SY RIBBEBEEN

Ds Schalk Strauss

Onder Afrikanermans is daar gewoonlik heelwat grappies wat iets te sê het oor die posisie van die vrou. Een van die bekendstes lui soos volg:

Hoekom het vrouens kleiner voete? Sodat hulle nader aan die wasbak/stoof kan staan.

Mans wil hulle gewoonlik doodlag oor hier die tipe grappies terwyl dit vrouens warm onder die kraag maak.

Is hierdie soort grappies egter net goedige gekskeerdery? Is vrouens se blitsige en soms bitsige reaksie op sulke grappe bloot gemik op die grap? Sê hierdie grappies en reaksies nie dalk iets van bepaalde sienswyses wat onderliggend by ons teenwoordig is nie?

 

Die feit dat mans so graag hierdie tipe grappies vertel of opmerkings maak dat die vrou “haar plek moet ken”, dui op een van twee sake. In die eerste plek gee dit uitdrukking aan baie mans se siening oor die rol en plek van die vrou in die huis, die samelewing en die kerk.

Hulle sien vrouens as tweederangse, minderwaardige wesens wat net goed genoeg is om in diens van die man te staan en aan sy wense en begeertes te voldoen. ’n Ribbebeen i.p.v. sy ribbebeen. Huishulp in plaas van wederhelf.

In ’n postmoderne, hiper-feministiese samelewing waarin vrouens al meer geneig is om die man uit sy rol te wriemel, kan hierdie soort uitlatings egter ook beskou word as ’n soort verdedigingsmeganisme waardeur mans probeer om die ewewig te herstel.

Vrouens se reaksie op opmerkings en grappies soos hier die is egter ook tekenend. In baie gevalle spruit hulle reaksie voort uit ’n opgekropte frustrasie met ’n bestel waarin hulle onderwaardeer en minderwaardig voel. Hulle kom in opstand omdat hulle voel hul rol binne die samelewing word nie na waarde geskat nie. In plaas daarvan dat vrouens egter daarvoor veg om hulle regmatige, Godgegewe plek in die huis, die samelewing en die kerk vol te staan en hulle daarin te verheug, ontwikkel baie vroue ’n weersin in God se rolverdeling. Beïnvloed deur die feminisme, word hulle dikwels aangevuur om hulle eie rolle as minderwaardig te beskou terwyl hulle begeerte nie net is om soos die man te wees nie, maar inderdaad sy rol te wil oorneem.

Wat duidelik blyk vanuit beide mans en vrouens se reaksies, is dat die sondeval ’n beduidende invloed op ons verstaan van God se rolverdeling het. God het self die invloed daarvan duidelik gemaak in Génesis 3:16b – na jou man sal jou begeerte wees en hy sal oor jou heers.

Ten einde God se bedoeling met hierdie uitlating korrek te verstaan, sal dit help om dit te lees in samehang met Génesis 4:7 waarin die begrippe begeer en heers ook saam gebruik word en Génesis 3:16b toelig. In Génesis 4:7 waarsku God vir Kain dat die sonde voor sy deur lê en loer. Sonde se begeerte sal na die mens wees, maar dit is ’n vyandige begeerte. Dit is ’n begeerte wat wil vernietig en domineer. Dit is uiteindelik ook die effek wat die sondeval op die verhouding tussen man en vrou gehad het, aangesien die vrou voortaan haar man se posisie sal begeer en hom wil domineer.

Die woorde en hy sal oor jou heers (Gén. 3:16b) kan beskou word as ’n herbevestiging van die orde wat God reeds in Génesis 2:18 geïmpliseer het. Gevolglik sou ons die teks ’n onreg aandoen deur die man se heerskappy oor die vrou te verklaar as ’n gevolg van die sondeval.

Gelees in die lig van Génesis 4:7 waarin Kain opdrag kry om oor die sonde te heers, m.a.w. dit te beheer en in bedwang te hou, sou ons selfs meer kon afei uit die woorde hy sal oor jou heers.

Nie net herbevestig God sy skeppingsorde met hierdie woorde nie, maar deur die man se heer-skap oor die vrou deel te maak van die vloek wat oor haar uitgespreek is, bevestig Hy dat die man se vermoë en opdrag om oor die vrou te heers, ook deur die sonde verwronge sou raak. Die man sal heers, ja, maar dit sal nie meer ’n koninklike heerskappy wees waardeur God verheerlik word nie. Dit sal ’n dwingende, tirannieke heerskappy wees waarin hy die vrou sal oor-heers. Hier het die geslagsoorlog en die stoeigeveg om dominansie reeds begin. Dat die man se opdrag om te heers deur die sonde beïnvloed is, is duidelik uit die wyse waarop baie mans in die antieke tyd hul vrouens hanteer het. So erg was dit dat God selfs wette moes instel om die vrouens teen misbruik en uitbuiting te beskerm (vgl. bv. Deut. 22-13-19).

Die naakte werklikheid is dat hierdie wanbalans en magspel wat deur ons sondige geaardheid veroorsaak is, nie deur grappies of ons reaksies daarop herstel sal word nie. Ook hiervoor was Christus nodig. Deur sy kruisdood bevry Hy mans van hulle sondige wanpersepsies dat die vrou ’n ondergeskikte, minderwaardige wese is wat in hulle diens staan oor wie met dwang geheers moet word. Hy bevry ook die vrou van haar minderwaardigheidskompleks en identiteitsverwarring sodat sy die rol waarin God haar geskape het, met blydskap en tot sy eer kan vervul. In Efésiërs 5:22-33 plaas Paulus die rolle van man en vrou binne hulle verlossingskonteks.

Wanneer Christus se verlossing daarop inwerk, het mans hulle vrouens lief soos Christus die gemeente lief het en sal hulle heers soos Christus oor sy gemeente heers.

Insgelyks sal die vrouens hul mans respekteer en onderdanig wees, soos wat die gemeente dit aan die Here is.Die Christenvrou hoef dus nie ongemaklik te wees met die rol wat God aan haar toebedeel het met die skepping nie, maar kan dit juis met vreugde omhels. Dit is waar en hoe God haar in sy koninkryk wil gebruik. Dit is nie outyds of oudmodies nie, maar in ooreenstemming met God se oorspronklike bedoeling. Ook haar skepping “was baie goed” (vgl. Gén. 1:31).

'n Vrou gefokus op haar taak; ’n vrou wat met toewyding en liefde dienares is; ’n vrou wat haar rol só vervul, laat haar lig daardeur skyn in ’n donker wêreld.