Lees reeks by Ons wêreld van kompromieë
Die versoeking van skynheiligheid
As daar een land is waar ons immoraliteit op hoogste vlak as voorbeeld het, is dit die Nuwe Suid-Afrika met sy beginsellose regeringslui, korrupte polisiekorps en kerkdwaalleraars. Onder hierdie voorbeeld het selfs 'goeie' mense nou oneerlik en skynheilig geword want die geleenthede is so talryk en die straf so onbenullig. Almal lieg vir almal want integriteit is nie meer in die begrip van die moderne Suid-Afrikaner nie.
The American Heritage Dictionary (Houghton Mifflin, 1992) omskryf integriteit as standvastige ondersteuning van 'n streng morele of etiese kode, 'n staat van ongeskondenheid; soliditeit of om onverdeeld te wees, volkomenheid. Dit kom van die woord integer wat "heel" beteken.
Integriteit beteken in wese dat 'n mens aan God se etiese standaarde getrou bly. Die sinonieme daarvan is eerlikheid, opregtheid, onomkoopbaarheid. Dit beskryf die persoon wat sonder skynheiligheid of valsheid is - iemand wat volgens sy of haar uitgesproke oortuigings lewe. 'n Persoon wat integriteit kortkom - iemand wat een ding sê en 'n ander ding doen - is 'n huigelaar.
In sy boek Pleasing God beskryf R.C. Sproul die greep wat die wêreld op ons het:
Die wêreld is 'n verleier wat gedurig op ons aandag en toewyding aanspraak maak. Dit bly so naby, so sigbaar, so verleidelik dat ons prentjie van die hemel in die skadu gestel word. Ons aandag word gevange geneem deur dit wat ons sien. Ons oë word verlei as ons hulle nie op 'n beter wêreld rig waarvan God die Bouer en Maker is nie. Ons word deur die wêreld behaag - die meeste van die tyd, in elk geval - en ongelukkig lewe ons dikwels om die wereld te behaag. En dit is waar die konflik inkom, want dit gebeur nie sommer dat 'n mens God en die wêreld tegelyk kan behaag nie.
Ons woon in 'n wêreld van kompromieë - in 'n samelewing waar morele standaarde en Christelike beginsels ter wille van gerief of pragmatisme opgeoffer word.
Die onderliggende filosofie is dat doelwitte ten alle koste bereik moet word. Hierdie selfgesentreerde perspektief behoort as leuse te hê: "As dit vir jou werk, doen dit" - 'n ingesteldheid wat onafwendbaar tot die kruisiging van jou gewete en oortuigings lei.
Omdat kompromie so algemeen in ons samelewing voorkom, kan daar gesê word dat ons nie meer 'n nasionale gewete het nie; skuldgevoelens en berou speel nie meer 'n bepalende rol in ons gedrag nie.
Politici wat die hoë ideale moet handhaaf, baan die weg wanneer dit by kompromieë kom. Tydens verkiesingsveldtogte belowe hulle verhewe standaarde en hoë ideale, maar sodra hulle aan bewind kom, word daar nie net allerhande toegewings gemaak nie; daar word blatant gelieg oor hulle motiewe. Dit geld ook in die sakewêreld, van uitvoerende direkteure tot verkoopspersone; in die howe, van regters tot prokureurs; in die sportwêreld, van borge tot atlete; op alle lewensterreine. Gevolglik leer ander mense ook hoe maklik dit is om te lieg, bedrieg, steel en die waarheid te verdoesel - enigiets wat nodig is om te kry wat hulle wil hê. Kompromieë word dus 'n lewenswyse.
Ongelukkig word hierdie filosofie van kompromieë ook in die kerk gesien. Aangesien verdraagsaamheid die heersende ideologieë in ons samelewing is, volg die kerk 'n soortgelyke benadering om verlore mense te bereik. Baie kerke soek maniere om die evangelie aan mense te bring sonder om hulle aanstoot te gee of te beledig. Maar die feit is: Die evangelie is uiteraard beledigend omdat dit sondaars met hulle sonde konfronteer. Wanneer dit nie gedoen word nie, is hulle besig om aan die wêreld 'n afgewaterde weergawe van God se Woord te gee wat geen ware verandering kan bring nie.
Wat individue betref, word hierdie inskiklike gees op interpersoonlike vlak gesien. Jy het dalk die geleentheid gehad om met ongelowiges oor Christus te praat, maar omdat jy geՙïntimideer gevoel het of nie genoeg selfvertroue gehad het nie, het jy stilgebly. Dalk het jy net effens aan die Here se Woord gewysig rakende 'n sekere etiese saak by die werk of tussen jou vriende en het jy jouself oortuig dat so 'n kompromie noodsaaklik was om jou geloofwaardigheid as werknemer of vriend te behou. Tog berus jou getuienis as Christen op jou volkome toewyding aan God se Woord as die hoogste gesag - maak nie saak wat die gevolge is nie. God wen die uitverkorenes vir die koninkryk deur Christene wat van die wêreld verskil - wie se trou deur hulle verbintenis en gehoorsaamheid aan God se standaarde sigbaar word. Die teenkanting wat ons in die verband van die wêreld ervaar, maak dit moeilik om so te lewe.
Ons ontvang die volgende opdrag uit die Woord: "Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie" (Rom. 12:2). Maar die wêreld wil ons as vennote hê. Ons word aangespoor om aan die volheid daarvan deel te neem. Dit is die swaarste groepsdruk denkbaar. ([Wheaton, III: Tyndale House, 1988], 59)
Die kerk is nou al so gekonfyt wat hierdie kompromieë met die wêreld betref dat dit vergeet het hoe om kompromisloos of ontoegeeflik te wees. Die rede hiervoor is dat ons die wêreld se waardestelsels so geredelik aanvaar. Ons het ons in so 'n mate aan hulle oorgegee en hulle selfs verpersoonlik dat hulle nou ons begeertes geword het. God se standaarde word in wese deur ons s'n vervang.
Die Woord verwag van ons die teenoorgestelde as inskiklikheid. Van die begin tot die einde van die Bybel word ons aangesê om nie deel aan die wêreld te hê nie.
Tydens die vestiging van Israel as volk het God die beginsel van afsondering in die volk se daaglikse lewe ingeweef. Hulle godsdienstige gebruike het as beskermingsmaatreël gedien om te voorkom dat hulle as 'n unieke volk (Deut. 14:2) met die heidene meng.
Net so vra God van al sy kinders om hulle af te sonder (1 Pet. 2:9). Wanneer ons in die versoeking kom om kompromieë te tref, moet ons ons net daaraan herinner dat God nooit sy waarhede en beginsels ter wille van gerief inboet nie. Hy lewe altyd volgens sy Woord. Psalm 138:2 lees soos volg: "U het u Naam en u Woord bo alles gestel." God het Hom tot sy Woord verbind, en as sy kinders moet ons dieselfde doen.
As jy God se Woord as die hoogste gesag beskou, baan dit die weg vir integriteit in plaas van toegeeflikheid.
Integriteit is nerens so belangrik soos in die leierskap van die kerk nie, want die geestelike leier moet deur sy integriteit 'n geloofwaardige voorbeeld vir die gelowiges stel. Tog is daar baie leiers wat integriteit kortkom en uiteraard huigelaars is.
Ons Here het geen geduld met die mense nie. Die skrifgeleerdes en Fariseërs het Jesus se skroeiende veroordeling van hulle skynheiligheid by verskeie geleenthede verduur. Hy het van hulle gesê: "Hulle doen self nie wat hulle sê nie" (Matt. 23:3). Dit is 'n gebrek aan integriteit - hulle het volgens 'n sekere moraliteitstandaard gelewe terwyl hulle ander mense aangesê het om 'n ander standaard na te streef. Nadat Jesus verskeie oordele oor hulle aangekondig het, lewer Hy sy finale slag: "Julle slange, addergeslag! Hoe sal julle ontkom aan die straf in die hel?" (v. 33).
Maar God belowe sy seën aan mense met integriteit. Nadat Salomo die Here se tempel gebou het, het die Here aan hom verskyn en gesê:
"Ek het jou gebed en jou smeking wat jy tot My gerig het, verhoor.
Ek heilig hierdie tempel wat jy gebou het, sodat my Naam altyd daar sal wees. Ek sal altyd daarvoor sorg en daaraan dink. En jy, as jy soos jou vader Dawid opreg en met oorgawe voor My leef en alles doen wat Ek jou beveel en my voorskrifte en bepalings nakom, sal Ek jou heerskappy oor Israel bestendig. So het Ek jou vader Dawid belowe: Daar sal altyd iemand uit jou nageslag wees om oor Israel te regeer." - 1 Konings 9:3-5
Die slotsom is eenvoudig: dié wat 'n lewe van integriteit lei, sal die Here se seën geniet; dié wat dit nie doen nie, sal deur Hom vervloek word, veral persone wat leierskapsposisies beklee.
Integriteit is noodsaaklik as 'n persoon God en Christus in die wêreld wil verteenwoordig. Indien ons karakter en optrede nie van volkome toewyding aan ons Here getuig nie, is ons besig om 'n kompromie met die wêreld aan te gaan. Ongelukkig maak welmenende Christene dikwels die fout om te ver in die teenoorgestelde rigting te beweeg - om die Bybelse gedragsreëls sonder die regte innerlike motivering na te kom. Dit is ook skynheiligheid.
"Wie mag vertoef in u tent? Wie mag woon op u heilige berg? Hy wat opreg wandel en geregtigheid doen, en wat met sy hart die waarheid spreek" (Ps. 15:1-2,1953-vertaling).