ONS WÊRELD VAN KOMPROMIEË

Lees reeks by Ons wêreld van kompromieë

INTEGRITEIT IN DIE LEEUKUIL

Om redes wat net aan ons Here bekend is, was Daniël nie by die vuuroond-toets betrokke nie. Baie jare later het die Here egter toegelaat dat Daniël se lewe op die spel geplaas is omdat hy nie bereid was om in sy aanbidding van God te verslap nie. En nes sy vriende, het Daniël hom die woede van jaloerse samesweerders op die hals gehaal wat nie sy hoë standaarde van integriteit kon verdra nie.

Regdeur sy lewe het Daniël die Babiloniërs met sy voortreflike karakter beïdruk. Sy diens aan die staat was ongeëwenaard: "Hierdie Daniël het deur sy buitengewone bekwaamheid so utgeblink bo die ander ministers en die goewerneur-generaals dat die koning van plan was om hom oor die hele koninkryk aan te stel" (Dan. 6:4). Alhoewel die frase "buitengewone bekwaamheid" primêr na Daniël se vermoë verwys het om drome en visioene uit te lê, is dit ook 'n aanduiding van sy volgehoue integriteit en sy voortreflike gesindheid in die uitvoer van sy daaglikse pligte.

Integriteit lok lasteraars

Enigiemand wat as 'n objektiewe buitestander na Daniël se situasie gekyk het, sou verbaas gewees het oor die amptenare se bitterheid en jaloesie teenoor hom. Hy het definitief geen karakterfoute gehad wat enigiemand kon kritiseer nie. Daarom moes Daniël se vyande baie kreatief te werk gaan toe hulle hulle planne teen hom begin smee het: "Ons sal niks teen hierdie Daniël kry nie, behalwe as ons iets kan kry in verband met sy godsdiens" (Dan. 6:6). Met ander woorde, Daniël se ongeëwenaarde integriteit het daartoe gelei dat hy ter wille van dit wat reg is, vervolg is. Hoe ironies dat sy vyande hom slegs op grond van sy volkome toewyding aan God kon inkrimineer.

Daniël se vyande het uiteindelik daarin geslaag om 'n nuwe wet uit te vaardig waarin die volk se lojaliteit teenoor die koning ter sprake gekom het. Hulle het koning Darius, heerser oor die Mediërs en Perse, omgepraat om 'n onherroeplike dekreet uit te vaardig waarvolgens die hele volk verbied word om enige god of mens buiten hom te aanbid (v. 8). Die oortreding van hierdie nuwe wet sou met die dood gestraf word. Dit het Daniël egter nie daarvan weerhou om sy kompromislose gehoorsaamheid aan die Here te handhaaf nie.

Integriteit verbied kortpaaie

Daniël se hoë standaarde rondom geregtigheid en integriteit sou hom eenvoudig nie toelaat om die koning se nuwe dekreet te gehoorsaam nie, selfs al was dit 'n streng dokument wat volgens die bekende tradisies van die Mediërs en Perse onmoontlik gewysig kon word. Ons lees in Daniël 6:11: "Toe Daniel hoor dat die dekreet uitgevaardig is, het hy na sy huis toe gegaan. Sy dakkamer se venster het na Jerusalem se kant toe gekyk en soos sy gewoonte altyd was, het Daniël voortgegaan om drie maal per dag voor sy God te kniel en Hom te prys, te aanbid en te dank."

Onder omstandighede kon Daniël die maklike uitweg gevolg het en versigtiger te werk gegaan het en sy hoë standaarde van integriteit effens verslap het. Maar hy het dit nie gedoen nie. Hy kon aan die veilige kant gebly het en sy daaglikse gebede vir die volgende 30 dae gestaak het, maar hy het aan sy beginsels getrou gebly. Om voor die intimidasie van sy lasteraars te swig en af te wyk van wat reg is, was nie wie Daniël was nie.

Omdat Daniël nie van sy gebedspatroon en toewyding aan die ware God afgewyk het nie, het sy teenstanders hom kort voor lank uitgevang en hom by koning Darius gaan aangee. Op hierdie tydstip in die Bybel word daar niks oor Daniël se reaksie gerep nie. Net soos sy vriende het Daniël nie nodig gehad om homself le verdedig nie. Sy sterk geloof en vertroue in God sou hom deur enigiets dra wat Darius aan hom sou doen.

Integriteit verheerlik die Here

Koning Darius het klaarblyklik groot respek vir Daniël gehad, want hy het 'n aktiewe en verbale besorgdheid oor Daniël se welsyn openbaar. In 'n poging om Daniël kwyt te skeld, het Darius desperaat probeer om 'n skuiwergat in die nuwe wet te kry, maar tevergeefs. Uiteindelik moes die koning hom teësinnig by die wense van Daniël se vyande berus, die wet gehoorsaam wat hy self onderteken het, en opdrag gee dat Daniël na die leeukuil (die plek van teregstelling) geneem word. Darius het egter hierdie merkwaardige stelling gemaak: "Mag jou God wat jy met soveel volharding dien, jou red" (Dan. 6:17). Wat 'n indrukwekkende kommentaar op die krag van Daniël se geloof en die groot indruk wat sy integriteit gemaak het. Darius se woorde suggereer ook dat hy bereid was om die ware God te eer omdat hy Daniël se kompromislose lewe en sy uitstekende diens aan die staat aanskou het.

Daniël het eers weer gepraat nadat God hom uit die leeus se bekke gered het. Daniël het in wese toegelaat dat hy en die Here deur die soewereine verloop van sake geregverdig is:

Daar is 'n klip gebring en op die opening van die leeukuil gesit. Die koning het die opening verseël met sy seëlring en met dié van sy hoofamptenare sodat daar niks aan Daniël se lot verander sou kon word nie. Die koning is na sy paleis toe en het 'n slaaplose nag deurgebring; hy het niks geëet nie en het niks gedoen om die tyd te probeer verdryf nie. Die volgende môre vroeg toe dit lig word, het hy opgestaan en is hy haastig na die leeukuil toe. Toe hy naby die leeukuil kom, het hy angstig na Daniël geroep en vir hom gevra:

"Daniël, dienaar van die lewende God, was jou God wat jy met soveel volharding dien, in staat om jou van die leeus te red?" Toe antwoord Daniël: Mag die koning baie lank lewe! My God het sy engel gestuur om die bekke van die leeus toe te sluit sodat hulle my niks kon aandoen nie, want Hy het bevind dat ek nie teen Hom oortree het nie. Ook teenoor u het ek niks verkeerds gedoen nie, U Majesteit." Die koning was baie bly en het beveel dat Danieël uit die leeukuil gehaal moes word. Toe Daniël uit die leeukuil gehaal is, was daar geen letsel aan hom nie, omdat hy op sy God vertrou het - Daniël 6:18-24.

Wanneer iemand se geloof of integriteit op die proef gestel word, is daar oor die algemeen nie hierdie soort onmiddellike gelukkige einde nie. Job was die eerlikste, regverdigste mens van sy tyd, en tog het God toegelaat dat Satan hom teister. Jesaja het in God geglo, maar hy is middeldeur gesaag. Stefanus was 'n toegewyde diaken en prediker van die evangelie, en tog is hy gestenig. Paulus het op die Here vertrou, en tog is hy gevange geneem en uiteindelik onthoof. Nes Daniël, het al hierdie gelowiges getroue lewens gelei. Elkeen het sy roeping vervul en alleenlik daarna gesmag om die Here se wil te doen, hetsy in lewe of in sterwe.

Menslik beskou is dit onmoontlik om die krag van 'n lewe en bediening te bepaal wat op integriteit en deugsaamheid gebaseer is. In die volgende aflewering gaan ons dieper insig in die waarde van so 'n lewe verkry deur na nog een voorbeeld te kyk - die apostel Paulus.