Lees reeks by Ons wêreld van kompromieë
DANKBAARHEID BESKERM INTEGRITEIT
Daar is min van ons wat durf roem dat ons bewustelik niks doen waaroor ons ons hoef te skaam nie. Gewoonlik is dit presies andersom. Te midde van ons skandalige optredes is ons heel bewus daarvan. En juis hierdeur gooi ons alle vrymoedigheid om in dankbaarheid te leef oor Christus se liefde vir ons oorboord, want ná elke skande en skade staan ons soveel te meer skuldig en sien ons minder kans om in eerlike kommunikasie met ons Skepper die saak uit te maak. En dit is waarom die lewe vir ons 'n wins en die dood 'n sterwe is – net die teenoorgestelde as soos ons dit eintlik moes sien: om te lewe moes vir ons Christus Solo Mio beteken, en om te sterwe moes 'n yslike wins wees wanneer ons vooraf kon bereken hoe groot die oomblik sal wees om Hom van aangesig tot aangesig te sien en met Hom saam te leef vir ewig en altyd! En om hierdie gemoedskuif te kan maak, sal ononderhandelbare integriteit verg wat reeds tydens ons aardse lewe teen elke vyandelike aanslag verdedig moet word.
Een van die grootste redes waarom dit vir Paulus so belangrik was om sy integriteit te verdedig, was sy dankbaarheid vir die Verlosser se liefde vir hom. Hy skryf aan die Korintiërs: "Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het" (2 Kor. 5:14). Paulus het sy bediening verdedig en die rykheid daarvan as 'n bewys van sy dankbaarheid aan Christus gebied. Om die intensiteit van sy motivering te benadruk, het Paulus die Griekse woord gebruik wat met "dring" vertaal word. Die eenvoudigste, duidelikste betekenis van hierdie woord is "druk wat tot aksie lei". Paulus se dankbaarheid vir Christus se liefde vir hom het hom onder groot druk geplaas om sy lewe en bediening aan die Here te wy. Die oorheersende rede vir sy dankbaarheid was ons Here se plaasvervangende dood en wat daardie dood vir hom beteken het.
Die kern van Christus se plaasvervanging word in Romeine 5 opgesom: "Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe. 'n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie, selfs nie vir 'n regverdige nie. Ja tog, vir 'n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe. Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was" (v. 6-8).
Christus se dood is betekenisloos as 'n mens nie die plaasvervangende impak daarvan verstaan nie. As Christus nie in ons plek gesterf het nie, sou ons vir ons sondes moes sterf, en dit sou tot die ewige dood lei.
Dit alleen behoort vir ons almal genoeg motivering te wees om integriteit in ons bedienings en alle aspekte van ons lewe na te streef. Almal wat immers in Christus gesterf het, ontvang die verlossende, ewige voorregte van sy plaasvervangende dood (Rom. 3:24-26; 6:8). Dis die gevolgtrekking waarna Paulus in die tweede deel van 2 Korintiërs 5:14 verwys wanneer hy skryf: "Dit beteken dat almal gesterwe het."
Ons Here se plaasvervangende dood is vir ons en Paulus 'n troos en 'n motivering tot dankbaarheid: "Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe, want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins" (Fil. 1:20-21).
Het elkeen van ons, as individue en ook as 'n volk in Suid-Afrika, en nog meer belangrik as 'n volk vir God op hierdie stukkie vasteland, nie rede om te dink waaroor ons skaam behoort te wees wanneer ons voor Hom staan, ná al sy genadebetoning oor ons nie? Is dit nie nou tyd, bo alle tye, om ook met ons hele wese Christus in ons lewe en heel moontlik voor ons binnekort sterwe, te verheerlik nie? Want net dalk, is dit nie net vir ons ewige lewe 'n aanwins nie maar ook 'n wins vir die stukkie tyd wat ons nog op hierdie aarde gegun word! Sy liefde dring ons dan elke dag steeds tot dieper insig.