Lees dit by Briefies van Jackie
Mens kan so maklik die pad byster raak, en net op die ingewing van die oomblik die verkeerde besluit neem. 'n Mens kan 'n ernstige Christen met die beste hart en bedoelings wees, maar ons almal maak foute en 'n mens bly maar net 'n mens.
Soms val jy so vas in die kloue van wêreldomstandighede dat jy nie helder dink nie - veral met ons land wat nou so in die greep van die ongelowiges is. So moet ons nog harder werk om waarlik ons oë te open, ook ons ore om die regte dinge te hoor en ons mond om dit te sê. Ons moet op God fokus 24 uur per dag, 7 dae 'n week. En dalk moet ons bietjie ons oë toemaak vir al die lelike dinge wat om ons gebeur en begin luister na God se stem wat sagkens na ons fluister.
Daardie Stem wat sê: "My kind, dit wat jy nou gedoen het was verkeerd". Die skuldgevoel wat nie sommer net toevallig in jou is nie, is Jesus wat sagkens sê: "Vat my hand my kind en kom saam met My op die pad wat ek vir jou beplan het". Die pad waar geluk, vreugde en vrede lê. Dit gebeur nie in 'n oogwink nie maar met geduld, geloof en hoop, en baie tyd, om 'n dieper verhouding met ons Pappa God aan te kweek.Psalm 131: Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is. 2 Ek het rus en kalmte gevind. Soos 'n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevrendenheid gevind. 3 Wag op die Here, Israel nou en vir altyd.
Ek het ook nou vrede gevind en besef ek sal altyd net 'n mens wees! Foute sal ek altyd maak. En ek weet solank daardie Stem vir my sê dit was verkeerd en ek voel sleg daaroor, weet ek verseker Jesus is nog aan my sy en Hy veg vir my elke dag en nag.
So wees gerus liewe mens, ons God het jou oneindig lief en Hy smag na jou liefde en om 'n dieper verhouding met jou te hê, met al jou foute en al. Hy vat jou net soos jy is, gebroke en platgeslaan. Hy is ons Potterbakker en Hy sal die gebroke mens omskep in die mooiste, kleurvolste pot wat mense se lewens verryk. Soos koning Dawid met al sy sonde en tog met God se liefde vir hom, so sal ons wees. Kom ons streef dan om meer en meer soos Jesus te word, met ons foute en al.
Kom ons volhard tot die einde toe al val ons 'n duisend maal plat; kom ons streef na ons wenpaa - die Koninkryk van God).
Groete
Jackie