PINKSTER 2015 (4)

Die Onse Vader

Ds Andrè van den Berg

Mt 6:9-13

4.   “Laat U wil geskied”

In hierdie Pinksterreeks is ons besig om die Onse Vader gebed uit 'n ander hoek te bekyk, naamlik meer as 'n soort geloofsidentifikasie-dokument.  In hierdie gebed sien ons ses eienskappe bv. iemand wat God die Vader as sy Vader leer ken en begeer dat Hy in sy/haar lewe geheilig sal word.  Daarna is daar die verlange dat die koninkryk van God op aarde groter sal word.  Dit is die eerste drie kenmerke van 'n wedergebore mens soos ook in die eerste drie bedes van die Onse Vader gesien kan word.

Ons kom by die vierde kenmerk: gelowiges is mense wat ʼn behoefte het dat alleenlik God se wil sal geskied.   Hierdie bede is ongetwyfeld die moeilikste bede in die modelgebed want ons sondige natuur wil eerder bid dat ons wil sal geskied!   En nou weet ons uit ondervinding dat die resultaat daarvan alles behalwe aangenaam is - frustrasie, onvrede, ongelukkigheid en verwydering.

  Slegs God se wil bring vir ons vreugde, ja, ʼn stukkie hemel op aarde.   Die hemel is juis hemel omdat God se wil daar geskied. Want daar voer ons Here Jesus steeds die Vader se wil uit, so ook die engele (Ps.103) en die ontslape gelowiges (Openb.5).

Soos wat die wil van die Vader ons lewens beheer, beleef ons reeds hier op die aarde iets van die hemel in ons lewens.  Dis egter geen maklike saak nie want binne-in ons stry en baklei ons sondige aard teen die wil van die Here dat dit klap!   Kyk hoe swaar het ons Here Jesus dit selfs gehad, Een in wie daar geen sondige natuur was nie.  Nogtans het Hy Getsémane-bloed gesweet om net die Vader se wil te laat geskied!    Vir Hom het dit 'n moeilike pad beteken, dié van die kruis.   Die uiteinde van alles was egter die beste van alles. Almal wat die Vader aan Hom gegee het, is deur sy bloed met die Vader versoen.

Ja, om die wil van die Vader te doen, was vir Jesus ʼn moeilike pad.  Dit het egter vir baie uiteindelik die hemel gebring!

Maar wat word presies met die wil van God bedoel?   Hoe weet ek wat sy wil in my lewe is?  Hoe kan ek weet dat Hy my in die alledaagse lewe volgens sy wil lei?   Moet ek maar net alles wat in my lewe gebeur passief as God se wil aanvaar en in alles, hetsy goed of sleg, berus?  Mag ek oor niks opstandig raak nie?   Is dit wat dit beteken?  Nee, om te verlang dat die Here se wil moet geskied, beteken nie dat ek passief moet wees nie.   Dit maak my as kind van die Here juis aktief.   Ek berus nie maar net in alles wat gebeur en aanvaar dat dit die wil van die Here is nie.  Onthou: Christenwees beteken dat die Here met my in ʼn lewende verhouding staan en ek met Hom.   Ek sit nie agteroor in ʼn gemakstoel nie.

Let op Christus se worsteling in Getsémane met die wil van sy Vader.   Hy gee Hom nie gedwee aan die wil van God oor nie.  Hy wíl die wil van sy Vader doen, maar die lydensbeker word te erg!  Nogtans bid Hy: “Nogtans nie My wil nie, maar u wil”.  Dis 'n worsteling!

Daar is nog talle ander voorbeelde in die Bybel soos Hiskia, Abraham en Paulus.  Hulle worstel met die Here en Hy luister na hulle.   Hiskia kry 15 jaar by sy lewe.  Abraham vind by God ʼn geduldige oor.   Paulus word nie verlos van die doring in sy vlees nie, maar ontvang ʼn duidelike antwoord van die Here.   In al hierdie gevalle het God se wil geskied en dit as sulks het rus in siele gebring selfs al was die omstandighede nie so rooskleurig nie.   Hierdie gelowiges het dit wat oor hul gekom het nie sommer net passief aanvaar nie.  Hulle het immers in 'n lewende verhouding met Here gestaan.  Daarom het hulle met Hom geworstel totdat hulle doodseker van sy wil was.  En dis nie altyd maklik nie.

Een ding wat ons moet onthou: wanneer ons bid dat die Here se wil moet geskied, moet ons terselfdertyd ons eie wil prysgee.   Dis immers 'n pad van selfverloëning en met selfverloëning sê jy vir jouself: “Ek ken jou nie”. In hierdie bede bid jy teen jou eie grein in!

Daar is slegs een pad na oorwinning - selfverloëning.  In Mt.16 kon Petrus glad nie verstaan waarom Jesus moes sterf nie.    Hy wou met alle mag verhinder dat dit gebeur.   Maar dit was sy eie wil.  Toe sê Jesus vir die dissipels dat as iemand agter Hom wou aan kom, hy homself moet verloën.  Dit beteken dat hy sy eie wil moet kruisig.  Want, wat baat dit jou dat jy die hele wêreld oorwin, maar aan jou siel skade ly?  Wat help dit jou dat jy jóú sin kry, maar jy verloor die ewige lewe?    Dan het jy niks nie!

Dit laat ʼn mens aan Esau dink.  Hy wou net vir die oomblik genot hê. Sy onmiddellike behoefte moes bevredig word.   Daarom was hy bereid om sy siel vir 'n kooksel lensiesop te verkoop.

Om na die wil van God te verlang, is ʼn erkenning dat sy wil die beste is en smeek die gelowige dat God hom moet help om van harte aan Hom gehoorsaam te wees.   Daarmee smeek ons ook dat God ons sal help om vir ons eie wil te sê: “Ek ken jou nie!” Dit immers wat heiligmaking vereis – ʼn daaglikse verloëning van die eie wil.    Dit alleen bring blydskap en vrede in die hart.  Dit bring as’t ware die hemel tot in ons hart.

Maar hoe kom ons die wil van die Here in ons alledaagse besluite te wete?   Moet ons wag dat God hoorbaar met ons praat soos met Moses uit die brandende bos?  1 Pet. 4:11 is ʼn sleutelteks: “...so moet julle God dan verheerlik deur Jesus Christus.” God se wil sentreer altyd rondom sý verheerliking.  As jy in ʼn moeilike situasie kom, vra jouself die vraag af hoe jy God in hierdie situasie kan verheerlik.

Daarvoor moet jy daagliks met die Woord van God omgaan en dit bestudeer.  God praat met ons deur sy Woord.

Soos wat 'n vlieënier in die nag die ligte weerskante van die aanloopbaan dophou om te sien of hy in lyn met die aanloopbaan is, so hou gelowiges ook die navigasieligte van God se Woord dop om te sien of hulle in lyn met sy wil is.  En as die ligte nie skyn nie omdat dit oor selfsug en eie belange gaan, is ons nie in lyn met die aanloopbaan nie en moet ons van koers verander.