Lees reeks by Ons wêreld van kompromieë
INTEGRITEIT BESKERM DIE WAARHEID
Vandag is daar net soveel en selfs meer dwaalleraars as in Paulus se tyd. Ons is in baie groot gevaar as ons nie met goeie oordeel luister en praat nie en dit verg besondere integriteit om die waarheid te verdedig, iets wat deesdae raar geword het. Maar enigiemand wat na integriteit streef, kan baat by Paulus se hantering van die verskeidenheid bedreigings waaraan die Korintiërs blootgestel was. Eerder as om in 'n retoriese twisgesprek betrokke te raak en elke punt van kritiek en leuen van die vals leraars te weerlê, het Paulus 'n wyser, oordeelkundiger benadering gevolg: "Ons gee julle juis eerder aanleiding om trots te wees op ons, sodat julle 'n antwoord kan hê vir die wat trots is op die uiterlike en nie op die innerlike nie" (2 Kor. 5:12).
Paulus se besorgdheid oor die kerk in Korinte was heeltemal gegrond (sien 1 Kor. 1:10). En die potensiële gevaar van die vals leraars het sy kommer oor hulle geestelike welsyn opnuut aangevuur. Hy was bang dat die vals leraars uiteindelik meer bekeerlinge en groter invloed in die gemeente sou verkry en dat dit tot 'n ideologiese oorlog tussen hulle faksie en Paulus en sy ondersteuners sou lei. Die vernietiging van die eenheid in die kerk sou ander negatiewe gevolge hê, soos 'n ongeloofwaardige leierskap, geestelike stagnasie onder die gemeentelede en 'n belemmerde uitreik na die plaaslike gemeenskap.
Ten spyte van al die gevare vir die kerk het die apostel geweet dat dit nie verstandig sou wees om hom persoonlik voor sy teenstanders te verdedig nie. In plaas daarvan het Paulus die mense wat hy bedien het, toegerus sodat hulle hom en sy integriteit kon verdedig.
Op die lange duur is dit baie wyser om op hierdie manier vir die waarheid en integriteit te stry as om elke aantyging persoonlik te probeer weerlê. Soos Paulus ontdek het, kan ons herhaaldelik en met die bes beredeneerde, bekwame verdediging van die waarheid en ons integriteit na ons opponente toe gaan. Al wat hulle egter gaan doen, is om ons woorde te verdraai en dit te gebruik om ons verder af te breek.
Dit sal ons meer baat om toe te laat dat ons vriende ons verdedigers is, want die wat iets teen ons het, is nie so geneig om dieselfde teenoor ons vriende te voel nie. Die Korintiërs was ongetwyfeld bekend met Paulus se volgehoue integriteit; dus was daar geen rede om hom nie te verdedig nie.
Paulus het hom tot die broers in die Korintiese kerk gewend omdat hulle eenheid en groei vir hom van kardinale belang was. Aan die einde kon hy die resultate van sy inspanning by die Here laat: "Hy wat roem, moet in die Here roem. Die man wat die proef deurstaan het, is nie die een wat homself prys nie, maar die een wat deur die Here geprys word".
Wanneer jy dogmaties en absoluut oortuig van die waarheid is, sal die wêreld dink dat jy van jou verstand af is. Dis hoe Paulus deur sy teenstanders in Korinte gekarakteriseer is. Sy passievolle ywer en toewyding aan die waarheid was nog 'n rede vir die verdediging van sy integriteit: "As ons in geestesvervoering was, was ons dit vir God; en as ons by ons verstand is, is ons dit vir julle" (2 Kor. 5:13). Dit was nie vir die Korintiese gelowiges nodig om Paulus se kennis te bevraagteken nie - hulle het deur sy prediking tot geloof gekom en onder sy lering geestelik gegroei, met die gevolg dat hulle Paulus liefgehad het en die Here vertrou het. Sy verstandigheid was vir almal duidelik. Maar in 'n poging om Paulus se Skriftuurlike leerstellings met hulle eie selfgesentreerde, vals dogmatiek omver te werp, het die vals leraars en hulle "bekeerlinge" aangevoer dat Paulus beheer van sy sinne verloor het.
Maar die apostel het dit duidelik gemaak dat hy en sy mede- bedienaars tot eer van God "uitsinnig" (5:13,1953-vertaling) was. Die woord "uitsinnig" verwys na sy passie en toewyding aan God se waarheid. Die woord verwys nie na iemand wat klinies versteurd is nie, maar beskryf iemand soos Paulus wat hom dogmaties tot die waarheid verbind het. En Paulus kon meer dogmaties as enigiemand anders wees, want sy prediking was op 'n direkte openbaring van die Here gebaseer.
Paulus se vyande het nietemin aangehou om hom as 'n dogmatiese ekstremis te etiketteer wat verstandelik ongebalanseerd was. Maar soos die apostels by ander geleenthede sou ontdek, het dogmatisme nog altyd 'n negatiewe konnotasie vir die wêreld gehad. Kom ons kyk na wat met Paulus gebeur het toe hy die evangelie met Festus, 'n Romeinse beampte, gedeel het:
"Omdat God my tot vandag toe bewaar het, staan ek hier as sy getuie voor klein en groot. Ek verkondig maar net waarvan die profete en Moses gepraat het: Die Christus moes ly en die eerste wees wat uit die dood opstaan. Daardeur sou Hy aan die Jode en aan die heidennasies die lig bring." Terwyl Paulus hom nog so verdedig, skreeu Festus: "Jy's mal, Paulus! Jou groot geleerdheid maak jou mal" - Handelinge 26:22-24.
Die onbreekbare, goue draad van Paulus se integriteit was weereens duidelik in sy bediening. Hy was ten volle in beheer en by sy volle verstand. Voor Festus in Samaria sowel as by die kerk in Korinte het Paulus met passie en ywer getuig omdat hy geweet het dat die evangeliewaarheid op die spel was. Maar hy het ook geweet hoe om nederig en beredeneerd te wees sodat mense die waarheid sou ontvang en daarvolgens lewe. Uiteindelik het dit op dieselfde saak neergekom: Hy het sy integriteit verdedig sodat hy kon voortgaan om die Here se waarheid ongehinderd te verkondig.