Ds Andrè van den Berg
“...maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie - Joh.4:14.
In Joh.4 verlaat Jesus die landstreek Judea op pad na Galilea ongeveer 150 km daarvandaan; ʼn reis wat ʼn paar dae sou duur. Daar was twee paaie na Galilea; die korter een naby Jerigo verby en die langer een deur Samaria. Jesus neem die langer een deur Samaria omdat ʼn heidenvrou tot bekering moes kom. Daar was groot onmin tussen die Jode en Samaritane, ʼn volk wat weens verbastering ontstaan en die rasegte Jode al hulle dae gegee het.
Jesus het laat een middag in Samaria aangekom en doodmoeg by ʼn put net buite die dorpie Sigar gerus. Dit was ʼn baie ou put wat volgens oorlewering deur Jakob 1,500 jaar gelede daar gegrawe is. Omdat Jesus baie moeg was, het Hy die dissipels na die dorp gestuur om kos te gaan koop. Ja, wegneemetes is niks nuut nie. Gelukkig was Sigar Fast Foods nog oop toe die dissipels daar kom!
Terwyl Jesus by die put rus, het ʼn vrou kom water skep; die vrou waarvoor Hy die langer pad na Galilea geneem het. Omdat Israel semi-woestyn is, was putte in die Bybelse tyd van lewensbelang. Sonder water sou jy sterf! Gevolglik was putte ʼn welkome en verkwikkende rusplek vir moeë en dorstige reisigers oppad na hul eindbestemming. Dit was nou ʼn putstop in die ware sin van die woord!
Elke put het ook sy eie verhaal gehad. In die OT lees ons van Hagar wat ná probleme met haar meesteres die woestyn ingevlug het, iets wat aanvanklik na ʼn selfmoordtog gelyk het. Wie so doelloos vlug, verwag niks anders as die dood nie! Toe sy na aan die dood by die put Lagai-Roi kom, gebeur die wonder dat God met haar praat en haar na Abraham terugstuur om vir hom ʼn seun te baar uit wie die Ismaeliete (Islam) sou stam.
Toe Hagar later weer met Sara bots en vir haar seun se lewe vrees, is sy weer die woestyn in. Toe haar kos en water opraak en sy en Ismael wou sterf, het ʼn engel haar na ʼn put gelei om water te kry. God het met ʼn vermoeide vrou by ʼn put gepraat!
By geleentheid moes Eliëser vir Isak ʼn vrou in die landstreek waar Abraham grootgeword het gaan soek. Toe hy daar by ʼn put aankom, het God vir hom Rebekka aangewys. Ja, baie ander dinge het by putte gebeur. In Gen.29 het Jakob vir Ragel ontmoet. Jare later gooi Josef se broers hom in ʼn put waarna hulle hom as slaaf verkoop. Moses ontmoet vir Sippora by ʼn put. Jeremia word deur sy koning in ʼn modderput gegooi omdat hy hom gewaarsku het.
Joh.4 vestig ons aandag by ʼn Samaritaanse vrou by ʼn put; ʼn vrou wat baie onheilig geleef het. Sy was vyf maal getroud en het onkuis met ʼn sesde man saamgebly soos ongelowiges vandag nog doen. Dis duidelik dat saamblyery destyds al as sonde beskou is omdat dit met die huwelik as heilige instelling van God die spot dryf.
Christus se gesprek met die vrou gaan om die tema van water. Sonde maak mense baie dors. In Ps.32 bely Dawid dat dit hom soos ʼn vuurgloed verteer het. Jesus het geweet dat hierdie Samaritaanse vrou geestelik tot die dood toe dors was. Daarom praat hy met haar oor geestelike water. Sy het Hom egter nie verstaan nie omdat Hy nie eens ʼn skepding by Hom gehad het nie. Dan praat Jesus met haar: “...maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie”.
Hierdie belofte geld nog steeds. Net voor die uitstorting van die Heilige Gees sê Jesus: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang...” (Joh.7:37-39). Toe Jesus uit Galilea na Jerusalem teruggekeer het, sê Hy: “Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie” (Joh.6:35).
Die belofte van lewegewende water vloei dwarsdeur die Bybel tot by die vierde laaste vers van die Bybel - Openb.22:17. “En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom: en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet”. Jesus rig hierdie universele uitnodiging aan elke sondaar. Sy put het altyd water. Drink net vandag! “U het die land besoek en oorvloed gegee... die stroom van God is vol water...” (Ps.65:10).
Hoe word sondaarmense gered? Deur uit die put van verlossing te skep. Soos water die woestynreisiger van ʼn gewisse dood red, red die lewende water sondaars van ʼn gewisse geestelike dood en die ewige hel.
Tydens Pinksterbidure bid ons God om ʼn vervulling met die Heilige Gees. Let wel – ʼn vervulling en nie ʼn herhaling van dit wat op Pinksterdag in Jerusalem gebeur het nie. Die Heilige Gees is eenmaal eens en vir altyd uitgestort. Ons kan nie vir nog ʼn uitstorting bid nie, maar wel vir vervulling!
Pinkster bied ons die geleentheid om ons emmers in die koel put van God se genade te laat saak en na hartelus te drink. Soos water diegene wat byna sterf van dors se lewe red, red die water van die lewe sondaars van ʼn ewige dood. “Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei” (Joh.7:38).
Let op wat hier staan – gelowiges word self ʼn bron van lewende water. Maar dis net moontlik indien gelowiges ononderbroke met die Hoofbron verbind bly. Daarom is Pinkster vir beide gelowiges en ongelowiges belangrik. Vir ongelowiges om by die put uit te kom en vir gelowiges om sorg te dra dat hulle aan die Hoofbron gekoppel is.
Om dood van die dors te wees en water wat aangebied word te weier, is nie net dwaas nie, maar fataal! Dis wat Juda net voor die Babiloniese ballingskap gedoen het: “Want my volk het twee verkeerde dinge gedoen: My, die fontein van die lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie” (Jer.2:13).
Wat het u hierdie Pinkster gedoen? Van die fontein van die lewe geskep en tot verkwikking gedrink of dit geweier? Luister wat sê iemand in die Bybel wat dit geweier het: “... Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam” (Luk.16:24).
Mag ons hierdie Pinkster uit die fontein van die lewe geskep en gedrink het soos nog nooit tevore nie. Mag God ons genade gee dat nie een van ons in die hiernamaals sal verlang na een druppel water om ons tong mee af te koel nie!
Amen!