WAT MAAK JY HIER, AFRIKANERVOLK?
Dr PE van der Dussen
Lees reeks by Geloftedagreeks dr PE vd Dussen
PW Botha se benadering in sy bewindstryd was die normalisering van die samelewing sodat daar vrye omgang tussen alle mense kon wees. Wette soos die ontug- en die groepsgebiedewet is nie streng toegepas nie en onderwysintegrasie is vergemaklik. Die oorlog in Suidwes-Afrika/Angola het hom as minister van verdediging gepla. 'n Maklike mens was hy nie en dit het tot toenemende spanning tussen hom en die leidende vér-linkse R F (Pik) Botha en F W de Klerk gelei. Hoewel die vertroue in sy bewind ná die 1981-verkiesing getaan het toe die HNP skielik 'n sprong vorentoe gemaak en die KP enkele maande later van die NP weggebreek het, was die NP-Broederbondallianse se houvas stewig genoeg om 'n bewindsverandering te voorkom/ Die KP se tweeslagtigheid het die NP gehelp.
Internasionaal en ekonomies het dit sleg gegaan, hoewel die sanksiespook erg oordryf is. Nogtans het die Bothabewind weinig daaraan gedoen en uiteindelik oor Suidwes-Afrika gekapituleer.
Kort daarna het De Klerk vir Botha opsygeskuif en Blank Suid-Afrika vir oorgawe aan die SAKP-ANC gereedgemaak, Botha het die veld voorberei, maar op die keper nie kans vir oorgawe gesien nie. Voor sy dood het hy getoon dat hy weet dat hy verkeerd gedoen het en sy hand na regs en bepaaldelik na die HNP uitgesteek.Die veranderde houding van die NP-regering op wie die Afrikaner dekadeslank vertrou het, het onsekerheid en onrustigheid geskep. Vaste grondslae soos afsonderlike ontwikkeling en nasionalisme is doelbewus op die agtergrond geskuif en selfs Geloftedag is openlik nie meer deur die NP-leiding nagekom nie. Sondagwetgewing is afgewater, egskeiding is vergemaklik, korrupsie het floreer. Dit het die Afrikaner grootliks rigtingloos en onseker oor sy wese en geroepenheid gemaak. Sy kerke het hom in die steek gelaat met ellelange besprekings oor sosio-politieke sake terwyl die gesag van die Woord afgetakel is.
'n Preek oor 1 Konings 19 deur ds Sarel Cilliers was die aansporing tot hierdie toespraak, bepaaldelik die HERE se vraag: Wat maak jy hier, Elia? Elia het moedeloos uit sy amp weggeloop. Maar die HERE het hom getoon dat die dienskneg nie kan besluit of en dat sy werk voltooi is nie. Dit is die voorreg van die opdraggewer, in Elia se geval die HERE. Die vraag word in hierdie gees vyfmaal tot die Afrikanervolk gerig:
l Wat maak jy hier, Afrikanervolk?
l Wat maak jy hier, Afrikanervolk?
l Wat maak jy hier, Afrikanervolk?
l Wat maak jy hier, Afrikanervolk?
l Wat maak jy hier, Afrikanervolk?
VAN BINNE EN BUITE BEDREIG
Daagliks word gehoor: Die Afrikaner word van alle kante bedreig. Daagliks word nuwe bedreigings aangekondig. SWAPO se jarelange terreuroorlog in Suidwes-Afrika is aanvaarde werklikheid. Die onrus in Swart en Kleurlingwoonbuurte, erg soos dit is, het skaars nog nuuswaarde en word deurlopend deur nuwe onheilstydings ingehaal. Die landmyne in Noord-Transvaal word byna agteloos behandel as net nog iets in ons lewe van bedreig wees.
Buitelandse druk is aan die orde van die dag. Byna elke land in die wêreld dreig met groot lawaai om Suid-Afrika en besonderlik die Afrikaner met alle mag storm te loop. Dit geld vir ou vyande soos Brittanje én vir voorheen vriendskaplike lande soos Nederland.
Ekonomies is die land in die greep van ‚n langdurige ernstige droogte. Terselfdertyd verkeer hy saam met die wêreld in 'n ernstige ekonomiese depressie. Rentekoerse staan op 'n ongekend hoë vlak. Pryse styg onbeteuel. Werkloosheid neem by die dag toe en na vyf dekades steek die spook van armblankedom kop uit. Die Rand se buitelandse waarde verswak by die dag. Die land wat tweederdes van die wêreld se goud produseer kan nie sy verpligtinge nakom nie en is wesenlik bankrot.
Geestelik word die vastigheid onder die volk se voete weggeneem. Dinge wat vastigheid en sekerheid gebied het, word bevraagteken en uit eie geledere fel aangeval. Teoloë wat tien jaar gelede apartheid as die rigtinggewende en behoudende beleid van en vir die Afrikaner bepleit en bevorder het, verdoem dit vandag as doodsonde. Op grond van dieselfde Bybel verkondig dieselfde kerke wat tien jaar terug apartheid regverdig het, integrasie as redding vir nou en altyd.
Staatkundig is die Afrikanervolk tot 'n minderheidsgroep tussen baie minderhede gedegradeer. Sy bestaansreg as Blanke volk word so aangetas dat nie net sy regeermag nie, maar sy aanspraak op sy vaderland grondwetlik vernietig is. Gemengde huwelike wat as ontoelaatbare skande vir die Afrikaner beskou is, is gewettig en word as oplossing van die rasseprobleem aangeprys. Universiteite en skole word oopgegooi, busse en treine word geïntegreer, afsonderlike woonbuurte word aangetas.
Is dit te verwonder dat die toekoms donker lyk as dinge wat voorheen vastigheid gegee het, weggeneem word? Dat die toekoms so donker begin lyk dat daar Afrikaners is wat die wortels uittrek en na elders verhuis of dit oorweeg, terwyl ander moedverlore die toekoms in die ontvlugting van lydsaamheid afwag? Of uitvlug in “skuldbelydenis en versoening” oor sogenaamde sondes soek, by name apartheid? En dan is daar dié wat reken dat ons deur aanpassing en verandering die guns van ons vyande sodanig kan verwerf dat ons tot 'n onderhandelde ooreenkoms met hulle kan kom.
Al die sogenaamde oplossings is niks anders as ontvlugting aan die werklikheid nie. As dit nie so is nie, kan daar met reg gevra word: Het die doemprofete tog gelyk? Is dit inderdaad verby met die Afrikanervolk? Die antwoord lê in die teenvraag:
Wat Maak Jy HIER, Afrikanervolk?
Wat maak jy op die hier van Afrika? In die hier van die vyandige volkesee? In die hier van die tyd, van die geskiedenis? Met die hier van die Gelofte en oorwinning van Bloedrivier? Waarom is jy vandag, 16 Desember 1985, in jou getroues orals in die land byeen? Selfkennis is nodig om hierop te kan antwoord:
l Wie en wat is die Afrikanervolk?
l Waar kom die Afrikanervolk vandaan?
l Hoe het die Afrikanervolk hier gekom?
Eers as die bakens van die geskiedenis duidelik opgerig is, kan die vraag Wat maak jy hier, Afrikanervolk? so beantwoord word dat die toekomspad koers en rigting sal hê. Soos ander Blanke nasies buite Europa stam die Afrikanervolk uit Europa van die sewentiende eeu, die tyd van Kerkhervorming, ontdekkingsreise, uitbreiding van die seevaarthandel vanuit Europa na die ander vastelande. Die wêreld buite Europa het in die greep van die heidendom, van agterlikheid, van barbaredom verkeer. Dit was die Blanke van Europa wat met sy opgehoopte kennis, kundigheid en vaardigheid die lig van die beskawing en die Christendom na ander vastelande uitgedra het.
Is hierdie stelling onchristelik, sondig?. Die Bybel leer dat dit God behaag het om aan sommige volke meer gawes as aan ander te gee. Dit betaam ons nie om te vra waarom dit so is of om daarteen in opstand te kom nie, maar slegs om, elkeen met die gawes wat hy ontvang het, sy roeping so te volbring dat die Naam van die HERE daardeur geprys word. So verklaar die leerboek oor die Uitverkiesing, die Dordtse Leerreëls Hoofstuk 3/4 §7.
Die Afrikanervolk is 'n loot van Europa en daarom van huis uit 'n Blanke volk. Dit is geen vindsel van die 20e eeu nie, maar 'n werklikheid wat drieduisend jaar teruggaan. Net so min as wat die Nederlander of Duitser of Fransman of Engelsman sy Blankeskap kan ontken, net so min kan die Afrikaner dit doen. Net so min as wat die Nederlandse of Duitse of Engelse of Franse volk sonder verset sal toelaat dat hulle identiteit deur 'n oormag volksvreemdes, selfs Europese volksvreemdes, bedreig word, sal die Afrikanervolk dit toelaat! Die Zoeloe en Xhosa en Indiër en Kleurling wil dit ook nie doen nie!
Maar die Afrikanervolk is nie net vleeslike nageslag van Blanke Europa nie, hy is óók geestelike nageslag van Protestants-Christelike Noord-Europa. Die Kerkhervorming wat op die Middeleeue gevolg het, het veral in Switserland, Nederland en Duitsland gebloei. Vandat Maarten Luther op 31 Oktober 1517 sy 95 stellings op die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker het, het dit meer as 130 jaar van stryd en oorlog geverg voordat die Vrede van Wesfale in 1648 Nederland se vryheid van Spanje en Frankryk en die Heilige Romeinse Ryk verseker het. Dit het die weg vir Nederland geopen om kragtiger in die wêreldhandel op te tree. Een van die eerste vrugte daarvan was die vestiging van die nedersetting aan die Kaap.
Intussen het die Gereformeerde Kerkhervorming sy beslag in 1618-1619 op die Sinode van Dordrecht gekry. Dié Sinode het die Belydenisskrifte vasgestel wat tot vandag toe amptelik deur die Afrikaanse kerke onderskryf word as die uiteensetting van die Skriftuurlike leer van die Saligheid: Die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus, die Dordtse Leerreëls. Hierdie leerstukke bevat die beginsels waarvolgens die destydse vrye Nederlandse staatkunde ingerig is. Met hulle het Van Riebeeck op 6 April 1652 in Tafelbaai die Afrikaanse bodem betree om dit te bewerk tot die ontkieming en groei van 'n nuwe volk: Die Afrikanervolk!
So is jy, Afrikanervolk, gebore as kind van die stryd om vryheid, nasionale vryheid deur en in geloofsvryheid. Jou Nederlands-Gereformeerde stam is deur die Franse Hugenoot versterk wat terwille van die vryheid van geloof uit sy vaderland moes vlug. In jou are vloei die bloed van Duitser, Skandinawiër, Skot, Ier, Engelsman, Wallieser. So is jy as Blanke Christelike volk gebore en gevorm in die land wat God aan jou in Sy Voorsienigheid jou toebedeel het! Wie dit ontken of wil verander gee aan die klei die reg om die pottebakker te verwyt en ontken die vrymagtige uitverkiesing van die Almagtige!
Hier, Afrikanervolk, het jy deel geword van die goeie aarde waarheen jy gestuur is en waarop jy kom woon het. Aan hierdie ruwe, braak aarde het jy in die sweet van jou aangesig jou brood leer ontworstel. Deur harde werk het jy die land laat bloei wat bar gelê het, sodat daar vir jou en vir almal rondom en by jou oorvloed gekom het. Onder die felle Afrikason het jy as kind van Afrika die volk geword op wie die verantwoordelikheid rus om die nagverdrywer van Donker Afrika te wees.
Die Afrikanervolk se geskiedenis het met Europa verwikkel gebly. Sy wieg het immers daar gestaan. So het die opkoms van die Britse ryk belangrike gevolge vir hom gehad, hom oor 'n eeu van onreg gevorm en gestaal om hier te kan voortbestaan. Die geskiedenis wat tot die Groot Trek aanleiding gegee het, van die Trek self en daarna was alles deel van die eeu van onreg wat in die moordkampe van Kitchener en Milner 'n afskuwelikheid bereik het waarvan die wêreld vandag nog gril.
Maar dwarsdeur die negentiende eeu, ja tot in die twintigste eeu en tot met die finale verwerping van Britse oorheersing op 31 Mei 1961, het die Afrikaner se grondslag waarin hy gebore is, vryheid en geloof, hom staande gehou en telkens laat opstaan uit die stof. Geen ander Afrikavolk het harder gestry en groter offers aan goed en bloed gebring om Afrika van vreemde oorheersing te bevry as hierdie Europese loot nie. Sy stryd teen die Britse empire het meegebring dat die hele Afrika vry van Europese oorheersing kon word.
Die Gelofte en Bloedrivier is deel van hierdie geskiedenis. Hulle gaan oor die twee sake waaruit die Afrikanervolk gebore is: 'n Volk se voortbestaan in vryheid en 'n volk se geloof. Vryheid en Geloof – Vryheid in Geloof! Wanneer Sarel Celliers sê: Hier staan ons voor die Heilige God van hemel en aarde, weerklink daarin die strydkreet van die Nederlander van die 16e eeu: Vir God, Nederland en Oranje! Ons hoor die woorde van Maarten Luther in Psalm 46: 'n Vaste burg is onse God! So is die Gelofte en Bloedrivier eie aan die aard van die Afrikanervolk, onlosmaaklik deel van sy wese en bestaan en beantwoord die vraag:
Wat MÁÁK Jy Hier, Afrikanervolk?
Hoekom is jy hier, Afrikanervolk? Wie met die geloofsoog na die geskiedenis kyk, sien in die oorwinning van Bloedrivier die bevestiging van die Afrikanervolk se geroepenheid. Daar het die Afrikaner voor dreigende uitwissing gestaan. Talle manne, vroue, kinders, is deur die bloeddorstige barbaarse Zoeloehordes vermoor. Alles lyk hopeloos, die oormag so ontsaglik groot. Tog word die stryd nie ontwyk nie – dit word gesoek!
By die Trekkers het dit om hulle oorlewing en voortbestaan gegaan. Die feit van die Gelofte en die bevestiging daarvan in die oorwinning het egter aan hulle volkstryd om vryheid dieper betekenis gegee, hulle volkstryd tot geloofstryd laat word. Die Afrikanervolk se geroepenheid om vanuit die Suide die duisternis uit Donker Afrika te verdrywe, het sigbaar geword en is in die oorwinning deur die God van hemel en aarde aan almal beteken! Waar die kerk in Noord-Afrika doodgeloop het,[1] het, na baie eeue die Evangelie weer op Afrikabodem in die Afrikanervolk deel van Afrika geword.
Weet egter: God het dit gedoen nie terwille van die Afrikanervolk nie, maar omdat Hy in Sy vrymagtige uitverkiesende voorsienigheid dit so gewil het dat die Blanke van Europa die Evangelie deur die sendingwerk van Paulus moes ontvang om dit na vele eeue oor die ganse aarde uit te dra. Deur die Gelofte te doen het die voorgeslag 'n groot verantwoordelikheid op die Afrikanervolk gebring, 'n verantwoordelikheid wat in die oorwinning van Bloedrivier bevestig is.
Dit stel die onverbiddelike vraag voor ons:
WÁT Maak Jy Hier, Afrikanervolk?
Is jy nog getrou aan jou aard en herkoms? Is jy nog bereid tot die stryd wat jou geroepenheid van jou verg, selfs 'n bloedige stryd as dit moet? Baie sit op die ashoop van angsbevangenheid hulle soos Job en krap met die potskerwe van selfbejammering. Hulle sê: Dit is die einde! Daar is geen toekoms meer nie! Laat ons maar kyk wat gebeur en hoop vir die beste. Hulle roep angsbevange uit: Ons is te min! Die oormag is te groot! Maar dit sê die Gelofte nie. Die Gelofte sê juis: Ons is min, daarom kan ons net deur die geloof gered word in ons stryd om die voortbestaan van ons volk!
Ander sê: Al ons moeilikhede is die gevolg van ons sondes van die verlede, ons oordrewe bewustheid van ons Afrikanerskap, ons apartheidsbeleid, ons verowering van die land, ons onderdrukking van die Swartes. Hulle soek hulle heil in versoening, in skuldbelydenis en verootmoediging voor die mens, nastreef van menswaardigheid en menseregte en gelykheid van alle mense voor God. Ja, alle mense is dáárin maar ook net daarin voor God gelyk: dat almal van nature ewe verdorwe is en dieselfde ewige dood skuldig is! Maar wanneer die Goddelike uitverkiesing in die Woord van God in geroepenheid geopenbaar word, verdwyn alle gelykheid en loop uitverkiesing tot saligheid teenoor die verwerping tot ewige straf soos 'n goue draad deur die Woord van God. Hiervan spreek die Gelofte en die geskiedenis daarvóór én daarná. Die Trekkers het nie oorlog gesoek nie, maar wou in vrede of 'versoening' met die Zoeloes en ander Swart volke lewe. Daartoe het hulle ordelik met die erkende leiers soos Dingaan onderhandel. Dingaan wou egter nie versoening hê nie en het op verraderlike wyse en met heidense barbaarsheid die onderhandelaars en hulle vroue en kinders uitgemoor. Stryd, bloedige stryd, was onvermydelik.
Maar dan eis die Gelofte nie oorwinning nie, dit laat die uitslag in die Hand van die Almagtige God van hemel en aarde en erken dat watookal gebeur nie die werk van mensehande sal wees nie. Die Afrikanervolk erken sy afhanklikheid van God. Hy erken die mens se nietigheid in sy sondige staat. As die oorwinning behaal is, volg daar nie 'n bloeddorstige wraak op die Zoeloes nie. Dieselfde Afrikanervolk wat vandag deur die versoeners in sy midde as haters uitgekryt word, sluit vrede met die Zoeloevolk en erken sy reg tot vryheid in sy eie land.
Daar is steeds mense wat deur onderhandeling tot aardse vrede wil kom en nie die dure les van Retief wil leer nie. Ten spyte van talle waarskuwings teen Dingaan gaan Retief ongewapend die barbaar se stat binne in die waan dat hy aan guns by Dingaan sou wen deur aan sy versoek toe te gee. Vandag is daar ook mense wat glo dat ons deur aanpassing en toegewing 'n onderhandelde vrede kan verkry.
Niemand verkies oorlog bo vrede nie, ook ons nie. Maar net so seker as wat Retief se toegeeflikheid misplaas was, is dit vandag die geval met toegeeflikheid. Sedert die moord op dr H F Verwoerd op 6 September 1966 is daar begin wegbeweeg van apartheid en deur detente en uitwaartse beweging tot verandering en aanpassing gevorder. Die Afrikaner se aanspraak op sy vaderland Suid-Afrika is amptelik met woord en daad opgesê en daar word nou gesoek na die sogenaamde erkende Swart leiers om oor vrede en versoening te onderhandel. En die resultaat? Alles behalwe vrede! Inteendeel bevind die Afrikaner, die geroepe Blanke volk van Christelike oorsprong, hom nou in dieselfde beleerde toestand as 'n eeu gelede.
In die Gelofte word daar nie gevra dat die stryd aan die Afrikaner verby moet gaan nie. Nee, die stryd word as 'n voldonge feit aanvaar, iets waar-aan nie ontkom kan word nie, en dan word daar net maar uitkoms gevra. Geen verdere toegewings nie, Dingaan, geen verdere onderhandelinge nie, geen aanpassing van ons ooreenkoms met jou nie! Jy het jou land, ons het ons land, en totdat jy ons in vrede in ons land laat woon – land wat ons betaal het met die bloed van ons dierbares wat jy vermoor het – sal ons jou in die stryd opsoek! Maar onthou, Dingaan, al is ons min en jy baie, ons stry nie alleen nie! Ons kom na jou toe in die Naam van die HERE wat hemel en aarde gemaak het! Met die Gelofte van Bloedrivier as dure verantwoordelikheid kom die vraag tot ons:
Wat Maak Jy Hier, AFRIKANERVOLK?
Soos Elia in die tyd van Agab geroep is om die Woord van God aan die Israeliete te verkondig, so is jy, Afrikanervolk, as Blanke Christelike Europese loot geroep om die lig in Donker Afrika in te dra. Soos Elia teen Baäl moes stry, so moet jy teen bygeloof, verraad, ongedierte, heidendom, barbaar en veroweraar stry. Soos Elia ken jy ook jou oomblikke van vermoeidheid. En soos Elia wil jy ook in die woestyn van vertwyfeling gaan sit en kla: Dit is genoeg! Ek kan nie meer nie. Laat my in vrede sterwe.
Maar Afrikanervolk, soos met Elia spreek die HERE ook met jóú, roep Hy jou uit jou slaap, gee Hy jou krag om op jou weg voort te gaan as jy maar net op Hom vertrou en gaan waar Hy jou stuur! As Elia slapende lê en wag op die einde, uit die werklikheid van die stryd na die vergetelheid van die slaap wegvlug, roep die Engel van die HERE hom om te eet sodat hy versterk kan word vir sy trek van veertig dae en veertig nagte deur die woestyn. Want Elia moes na die berg Horeb, die berg van die Verbond. Dáár vra die HERE aan hom: Wat maak jy hier, Elia? Hier in die woestyn? Het jy nie werk onder die volk nie? As Elia sy nood bekla, openbaar die HERE Hom aan die profeet en vra weer die vraag. En as Elia kla dat hy alleen in Israel as yweraar vir die HERE oorgebly het en dat Agab sy lewe soek, stuur die HERE hom om verder te gaan arbei, en verseker hom dat daar seweduisend oorgebly het wat nie die knie voor Baäl gebuig het nie.
In plaas daarvan om ontvlugting in selfbejammering, versoening, skuldbelydenis, aanpassing, verandering te soek, moet ons weer na die Gelofte luister. Ons herdenk die oorwinning van die Afrikanervolk oor sy vyand. Ons word daardeur versterk en opgeroep tot die voortsetting van die stryd waartoe ons hier geroep is: Die verdrywing van die nag uit Donker Afrika! Ons weet waar ons vandaan kom – die Blanke Christelike loot van Europa in Afrika, gebore in vryheid en geloof. By Bloedrivier het die Verbondsgod Hom aan die Afrikanervolk geopenbaar, het Hy die Gelofte bekragtig, 'n verbond totstandgebring. Daarom, Afrikanervolk, is jy vér-bonde volk, ‚n volk wat verbind is. Jy het 'n gelofte gemaak en die Heilige God tot wie jy gebid het, het jou daaraan verbind. En dááruit kom jou krag vir die pad vorentoe, en ook jou verantwoordelikheid.
Afrikanervolk, dink jy dat jou verantwoordelikheid verby is? Wil jý eiesinnig besluit wanneer jy sal werk en wanneer jy sal ophou, soos Elia gedoen het? Wil jy soos Jona van jou opdrag af wegvlug? Soos Paulus met jou hakskene teen die prikkels skop deur God volgens jou menslike norme te wil dien? Soos Moses voor die Skelfsee staan en jou nood by God bekla pleks van te werk? Jou pynig met verootmoediging voor die nasies?
Weet dan dat die Verbondsgod van Abraham, Isak en Jakob Hom van jaar tot jaar aan jou openbaar wanneer jy die Gelofte van jou vaders gedenk! Want laat daar geen onduidelikheid wees nie: Die Gelofte is 'n saak van die Heilige God, en wie dit ontken sal Sy heilige toorn moet trotseer! Wie van die Gelofte 'n menslike saak maak wat jy maar aan die geskiedenis kan oorlaat, tart die Heilige God van hemel en aarde voor wie die Gelofte afgelê is! Geen nuwe gelofte is nodig nie, maar nakoming van dit wat reeds bestaan. Dit vra, dit eis die Verbondsgod. Nie verootmoediging en skuldbelydenis oor wat die wêreld tot sonde verklaar nie, maar getrouheid aan Sy Woord en aan die openbaring van Sy Woord en Sy almag in ons geskiedenis – dit eis die HERE!
Daarom vra die God van Hemel en Aarde elke 16 Desember aan ons:
WAT MAAK JY HIER, AFRIKANERVOLK?
Hierdie vraag kom tot elke Afrikaner en alle Afrikaners gesamentlik. Ons, die opgekome en opkomende geslagte waarvan die Gelofte praat, ons bevestig die Gelofte. Laat dit nie by woorde bly nie. Slaan die hand aan die ploeg! Laat ons hierdie land waarvan die Gelofte die Afrikaner se grondbrief is, sy kaart en transport, laat ons hierdie land bewerk en bewaak omdat dit ons Godbeskikte land en verantwoorde-likheid is! Laat ons oor hierdie land so regeer dat daar opkomende geslagte vir ons sal wees aan wie ons die groot dade van die HERE kan vertel sodat hulle met ons in die roem van Sy Naam kan deel!
Laat ons dan, wanneer ons klein en bang is, nie vreesbevange word nie,
omdat ons steeds tot die God van Bloedrivier kan bid:
Op U almag vas vertrouend het ons vadere gebou.
Skenk ook ons die krag, o HERE, om te handhaaf en te hou,
Dat die erwe van ons vaad're vir ons kindert erwe bly -
want ons is knegte van die Allerhoogste
en daarom teen die hele wêreld vry!