapenrusting van die Woord durf hulle die stryd teen 'n groot oormag aan.
l Die HERE hoor hulle versugting en skenk aan hulle redding sodat Sy Woord verkondig kan word. Want so het Hy dit beskik.
Die HERE se Raad word nooit gekeer nie; dit sal bestaan in ewigheid!
Teen Sy besluit is geen verweer nie, bestendig duur dit vir altyd (Ps 33).
Geloftedag en die Kerk
So beskou hoort Geloftedag op die Kerklike kalender. Nie as Christelike feesdag soos Goeie Vrydag en Paassondag en Hemelvaartsdag en Kersfees nie, maar as gedenkdag soos Hervormingsdag en Bartolomeusnag en ander tye en dae wat bakens in die Kerkgeskiedenis is waarna terugverwys en waarop koers bepaal kan word. Dit was vroeër gebruik dat Geloftefeeste met afkondigings deur die Afrikaanse Kerke bekendgemaak en lidmate opgeroep is om die Gelofte van die voorouers na te kom. Hierdie gebruik het verswak namate indiwidualisme en liberalisme ingedring het. Die tyd het gekom dat die Kerke hierdie gewoonte herstel.
Maar nie net die Afrikaanse Kerke nie – die Kerk wêreldwyd, veral in Afrika! Alle gelowiges moet hulle verbly dat Bloedrivier die weg geopen het om die nag uit Afrika te verdryf, soos die Afrikaanse Kerke hulle in die Kerklike ontwikkeling in Korea en Indië en Zambië en Namibië verbly.
Geloftedag 16 Desember hoort op die kalender van elke Kerk
oor die ganse aarde as dankdag en dag van voorbidding
tot eer van die Almagtige God van Hemel en Aarde!