ONS WÊRELD VAN KOMPROMIEË

Lees reeks by Ons wêreld van kompromieë

Die prys van kompromie

Daar is vandag 'n groot tekort aan mense met onbuigsame standaarde. Mense is in ons moderne lewe ook heeltemal tevrede met onbybelse idees wat hulle gemak voorop stel en hulle sondes regverdig of verskoon. Hulle verwerp enigiemand wat van hulle rekenskap wil eis oor leerstellings en morele standaarde wat hulle as oudmodies en irrelevant beskou.

Baie sogenaamde Christene verkondig hulle morele standaarde en hulle onkreukbare karakter, maar laat vaar hulle oortuigings wanneer dit voordeliger of geriefliker is om 'n kompromie aan te gaan. Die kerk is vandag vol geestelike babas wat soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars hulle met slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer (Ef. 4:14) - die teenoorgestelde van 'n geestelik volwasse Christen.

Ons sien dit ook aan die aantal kerkgangers wat van kerke verwissel – hulle weet self nie wat reg en verkeerd is nie, daarom vertoef hulle soms lank in een kerk en vertrek oornag na 'n volgende kerk wat dinge anders doen. Hierdie onstandvastigheid dui op die onkunde en onsekerheid wat binne hierdie mens heers – 'n geestelike onvolwassenheid wat verhoed dat hy seker maak wat reg en goed in die oë van God is en dan daarby vasstaan. Geestelike babas loop gedurig die gevaar om deur enige nuwe godsdienstige gril meegesleur te word. Omdat hulle nie in die Here se waarheid geanker is nie, is hulle vir elke soort skynwaarheid vatbaar - of dit nou humanisties, kulties, heidens of demonies is.

Net soos gesinne, word baie kerke vandag deur hulle kinders gedomineer. Hoe tragies dat die kerk se onvolwasse gelowiges onder die invloedrykste leraars en leiers tel.

Die uitdrukking dat elke mens vir die regte bedrag gekoop kan word is vandag dalk meer van toepassing as ooit tevore. Dalk herken jy een of meer van die volgende:

•    Mense sê dat hulle in die Bybel glo, maar behoort aan kerke waar die Bybel nie as hoogste gesag verkondig word nie.

•    Mense stem saam dat sonde gestraf moet word, maar nie as daardie sondes deur hulle kinders gepleeg word nie.

•    Mense veroordeel korrupsie totdat hulle die baas moet gaan konfronteer en hulle dalk hulle werk kan verloor.

•    Mense handhaaf hoë morele standaarde totdat hulle drange deur verkeerde verhoudings aangevuur word.

•    Mense is eerlik totdat 'n klein bietjie oneerlikheid hulle 'n paar rand sal spaar.

•    Mense handhaaf 'n sekere oortuiging totdat dit deur 'n persoon wat hy bewonder of vrees, in twyfel getrek word.

Ongelukkig is hierdie kompromieë nie uitsonderings nie; hulle het die reël geword. Ons moet egter nie dink dat moderne Christene die enigste meesters in die kuns van kompromie is nie. Die Bybel is vol mense wat kompromieë aangegaan het, insluitend 'n paar van God se prominente dienaars.

•    Adam het God se wet oortree, saam met Eva gesondig en is uiteindelik uit die paradys verban (Gen. 3:6, 22-24).

•    Abraham het die waarheid verdraai deur te jok oor sy verhouding met Sara en het amper sy vrou verloor (Gen. 12:10-12).

•    Sara het God se Woord verontagsaam en Abraham na Hagar toe gestuur. Ismael is gebore en daar sou nooit vrede in die Midde-Ooste heers nie (Gen. 16:1-4,11-12).

•    Moses het God se opdrag geïgnoreer en is die voorreg ontneem om die Beloofde Land in te gaan (Num. 20:7-12).

•    Simson het in sy toewyding as 'n Nasireër gefaal, en het sy krag, sig en sy lewe verloor (Rig. 16:4-6,16-31).

•    Israel het die Here se gebooie in die wind geslaan, in sonde gelewe en die verbondsark verloor toe hulle teen die Filistyne geveg het (1 Sam. 4:11). Hulle het die Here se wet ook met son­de en afgodery oortree en uiteindelik hulle vaderland verloor (2 Kron. 36:14-17).

•    Saul het hom teen God se heilige opdrag verset toe hy nie sy vyande se diere geslag het nie, en het uiteindelik sy koningskap verloor (1 Sam. 15:3, 20-28).

•    Dawid het God se standaard verontagsaam, met Batseba owerspel gepleeg, Uria vermoor en sy babaseuntjie verloor (2 Sam. 11:1-12:23).

•    Salomo het sy oortuigings oorboord gegooi, met vreemde vroue getrou en die verenigde koninkryk verloor (1 Kon. 11:1-8).

•    Judas het sy sogenaamde toewyding aan Christus vir dertig silwermuntstukke verruil en is vir ewig van Christus geskei (Matt. 26:20-25,47-49; 27:1-5; sien Joh. 17:12).

•    Petrus het sy eie oortuigings geskend, Christus verloën en sy vreugde verloor (Mark. 14:66-72). Later het hy die waarheid verdraai sodat hy deur die Jode aanvaar sou word en het hy sy vryheid verloor (Gal. 2:11-14).

•    Ananias en Saffira het die waarheid verdraai oor wat hulle vir die kerk gegee het, vir die Heilige Gees gejok en hulle lewens verloor (Hand. 5:1-11).

Twee temas kom uit hierdie voorbeelde na vore. Eerstens sien ons in elkeen van hierdie gevalle het die persone iets waardevols ver­loor wanneer hulle dit vir iets tydeliks en onbevredigends, vir een of ander sondige begeerte, verruil het. Hoe teenstrydig is dit nie met wat ons in die eerste aflewering ontdek het nie. Daar het ons geleer dat 'n mens iets waardevols (jou redding en verhouding met Christus) verkry wanneer jy dit vir iets waardeloos (jou sonde in eiegeregtigheid) verruil.

Let tweedens op wat in elkeen van hierdie voorbeelde verontagsaam word: òf die Here se Woord, òf 'n opdrag van God, òf 'n oortuiging rondom God. 'n Kompromis beteken dus dat God se Woord verwerp word, en die gevolg daarvan is opstand teen Hom en verheffing van die self as die hoogste gesag.

Dit is vandag die situasie in baie kerke. Selfs in kerke wat eens op 'n tyd werklik evangelies was en waar daar volgens Bybelse standaarde geglo en gelewe is, word God se Woord nou as't ware afgewater aangebied. Soms word die Woord van sy suiwer betekenis gestroop of na 'n plek van sekondêre gesag afgeskuif. In baie kerke wat eens op 'n tyd suiwer leerstellings verkondig het, word sondes wat God uitdruklik en herhaaldelik veroordeel, vandag as aanvaarbaar beskou. Die Woord word dikwels op " 'n nuwe manier" geïnterpreteer om daardie onbybelse beskouings te akkommodeer.

Pragmatisme is in en 'n verbintenis tot Bybelse waarhede word as 'n swak bemarkingstrategie afgemaak.  Die prys wat vir hierdie kompromieë betaal word is so groot dat dit die Christen sy ewige lewe kan kos. Dit het tyd geword dat ons die saak in oënskou neem en met perspektief daarna kyk vir 'n nugtere besluit waarby ons vas sal moet staan wanneer dit geneem is.

Die vraag waarmee jy hierdie ondersoek kan begin:  wat is ek bereid om te betaal vir die kompromieë wat ek aangaan?