BRIEFIES VAN JACKIE

Lees by Briefies van Jackie

Vanaand lê ek in my bed en hoor hoe die kallers op die plaas wat gespeen is bulkroep na hulle ma's. En dit het my laat wonder en dink: roep ons nog so na ons God? Mis ons sy warmte en vertroeteling en liefde wat net 'n ouer kan gee? Of het ons as kinders van God waarlik vergeet hoe wonderlik Hy is? Dat Hy ons sal beskerm, voed teen sy bors van liefde en alles sal gee wat ons nodig het nog voordat ons vra? Of onthou ons nog dat geen jakkals of roofdier (ongelowiges) ons sal seermaak nie? Roep ons as volk genoeg uit na ons God? Hoekom is ons nie soos hierdie kalfies wat skreeu en  deur die hele nag en dag roep, dat ons stemme hees raak nie? Hoekom skreeu ons dit nie uit nie? Hoekom het ons as volk net ophou roep en tou opgegee?

Ons moet opstaan, ons moet sing ons moet Jesus se Naam loof en prys; ons moet trots wees en as helder lig vir ons Jesus brand. Hy sal ons hoor! Hy sal uitkoms gee soos Matt 7:7 sê, soek en julle sal vind, klop en vir julle sal oopgemaak word.

 Kom ons gaan soek weer ons God in alles en gehoorsaam Hom; kom ons gaan klop aan elke deur. Kom ons klop aan mense se harte om weer God te vind. Kom ons wees vissermanne vir Jesus. Kom ons toep sy Naam uit met alles wat ons is. Wees trots, jubel en juig vir ons God. Hy hoor ons en uitkoms en wonderwerke lê vir ons oop met sy groot liefde en genade. Hy is met ons elke sekonde.

Liefde

Jackie