AS DIE STORMS WOED

Lees dit by Briefies van Jackie

Waarom is 'n emosionele storm so 'n oorweldigende op- en afrit in 'n mens se lewe?

Ons as 'n gesin gaan tans deur een van die moeilikste tye in ons lewe. Ek moet sê, elke dag is 'n duisend emosies in een sekonde. 'n Mens bevraagteken dan baie ons Vader, en wonder waarom jy deur die moeilike tyd gaan.  Waarom gee die Here nie uitkoms nie? Waarom antwoord die Here nie my gebede nie? Waarom, waarom...

Maar ek glo vandag soos 'n klein kindjie in die geloof dat 'n mens die lewe soos 'n diamant moet sien. Gelowiges word nou geslyp, geskuur en gesny deur al die ou lelike goed in die wêreld  -mense wat jou verneder, geld- en familiekrisisse, die dood, depressie, ons land en sy mense wat so ten gronde gaan, ongelowiges se druk op ons, werksprobleme ens.

Dit maak oneindig seer, en mens sal altyd die littekens dra. Ek praat nou uit ondervinding: die storm druk 'n mens tot op jou knieë neer tot jy voel jy kan eenvoudig nie meer nie en soms net uitroep en vra: Here wat is die punt van alles?  Maar ek dink ons moet fokus op die groter prentjie van strewe om daardie om daardie kosbare diamant te word - om te skitter, gesuiwer te word vir ons Here, ons siel te versterk en deur die hele groeiproses te gaan.

Dit is wanneer die Here vir jou in Jesaja 43: 2 – 3 sê dat as jy deur die water gaan is Hy by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie, as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Hy is die Here jou God.

Ons is tog op die aarde vir ons Here se plan en doel geplaas; moet ons nie aanhoudend bid en vra dat die Here se wil sal geskied in plaas daarvan dat ons so selfgesentreerd leef nie?

So, lees jou Bybel, maak jou oë toe, begin bid, en fokus op ons Vader wat 'n wonderwerk uit hierdie storm sal voortbring. Word 'n pragtige diamant wat vir Hom skitter, lig gee en ander mense kan raak in sy doel vir jou lewe. Hardloop met alles in jou lewensstorm elke dag na Hom en sê: hier is ek Heer, gebruik my;  versterk my asseblief deur die moeilike tyd en bring my by die lig uit! Wat kan ek vir U doen?

Sterkte vir die week wat voorlê. Niks in die lewe wat die moeitewerd is, is maklik nie. Maar ALLES is die moeite werd.

Groete

Jackie