PINKSTER 2015 (3)

Die Onse Vader

Ds Andrè van den Berg

Mt.6:9-13

3. "...laat u koninkryk kom"

Ons het in die vorige twee gedeeltes gesien dat gelowiges mense is wat God as hemelse Vader leer ken en gevolglik 'n begeerte het dat sy Naam eerbiedig gebruik word.  Nou blaai ons om na die derde bladsy van die ID-boekie met die kenmerk:  Die gelowige begeer dat God se koninkryk sal uitbrei.  Vir gelowiges is dit vanselfsprekend, maar nie vir ongelowiges nie omdat hulle lewe hoofsaaklik om die eie ek draai.   Oral waar die behoefte ontstaan dat God se belange eerste gestel moet word, getuig dit van ʼn ommekeer in so ʼn mens se lewe.   Die eie ek is dood en die Heilige Gees heers in so ʼn mens se lewe.

 n Gelowige is inderdaad 'n nuwe skepsel (2 Kor.5:17) en in ʼn hemelse greep; iets om oor opgewonde te wees – sy hele lewe staan in die teken van die greep van Christus op hom!  Maar, wat is hierdie koninkryk waarvoor gelowiges hul beywer?   Dis al so 'n holruggeryde woord dat ons die wonderlike betekenis daarvan maklik kan misloop.   Dit beteken die erkenning van 'n oppermagtige God wat heerskappy uitoefen – kom wat wil!  En waar oefen Hy sy heerskappy uit?  In die hemel en op aarde.

 En hier op aarde is sy kerk die vernaamste gebied daarvoor.  Jesus Christus kom in mense se lewens in, maak hulle nuut en sonder hulle af.  Dis wat met die uitbreiding van die koninkryk bedoel word: dat al hoe meer mense tot bekering kom en hulle by die kerk van Jesus Christus, wat uit alle geredde mense  bestaan, sal voeg.  God staan aan die hoof van hierdie koninkryk.   In die Bybel leer ons Hom ken as

  1. vol heerlikheid: “Die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan...” (Ps.24:1).
  2. God het majesteit: “Die HERE is Koning; Hy is met hoogheid bekleed....” (Ps.93:1).
  3. God is baie groot: “Want die Here is ʼn grote God, ja, ʼn groot Koning bo al die gode” (Ps.95:3).
  4. God is oral sodat niemand vir Hom êrens kan wegkruip nie: “Sou iemand hom in skuilplekke kan wegsteek dat Ek hom nie sien nie? Spreek die Here.  Vervul Ek nie die hemel en die aarde nie? spreek die Here” (Jer.23:24).
  5. Daarbenewens heers God vir ewig en met groot krag, iets wat Hy ook aan Christus oorgedra het:  “En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee” (Efes.1:22).  Boesem al hierdie dinge nie vertroue by die mens in nie!

Wanneer ons besef Wie hierdie Koning is, besef ons dat Hy tot alles in staat is.  Joh.21 vertel van die dissipels se vrugtelose visvangs een nag op die See van Galilea en die net vol vis op Jesus se bevel.  Dan sê Johannes in verwondering: “... Dit is die Here!...” (vers 7).  Vir God is alles moontlik, selfs om ʼn volk van die heidendom te red!  “...nie deur krag of geweld nie, maar deur my Gees, sê die Here.” (Sag.4:6).   Dis waarom ons Sending en Evangelisasie doen - sodat soveel as moontlik mense met die Evangelie bereik word, hulle hul bekeer en God se koninkryk op aarde groter word.  En dis net moontlik as jy van jouself  wegkyk en daar ʼn opregte honger en dors (behoefte) in jou lewe is dat verlore mense ook Jesus as hul Saligmaker sal leer ken.   Die hartstog vir verloregaande siele is ʼn leemte in kerke vandag.  Baie mense gee terwyl hulself geholpe is, nie ʼn flenter vir ander mense om nie!

 Wat is werklik die honger en dors (begeerte) van jou hart?  Gelowiges s’n behoort 100% van die van ongelowiges s’n te verskil.  Jesus sê in Mt.6 dat die ongelowige mens na aardse skatte honger en dors – kos, klere, besittings ens.  Gelowiges daarenteen dors na die koninkryk van God, dat dit groter moet word.

 By geleentheid verskyn God aan koning Salomo en vra hom wat hy begeer.   God wou hom gee wat hy begeer (1 Kon.3).  Salomo gaan by alles verby – geld, gerief, besittings, ja, alles.  Hy vra van God net een ding: “Here skenk aan my gehoorsaamheid aan U en wysheid hoe om oor u volk te regeer.” Dis mos hoe ʼn gelowige se hart moet klop!   God het aan Salomo 'n blanko tjek gegee en ook al die dinge wat ʼn ongelowige koning sou vra.

 In Mt.6:33 sê Jesus dat ons die koninkryk van God eers moet soek.  God sal vir ons al die ander noodsaaklike dinge byvoeg – dis ʼn wonderlike belofte!   Ons neem God egter nie op sy Woord nie en sloof ons eerder af vir stoflike dinge en dis waarom dit met sommige van ons se geestelike lewe droewig gaan.

 Wat oorheers ons gedagtes en gebede?  Wat is ons hart se dors?  Is dit sake soos persoonlike heiligheid, wandel met God, geestelike deurbrake of dalk die bekering van mense wat sonder God en sonder hoop in duisternis leef – dat hulle met die Evangelie bereik sal word?  Ons lê eerder snags wakker, bekommerd oor die sorge van die lewe – veral oor die dinge wat ons nie het nie.  Of oor ons kinders en/of kleinkinders se wel en weë.   Miskien oor skinderstories of spoke uit die verlede wat maar net nie tot rus kom nie.   Ons is oor die toekoms bekommer, veral die dinge wat skynbaar net nie wil regkom nie.   En kyk waar staan ons – presies waar die ongelowiges staan; ons is oor presies dieselfde dinge as hulle besorgd!

 Jesus vra dat gelowiges hulle vir die uitbreiding van God se koninkryk beywer en nie oor die lewe bekommer nie.   Hy wil hê dat ons moet ontspan.   Die diere en die voëls swoeg en sweet nie en tog sorg God vir hulle.  Is ons nie baie meer werd as hulle nie?  Daarom behoort ons allereers vir die uitbreiding van God se koninkryk te ywer.  Dit moet ons gedagtes en gebede oorheers. Laat dít die dors van ons harte wees.

 Wanneer die Heilige Gees in 'n mens se lewe begin heers, begin die hart al hoe meer na die heerskappy van God dors en ons verlangens met koninkrykinhoud te vul.   En dit gebeur slegs wanneer die Heilige Gees jou die skrikwekkende onheiligheid in die lig van God se heiligheid laat sien.  Kom ons bid God vir 'n geestelike ontwaking in hierdie land van ons sodat God se uitverkorenes gered kan word.  Dis mos wat op die derde bladsy van die Onse-Vader-ID-boekie staan.  Die derde kenmerk van 'n gelowige is dat hy/sy die uitbreiding van God se koninkryk begeer sodat die gelowiges meer en die ongelowiges minder kan word.