Kobus Jonker
Lees reeks by Satanisme
Die New Age-beweging se belangrikste mikpunt op die agenda is om 'n eenwording tussen mense en die kosmiese magte daar te stel. Daar word dus baie aandag gevestig op die Kosmiese Bewussyn.
Sekere hulpmiddels word aanbeveel en gebruik om so 'n bewussynsverandering te bevorder. Dit is:
- Kristalle met kosmiese strale, piramides en amulette word om die nek en arm gedra.
- Boeddhabeelde word as fokuspunte vir die verspreiding van kosmiese energie gebruik.
- Mistiese ervaring deur dwelmmiddels.
- New Age-Musiek - ("heavy metal" rock musiek ingesluit)
- Naaktheid as aantrekkingskrag vir demone te gebruik.
Die New Agers glo ook dat kosmiese energie vrygestel kan word deur belangrike fokuspunte regoor die wêreld te identifiseer. Op hierdie hoë punte kan hulle dus mediteer vir die nuwe wêreldorde. Talle plekke is reeds in die wêreld geïdentifiseer, o.a. Tafelberg in Kaapstad, Stonehenge in Engeland, die Egiptiese piramides, die Olimpusberg in Griekeland, berg Fuji in Japan, die Ganges rivier in Indië, Central Park in New York en 'n paar belangrike berge in Noord- en Suid-Amerika en Australië.
Die New Age-beweging het meer as 60 000 vredespale regoor die wêreld geplant en hulle poog om in die toekoms een in elke stad te plaas.
Kaapstad se pale is op 24 Augustus 1989 geplant. Groot konfrontasie het plaasgevind op 12 November 1989 toe die New Agers nog 'n vredespaal op Tafelberg wou plant. Die "Table Mountain Celebration Group" het verklaar dat die pale 'n simbool van vrede was terwyl die Christene wie in hulle massas geprotesteer het, verklaar het dat die pale verbind word met demoniese aanbidding.Shekum Foundation het 'n kennisgewing oor die "Table Mountain Activation Day" versprei waarin die volgende opgeteken was: "For Table mountain is a major planetary focal point for the inbeaming energies of Aquarius and New World Consciousness. It is the manifestation in time and space of the first of three sacred driver wheels in the energy distribution system of earth." In die middel van die Kaapstadse botsing tussen die New Age-lede en wedergebore Christene het 'n burgemeester opgeduik.
Die Christelike groep het die verduideliking verwerp en aangevoer dat die New Age-beweging 'n valse geloof is wat die wêreld voorberei op die antichris se koms. Pastoor Paul Daniel van die Lighuis Christelike Sentrum, het sy kommer uitgespreek oor die gebeure rondom die vredespale. Hy het ook met verbasing gemeld dat die 13de energiesentrum in Moskou geleë was.
'n Port Elizabethse kinderarts wat agt jaar lid van die beweging was, het gemeld dat die plant van die vredespale waarskynlik deur die New Age Movement gereël is om die mensdom daarvan bewus te maak dat "ons een groot wêreldfamilie is". Hy het ook gemaan teen die karakter van die New Age Movement.
Dr Jannie Malan, toe Moderator van die sinode van Suid Transvaal, het in die Kerkbode van 7 Julie 1989 lesers gewaarsku teen die New Age-beweging in Suid-Afrika.
Dr Willie Botha, predikant in diens van die Algemene Sinode vir Leer en Aktuele Sake van die N.G. Kerk het gemeld dat daar in die begin van November 1989 aan hom opdrag gegee is om 'n verslag oor die New Age-beweging saam te stel.
Dr James van Zyl, hoof van die Christelike Sentrum, Stanger, Natal is van mening dat die New Age Movement 'n stelsel is wat uit Satan se hart gebore is en wat se spesifieke doel is om hierdie aarde en sy bevolking vir die Antichris voor te berei.
U en ek moet ons egter voorberei vir die koms van Jesus Christus op die wolke (Open. 21:7).
New Age gebed:
Aanhangers van die New Age Movement het die volgende gebed wêreldwyd versprei om gereeld deur hulle gebid te word – let op hoe God uitgehaal word:
From the point of Light
within the Mind of God
Let Light stream forth
into the minds of men.
Let Light descend on Earth.
From the point of Love
within the Heart of God,
Let love stream forth
Into the hearts of men.
May Christ return to Earth.
From the centre where the
Will of God is known
Let purpose guide
the little wills of men -
The purpose which
the Masters know and serve.
From the centre which we call
the race of men.
Let the Plan of Love
and Light work out.
And may it seal the door
where evil dwells.
Let Light and Love and Power
Restore the Plan on Earth.
Wanneer die bogenoemde gebed ontleed word blyk dit op die beginsels van Panteïsme, Psigiese magte, Die Universele Christus, meditasie, kosmiese kragte die Plan van Liefde en Lig te berus.
Wêreldfamilie
Die New Agers streef na universele norme. Daar word gepoog om alle rasse en kulture te laat vermeng. Die eie waardestelsel van die rasse moet ook prysgegee word sodat almal onder een wêreldregering ingeskakel kan word. Hulle moet dus wêreldburgers wees ("Planetary citizens").
Die finale strewe bly dus om almal op aarde in een groot wêreldfamilie te laat funksioneer ("Global village").
'n Veranderde Ekonomiese Beleid
Alle huipbronne in die New Age moet deur een wêreldregering beheer word. Alle rykdomme van mense moet dus ook herverdeel word. Daar word ook gestreef om elektroniese beheer oor handeltransaksies uit te oefen, sodat niemand sonder 'n rekenaarnommer sal kan koop of verkoop nie. Die nuwe persoonlike identiteitsnommers wat aan mense toegeken word sal deur die getal 666 geïntegreer word.
Die geldgod, "Mammon", sal deur miljoene mense gedien en aanbid word. Die duiwel is die god van hierdie wêreld en beheer reeds miljoene mense wat die duisternis liewer het as die lig. Jesus het op 'n geleentheid gesê: "Julie kan nie God en Mammon dien nie" (Mattheus 6:24). (Lees ook Lukas 16: 9,11,13).
Die Nuwe Wêreldgodsdiens
Die New Agers beywer hulle vir die vestiging van 'n universele, oop godsdiens wat slegs diegene insluit wat in 'n persoonlike god buite die mensdom, asook in 'n verlore christus glo. Persone wie die fundamentele Christen met sy geloof in 'n hemelse God verwerp, is ook in die New Age-beweging welkom. Hulle resorteer dus onder Boeddhiste, Shintoïste, humaniste, towenaars, hekse, panteïste en sataniste. In hierdie nuwe godsdiens is die gemeenskaplike doelstelling om die mens te verheerlik. In hierdie wêreldgodsdiens geld die volgende beginsels en strategieë:
- Elkeen moet die god binne hulself ontdek en na hoër vorms van goddelikheid streef. Hier word die oerleuen van Satan in die paradys, nl. "Julle sal soos God wees" sterk gepropageer.
- Elkeen is inherent goed. Indien probleme ontstaan moet die oorsprong daarvan buite die mens gesoek word.
- 'n Kosmiese Christendom moet gekweek word; d.w.s. alle probleme en siektes moet hulle weg vind na die kosmiese magte. Daar moet gereeld tekens en wonderwerke plaasvind.
- 'n Ekumeniese gesindheid moet by alle mense gemanifesteer word sodat alle gelowe onder dieselfde universele god resorteer.
- Alle pogings aangewend moet word om die fundamentele Christendom te vernietig. Christene moet in 'n swak lig gestel word sodat hul geloof in Jesus as die enigste weg, eng en liefdeloos lyk.
- Die Christene moet onder 'n wanindruk gebring word van 'n mensgemaakte Utopia, dus moet daar 'n evangelie van voorspoed verkondig word.
- Die sosialisering en politisering van die verskeidenheid godsdienste sodat dit deel kan word ooreenkomstig die beginsels van die nuwe wêreldorde.
- Die totale ontkenning van die duiwel se bestaan. Om dit reg te kry moet die duiwel deur positiewe denke geïgnoreer word, of in 'n put uit ons leefwêreld uitgesluit word. Hierdie beginsel geld ook by die beskouing van 'n persoonlike Antichris. Word hierdie denke uitgeskakel, is die weg oop om die nuwe valse christus voor te stel en Lucifer as die god van hierdie wêreld te kroon.
Permissiwiteit
Die New Age-beweging se lede leer ook die humanisme se permissiwiteit ongebonde vryheid as lewenswyse aan. Aangesien die huwelik beperkinge op mens se vryheid plaas, word alle tradisionele sieninge daaroor bevraagten. Aborsie en saamwonery word goedgepraat. Ook homoseksualiteit het 'n plek in New Age. Daar is selfs New Age-predikers in "Christelike" Kerke wat verhouding tussen mans as 'n wonderlike nuwe manifestasie van die Liefde van Christus beskou.
New Age en die Bybel
Die New Age Movement maak 'n onderskeid tussen "Christus" en "Jesus". Hulle ontken die unieke godheid van Jesus en sê dat Christus deur 'n man genaamd gespreek het. Daar word ook gesê dat daar geen verskil tussen Jesus en die alle normale mense bestaan nie. Hulle bevestig dat Christus se Gees ook teenwoordig was in Boeddha, Mohammed, Krishna, ens.
Hulle leer dat God 'n onpersoonlike "krag" is wat 'n weg van manifestering en bestaanservaring daarstel. Daar word egter geleer dat elke menslike wese manifestasie van God is en dus alle verskille tussen die skepsel en Skepper uitwis.
Sulke stellings lei na die onvermydelike slotsom waar daar deur hulle gesê word
"These men and woman are not running around playing god. They are ' God".
Die New Agers maak ook 'n groot fout as hulle sê dat: "The idea of 'original sin' is totally false... The High Religion has nothing to do with sin, only the spiritual development of man". Waar daar dus geen sonde is nie, is daar nie 'n Redder nodig nie. Die Bybel verklaar egter dat almal van ons gesondig het.
"Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God" (Rom. 3:23).
"Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie". (Rom. 3:10)
Een van die voorste New Age-skrywers, Alice Bailey, het die Christene skerp aangeval as die oorsaak van die wêreld se probleme. In haar boek "The destiny of the Nations" pp 34-35 (1949) het sy die volgende geskryf "The world problem is essentially a religious problem and behind all strife in every department of world thoughts today is to be found the religious element".
In die geloofstelsel van die New Age Movement verwys hulle na die gemelde stelsel as die "Plan". Bewaar die persoon wie nie met hulle plan akkoord gaan nie. Alice Bailey sê ook in dieselfde boek dat as enige Christen die oordeel van God en die godheid van Jesus Christus aan ander leer, veral wanneer daar gesê word dat dit nie menslik is nie, hy of sy 'n vyand van die mensdom is en vernietig moet word.
David Spangler, een van die New Age-leiers het 'n baieinteressante verklaring gemaak. Hy sê: "I see the New Age not just as a vision but as a very real spirit". Hy is beslis reg — die gees van die New Age is niks anders as Satan, die antichris, self nie. Ons moet vandag elke gees toets of so nie word ons na die ewigheid in die hel getrek.
Vervolg...