Lees reeks by Ons wêreld van kompromieë
Lewe die waarheid
‘n Mens kan nie 'n effektiewe lewe lei sonder 'n deeglike begrip in die Christelike leer nie. Dit is waarom die apostel Paulus die kennis van die waarheid "aan godsaligheid" koppel (Tit. 1:1,1953-vertaling). Later in dieselfde brief skryf Paulus: "Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn. Dit voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe" (2:11-12).
Goddelike waarheid en godsaligheid is onlosmaaklik verbind aan mekaar. Maak nie saak hoe opreg ons intensies is nie, ons kan nie die Here se wil doen as ons nie weet wat dit is nie. Ons kan nie godsalig wees as ons nie weet wie die Here is en wat Hy van sy kinders verwag nie. Godsvrug word uit God se waarheid gebore.
Die Skrifverklaarder D. Edmond Hiebert skryf: "Daar is 'n intieme band tussen waarheid en godsvrug. 'n Lewe wat in die waarheid gelei word, kan nie met oneerbiedigheid versoen word nie. Ware waarheid wyk nooit van die pad van vroomheid nie. 'n Belydenis van die waarheid wat 'n individu toelaat om in goddeloosheid te lewe, is 'n vals belydenis" (Titus and Philemon [Chicago: Moody Press, 1957], 21).
In sy boek Pleasing God verduidelik die teoloog R.C. Sproul hoe belangrik gesonde dogma vir 'n gesonde lewe is:
Ons moet die vals tweeledigheid tussen dogma en leefwyse verwerp.
Dit is wel moontlik om 'n gesonde leer aan te hang ten spyte van die feit dat ons nie 'n heilige lewe lei nie. Maar dit is bykans onmoontlik om 'n godvresende lewe te lei sonder 'n gesonde, suiwer leer, 'n Gesonde leer is nie voldoende om 'n gesonde lewe te waarborg nie. Dit lei nie outomaties tot heiligmaking nie. Maar 'n suiwer leer is 'n noodsaaklike voorwaarde vir heiligmaking. Dit is 'n noodsaaklike vereiste. Dit is soos suurstof en vuur. Die blote teenwoordigheid van suurstof waarborg nie 'n vuur nie, maar sonder suurstof kan daar nie 'n vuur wees nie.
'n Lewe sonder kompromie kan slegs behaal word deur diegene wat aan God se Woord as die enigste bron van gesag en gedrag vashou. In die volgende aflewering gaan ons kyk hoe God se Woord as riglyn jou heiliging kan bevorder.