Die Onse Vader
Ds Andrè van den Berg
Mt.6:9-13
5. “ Gee ons vandag ons daaglikse brood”
'n Christen is iemand wat aardse dinge geestelik benader d.w.s. vanuit die geloof. Ons vind dit in die woorde van die teks: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” Met hierdie brood word nie letterlik brood bedoel nie, maar die algemene daaglikse fisiese behoeftes van elke mens. Daar is mense wat meen dat ons die Here nie met ons fisiese behoeftes lastig moet val nie en dat met hierdie brood in die modelgebed iets geesteliks bedoel word - dat Christus self die brood is. Hierdie bede beteken: ” Laat Christus elke dag met ons wees” . Dan is daar ook mense wat hierdie bede oorbodig ag omdat hulle genoeg geld het om dit wat hulle benodig te kan koop.
Beide sieninge is verkeerd. Eerstens verdeel die Bybel ons lewens nie in twee kompartemente op asof daar 'n fisiese en 'n geestelike kompartement is en dat God slegs by die geestelike kompartement betrokke is nie. Nee, God sien ons lewe as 'n eenheid en dat alle gelowiges vir hul daaglikse behoeftes moet bid ongeag hul inkomste of lewensomstandighede.
Derhalwe moet gelowiges die fisiese lewe geestelik benader want, as ons dit nie doen nie, dink ons so maklik dat ons ʼn reg het om van die Here te eis: “Here, ek wil eet, ek mag eet, gee my dus wat ek nodig het.” Nee, net die omgekeerde is waar. Alles is genade. Salomo het ook gedink dat hy ʼn reg op alles gehad het. Hy was immers ʼn skatryk koning wat geen guns van enigeen nodig gehad nie. Tog was hy ʼn soekende mens.
In Prediker skryf hy dat hy alles in lewe beproef het om vas te stel wat die werklike sin van die lewe is. Alles wat hy wou gehad het, kon hy kry, selfs vroue by die dosyne! In Prediker vertel hy wat hy alles in die lewe vir geluk beproef het. In Pred. 1 en 2 noem hy: Wysheid, kennis, studies, wyn, eiendomme, wingerde, vee, silwer, goud en vrouens in menigte. In 2:10 skryf hy: “Alles wat die oë begeer, het ek myself nie ontsê nie”. Alles was egter ʼn gejaag na wind.
Salomo het gedink dat hy, siende dat hy ʼn koning is, ʼn reg op die lewe het. Die gevolg was frustrasie en ontnugtering. Een ding moet ons nie miskyk nie - dwarsdeur Salomo se worstelinge was God heeltyd by hom om sy oë vir die waarheid oop te maak sodat hy rus vir sy siel kon vind. Pred.2:24,25 lees byna asof dit deur iemand anders geskryf is. Dit klink anders as die vorige twee hoofstukke want dit praat 'n ander taal. “Dis nie ʼn goed wat in die mens kleef dat hy eet en drink en sy siel die goeie laat ... Ek het gesien dat dit ook kom uit die hand van God” Dan skryf hy: “Want wie kan eet en wie kan geniet sonder Hom?”
Salomo huldig ʼn geheel ander sienswyse - hy het geen reg op daaglikse brood nie! Daar is nie ʼn goed wat in die mens kleef asof God verplig is om hom van lewensonderhoud te voorsien nie. Ek en jy moet steeds daarvoor bid en God in ons versorging (brood) raaksien. Jesus se verlossing op Golgota het nie net met ons sieleheil te doen nie, maar is ook die kanaal waardeur ons stoflike behoeftes ontvang. Alles wat nie uit geloof is nie, is vervloek. Alles waarin die mens koning staan, is vervloek.
Deur die werking van die Heilige Gees het Salomo op ʼn geheel ander manier na sy daaglikse brood begin kyk en besef dat dit iets is waarvoor gebid moet word. Maar wat beteken hierdie bid vir die daaglikse brood? 'n Gereelde tafelgebed? Of dat ʼn mens niks mag besit nie en elke dag moet bid dat die kraaie vleis moet aandra of manna uit die hemel moet val? Hoe bid ʼn mens vir brood indien jy genoeg geld het om te koop wat jy wil hê? Hoe kan jy van God afhanklik bly terwyl jy self al die nodige vermoë het?
Salomo se ontdekking sê presies wat dit beteken om te bid vir daaglikse brood – ek moet leer om die alledaagse lewe uit die geloof te benader. Daarvoor moet Christus sentraal in my lewe wees – ook in my brood. Ek het geen regte nie. Ook my eet en drink het alles met God se goedheid en genade in my lewe te doen. Niks is vanselfsprekend nie. Ek het nie eens die reg op die lewe as sulks nie, maar eet om Christus ontwil.
So ʼn geloofsuitkyk op die lewe, maak ons denke oor stoflike dinge anders as die ongelowiges s’n. Brood en botter staan nie meer voorop nie, maar Christus. Ek eet nou uit genade. Daarom roem ek nie meer in my vindingrykheid, krag, geld of vermoë nie. My geborgenheid lê nie in my bankbalans en eiendomme nie. Ek doen sake transaksies op ʼn ander manier as ongelowiges. Ek kies my lewensweg op ʼn ander manier. Ek is nou dankbaar vir die eenvoudigste kos op tafel.
Ek word nie meer gedryf deur gierigheid, hebsug of die geluksgodin nie want ek weet dat my hemelse Vader selfs ʼn tafel in die woestyn kan dek! Ek bly steeds vir my daaglikse brood bid, al het ek oorvloed. Al kan ek alles koop wat ek benodig, bly ek bid want ek leef uit die geloof. Christus staan sentraal en nie die brood nie.
Die woorde daagliks en vandag staan nie toevallig daar nie. In die Grieks beteken daagliks letterlik: dit wat ek vandag nodig het - dit wat werklik nodig is. Dis 'n mondvol! Die Here wys vir ons hier op ʼn kenmerk van 'n gelowige - tevredenheid en nederigheid . Ja, ons weet dat God dikwels ver bó dit wat ons nodig het, gee. Dink maar aan die verlore seun wie se pa aan hom 'n partytjie, 'n ring, nuwe skoene en sy ereplek teruggegee het. Dink aan God se verskyning aan Salomo waar Hy vir hom sê: “Ek sal jou ook gee dit wat jy nie gevra het nie.” As God oorskotte gee, is dit sý goedgunstigheid. Ons durf nie daarvoor bid nie. Ons leer om tevrede te wees met dít wat ons wél ontvang.
Die woord vandag is ook beduidend. Waarom verwag ons nie 'n jaar se voorraad van die Here soos die verlore seun wat sy hele erfenis onmiddellik wou hê nie? Hy kan mos gee. Nee, die Here werk vandag nog met ons soos Hy toentertyd met die Israeliete gewerk het toe hulle elke dag se voorraad manna (net die dag s'n) in die oggend moes optel.
Hy bind Hom op 'n daaglikse basis aan hul vas, amper soos 'n ma wat vir haar kind slegs 'n toebroodjie insit skooltoe sodat die kind elke keer weer na háár toe moet terugkom vir nog kos. Gelowiges is nie aan die Here se gawes nie, maar op ʼn daaglikse basis aan die Here sélf vasgebind. Mag die Here aan ons elkeen insig gee om te verstaan wat dit beteken om stoflike dinge geestelik te benader!