Lees reeks by Ons wêreld van kompromieë
KRAG WAT ALLES OORTREF KOM VAN GOD ALLEEN
Ons het deur Danië reeds geleer hoe dit lyk wanneer iemand nie bereid is om sy beginsels terwille van sy aardse voortbestaan oorboord te gooi nie maar juis daardeur sy bestaan verseker het. Ons het daardeur moontlik al die besef gekry hoe ver ons in vandag se moderne lewe afgedwaal het van die standvastigheid wat ons veronderstel was om te handhaaf indien ons op God se genade wil staatmaak om in Suid-Afrika weer 'n korrupsielose Christenowerheid met integriteit te sien regeer. Ons het 'n baie ernstige besluit as individue en as volk om te neem indien ons wil omdraai op die pad van vernietiging hier aan die suidpunt van Afrika. Moontlik kan ook Paulus se lewe vir ons as voorbeeld en motivering dien om daardie stap spoedig en opreg te neem.
Regdeur Paulus se bediening is hy deur mense gekonfronteer wat die evangelie gehaat het en dit vir hulle eie gewin wou verdraai. Die meeste opposisie het van 'n groep vals leraars in Korinte gekom. Hulle het hom daarvan beskuldig dat hy onbekwaam, ongesofistikeerd, onaangenaam en onpersoonlik was. Paulus was dus, teen sy aard, verplig om homself en sy bediening te verdedig. Hy wou nie sy eie beuel blaas nie, maar het geweet dat die evangelie en die Here se Naam verdedig moes word teen diegene wat daarop uit was om die waarheid te verdraai.
Die vals leraars in Korinte het gou besef dat as hulle die Korintiese gelowiges op 'n dwaalspoor wou plaas en in die proses geld, mag en prestige wou bekom, hulle Paulus se integriteit moes vernietig. Aangesien hy die gemeente in Korinte gestig en onderrig het, sou die vals leraars die gelowiges se vertroue in Paulus moes ondermyn as hulle sy lering met hulle eie wou vervang.
As sy opponente in Korinte sy integriteit kon vernietig, kon hulle ook wegdoen met Paulus se bruikbaarheid, vrugbaarheid en vermoë om die Here te dien. Paulus moes dus sy integriteit beskerm. Alhoewel hy sy eie nederigheid in die bediening bely "ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek" (2 Kor. 4:7) - besef hy ook waarop die verdediging van sy integriteit werklik neerkom: dat "die krag wat alles oortref, dus van God kom, nie van ons nie" (v. 7).
'n Basiese doelwit van enige geestelike leier is om die mense se vertroue deur middel van ware integriteit te wen. Nes Paulus, moet 'n leier se gedrag betroubaar en in ooreenstemming met sy woorde wees. Maar sodra dit blyk dat 'n leier in enige bedieningsarea skynheilig is, maak nie saak hoe onbenullig nie, het hy alles verloor waarvoor hy in die bediening gewerk het en is sy goloofwaardigheid daarmee heen. Dis presies wat Paulus gevrees het toe hy die gerugte en leuens van die vals leraars in Korinte aangespreek het.
Paulus het sy tweede brief aan die Korintiers, en sekere gedeeltes in die besonder, gebruik om sy integriteit te verdedig. Een van daardie gedeeltes begin in 2 Korintiers 5:11: "Ons weet wat dit beteken om die Here te dien. Daarom probeer ons die mense oortuig. God ken ons bedoelings, en ek vertrou dat julle ook van ons bedoelings oortuig is." Paulus wou hê dat die kerk, nes God, sy opregtheid in alle dinge moes verstaan en aanvaar.
Toe Paulus met sy verdediging van sy integriteit begin, staan hy nie nog tyd of energie af aan sy eie deugde nie (2 Kor. 5:12) - die Korintiërs was reeds deeglik bewus van sy karaktervastheid en dit wat hy gedoen het. Nietemin, vanweë die verraderlike, volgehoue en dikwels wrede aard van sy vyande se aanvalle, gee Paulus verskeie redes om die Korintiërs van sy integriteit te verseker.
Die eerste rede wat Paulus ter verdediging van sy integriteit aanvoer, is sy "vrees van die Here" (2 Kor. 5:11,1953-vertaling). In hierdie konteks beteken vrees nie "bang" nie, maar "aanbidding" en "ontsag". Dit word in 'n paar Skrifgedeeltes geïllustreer:
Die beginsel van die wysheid is die vrees van die Here, en kennis van die Heilige is verstand - Spreuke 9:10,1953-vertaling
En die gemeentes deur die hele Judea en Galilea en Samaria het vrede gehad; en terwyl hulle opgebou is en gewandel het in die vrees van die Here en die vertroosting van die Heilige Gees, het hulle vermeerder -Handelinge 9:31,1953-vertaling
Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring - 2 Korintiers 7:1,1953-vertaling
As ek die vrees van die Here het, beteken dit dat ek soveel ontsag vir die Here het dat ek heelhartig gemotiveerd is om sy heiligheid en sy diens na te streef. Dit het ongetwyfeld vir Paulus gegeld. Die Here se heerlikheid was vir hom so belangrik dat die blote gedagte om die Here se Naam oneer aan te doen, hom bedroef het. Paulus se intense ontsag vir God was dus rede genoeg om ander mense van sy integriteit te verseker.
Mense vra soms wat die slegste van vals kritiek is. Die ontstellendste en mees onthutsende is dat ongegronde kritiek daartoe kan lei dat ander mense glo dat jy 'n wanvoorstelling van die Here verkondig. Dit is wat Paulus oor die aantygings van die vals leraars in Korinte ontstel het - hy het geweet dat hulle 'n verkeerde beeld van hom aan die Korintiese gelowiges voorhou.
Paulus is deur 'n eerbiedige kennis van God se grootheid gekarakteriseer. Waarom anders sou hy hierdie kragtige uitlating oor God se eienskappe maak: "Aan Hom wat vir ewig Koning is, die onverganklike, onsienlike, enigste God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen" (1 Tim. 1:17)?
Paulus se lewe word opgesom in sy aansporing aan die Romeinse Christene: "Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen" (Rom. 12:1). Sy ontsag vir die Here was volkome, en hy was ontsteld oor die vyande van die waarheid se poging om sy integriteit te ondermyn en sy vermoë om te onderrig en te preek, te bedreig. Paulus het dus gedring gevoel om sy integrileit te verdedig, nie om sy ontwil nie, maar ter wille van die Here.
As ons op hierdie stukkie vasteland verder 'n bestaan wil maak en ons nageslagte sien opgroei, sal ons moet leer om ons integriteit te verdedig maar nie ter wille van onsself nie, wel tot eer van die Here. Daarsonder sal ons hierdie kraglose, donker tyd in Suid-Afrika tegemoet gaan en nie weer die lig aangeskakel sien nie, letterlik en figuurlik.